As mens terugkyk – verloor jy spoed!


Daarom wil ek nie terugkyk op 2011 nie want dit wat in 2011 gebeur het, is verby, nada, klaar, vergete, in argiewe – ‘n hoofstuk wat afgesluit moet word en vanaand, om middernag, met ‘n lekker glas sjampanje afgesluk gaan word.

Het ek nuwejaarsvoornemens?  Nee wat, die goed hou nie lank by my nie.  Ek sal maar die uitdagings pak soos hulle kom.  Ek sien nie die nut daarin om myself met elstra stressors soos – ek gaan ophou rook of ek gaan gewig verloor of ek gaan gym toe of ek gaan vroegoggend stap – in 2012 in te stuur nie.  Ek glo 2012 sal met sy eie probleme, hindernisse en stressors vorendag kom en ek gaan hom beslis nie voorspring nie.

Maar, 2012 kan ook baie opwinding inhou, nuwe mense, geleenthede, suksesse en vele meer.  En dit is waaraan ek gaan vashou – die positiewe (my nie-betalende huurder sê juis ek het ‘n P-houding en ek is seker die P staan vir Positiewe) dinge wat op my wag.  Dis waarna ek uitsien in 2012.

Ek wens vir almal vir wie ek ken (friends and foes) ‘n uitmuntende 2012!

Mag daar altyd vir jou ‘n skouer wees om op te huil,

‘n oor wat luister … en verstaan.

Mag daar altyd iemand wees wat hand uitsteek

om jou oor die lewe se hindernesse te help.

Mag daar altyd iemand wees wat saam met jou

jou laste dra.

En as daar nie iemand is om klippe uit jou pad te rol nie,

mag God se Engele jou dra dat jy nie jou

tone teen die klippe beseer nie.

Mag daar altyd iemand wees wat jou vertroos,

iemand wat jou bystaan,

iemand wat kan deel in jou hartseer,

iemand wat jou vreugde saam jou kan vier,

mag jy nooit eensaam wees en verstote voel.

Mag jy elke dag die skoonheid om jou raaksien.

Mag jy elke dag die musiek van die lewe om jou hoor.

Mag jy elke dag liefde om jou voel en ervaar.

Mag jy elke dag se warm geure inasem.

maar bowenal …

Bid ek, dat die Here jou mildelik en oorvloedig seën.

 

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Die ‘stepping stones’ in mens se lewe …


All misfortune is but a stepping stone to fortune.
— Henry David Thoreau

Ek het al baie keer hierdie ‘quote’ vir my kinders aangehaal, sonder dat ek geweet het daar is so ‘n ‘quote’. Maar ek haal hom nie so aan nie. Ek sê altyd vir hulle, alles in die lewe is slegs ‘n ‘stepping stone’ na die volgende ding.  Soos bv. toe my oudste sy eerste werk gekry het. In die begin was alles goed, maar later het hy begin kla.  Dan  het ek vir hom gesê, die werk is net ‘n ‘stepping stone’ na iets beters.  Iets om op jou CV te skryf wanneer jy na beter werk begin soek.

Ek dink mens kan dit op alles in die lewe van toepassing maak.  Ons het tog almal al geleer dat niks ooit dieselfde bly nie.  Mettertyd verander dinge, verhoudings kry ‘n nuwe dimensie soos – verlief word lief, of kwaad verander in ‘n vyand of vriendskap verander in ‘n dieper verhouding.  Die lewe is maar net so.  Niks bly dieselfde nie.  Daarom is alles bloot ‘n ‘stepping stone’ na die volgende dimensie.

Natuurlik kan jy, wanneer jy op die ‘stepping stone’ staan, besluit of jy ‘n tree op na ‘n beter dimensie gaan gee, of ‘n tree af na ‘n slegter dimensie.  Ons het almal die vermoë om te kies.  Partykeer besluit ons, ons is so tevrede met ons huidige ‘stepping stone’ dat ons nie ‘n verdere tree gaan gee nie.  Dis wanneer ons ons gemaksone gevind het.  Dis daar waar ons gemaklik met onsself is, tevrede met omstandighede en oor die algemeen is alles so na aan ‘perfek’ as wat kan kom.  Maar dan begin dinge in die lewe ons druk, dalk ‘n finansiële las, of ‘n emosionele verlies, ‘n nuwe werk, ‘n nuwe verhouding … maar ons klou halstarrig vas aan daardie gemaksone, want ons raak bang vir wat om die draai vir ons wag.  Ek self is ook maar skuldig daaraan.  Ek hou nie baie van verandering nie en verrassings – vir my – is maar op hul beste nie iets wat ek van hou nie.  Ek hou bloot net nie van goed wat my gemaksone bedreig nie.  Maar miskien moet mens hierdie dinge sien as nuwe geleenthede om dalk beter te doen – of dit nou finansieël of emosioneel is – en dit aangryp.  Partykeer moet mens net mens se oë toeknyp en daardie tree vat want miskien maak dit ‘n hele nuwe wêreld vir mens oop. ‘n Nuwe wêreld met nuwe uitdagings, nuwe vriende, nuwe werk of dalk net meer kennis sodat jy die volgende ‘stepping stone’ beter kan betree.

Ek is vandag net dankbaar dat ek wel die treë geneem het na nuwe ‘stepping stones’ wat hierdie afgelope jaar vir my uitgepak was.  Party het ongekende hartseer gebring terwyl ander weer nuwe mense in my lewe gebring het en my lewe op soveel maniere verryk het.

Ek hoop dat die nuwe jaar baie goeie en positiewe ‘stepping stones’ in ons almal se lewenspaadjie sal pak, maar as daar ‘n negatiewe ‘stepping stone’ uitgelê is, hoop ek dat die ‘stepping stones’ wat ons reeds geloop het, ons sal help om die negatiewe ‘stepping stone’ met moed en oortuiging aan te pak sodat ons vinnig kan aanbeweeg na iets beter.

Motivering


As mens die lewe leef, kry mens so nou en dan ‘n dag of tyd wanneer jy ‘down’ voel en op hierdie blog wil ek poog om klein stukkies motivering te deel.  Ek is nie ‘n guru nie, ook nie ‘n graadbelaaide individu nie, net ‘n gewone mens wat elke dag vat soos hy kom en probeer oorleef na die beste van my vermoë.

Ek lees omtrent elke dag iets wat my motiveer, en dit is wat ek hier wil deel.  Partykeer motiveer dit wat ek lees my werklik, ander kere maak dit nie sin nie, of partykeer is ek net nie ontvanklik vir die ‘raad’ nie.  Maar deel gaan ek dit deel, want wat is ‘n blog nou anders as om te deel wat ons deurmaak?

Die motivering stukkies is nie uit my eie pen nie, maar ek gaan dit interpreteer en probeer om dit vir die spesifieke dag toe te pas en dan kyk of dit werk.  Ek is nie ‘n groot voorstaander van hierdie ‘self-help’ boeke nie, want meeste van die tyd is van dit goed totaal en al onhaalbaar en verwag van ons om amper perfek te wees.  Wie wil nou perfek in ‘n onperfekte wêreld wees?  Jy sal mos soos ‘n seer vinger uitstaan!

Iederwel, julle het my afgelope jaar saam met my gedeel, die vreeslike ‘ups’ en dan die geweldige ‘downs’ en deur dit alles probeer mens maar net sin maak … met die motivering gedeelte van my blog, gaan ek poog om teen die einde van die jaar 2012 ‘n ‘Wow’ oomblik te beleef en werklik sin te maak uit dit wat ons ‘lewe’ noem.

Kersfees kom, Kersfees kom,


Ons het sopas ons kar se neus in die rigting van Carletonville gedraai. Die telefoonpale swiep-swiep by ons verby en hier en daar val ‘n verdwaalde druppel van ‘n onlangse reenbui, op die voorruit.

Ek het nou net Son se inskrywing gelees en my hart het sommer so koud geword toe ek lees van die seuntjie wat dood is en ek wonder oor alles waarop hy gaan uitmis. Al sy ma se drukkies en soentjies en sy pa wat saam met hom bal speel, kersgeskenkies, eerste kalwerliefde, dalk kaptein van die eerste rubyspan … soveel moontlikhede in ‘n paar oomblikke uitgewis!

Kersfees is ‘n tyd vir gee. Nie net persente nie, maar van jouself ook! Dis ‘n tyd wanneer mens kan regmaak en om verskoning en vergifnis kan vra. ‘n Tyd waarin ons liefde kan gee en ander se laste ligter kan maak. ‘n Tyd waarin mens kan besin en ons ons norme en waardes kan ‘reset’, omdat mens baiekeer daarvan vergeet in ons dolle gejaag vir oorlewing.

Mag hierdie Kersfees nie onbenut verbygaan nie en vir elkeen wens ek ‘n Kersdag vol liefde, vrede en vreugde. Mag hierdie dag wat ons as Christus se verjaarsdag vier, jou herinner dat jy spesiaal, uniek en van groot waarde is! Onthou dat God sy enigste seun gegee het sodat jy die ewige lewe kan be-erwe en daar is geen groter geskenk as dit nie!

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Is jy koud, lou of vuurwarm?


Dis nou ‘n speletjie wat deur die ander b(l)oggers begin is.  Hier is Maankind sin …

Mens wonder baie keer wie skuil agter ‘n blog of ‘n Facebook Profiel.  Daar is partykeer meer bespiegelings en gissings as wat daar onvoorwaardelik aangeneem word dat die persoon eintlik net is wie hulle (sê hulle) is.

Ek het baie vooropgestelde idees oor mense op Facebook, Litnet en Facebook.  En glo my, ek was meer aangenaam verras as iets anders – toe ek van hulle ontmoet het.  Party was baie nicer as wat hulle profielle weerspieël het, ander was ‘n bietjie meer sigbaar, ander ‘n bietjie ouer ens, maar definitief oor die algemeen het ek nog net oulike mense ontmoet en met van hulle wonderlike vriendskappe opgebou.

So ….

“For one day, and one day only” kry jy ‘n kans om jou prentjie van Maryke te toets.  Jy maak ‘n stelling en ek sal dan sê of jy Koud, Lou of Warm is.

Bv Hou jy van Boney M?

Nou warm … want dis Kersfees, die res van die jaar … ysflippenkoud 😀

Hier is die link na my Facebook Profile … as jy my eers ‘n bietjie beter wil leer ken.

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Verandering is nie altyd maklik nie …


Facebook verander weer!  Maar ek is baie opgewonde daaroor want die veranderinge lyk mooi!   Wat vir my die lekkerste van die verandering is, is dat mens nou ‘n ‘banier’ bo aan jou profiel kan sit (maar jy mag nie adverteer nie!) sodat mense ‘n beter prentjie van jou kan kry.

Ek het hierdie opgesit:

en ek kan nie wag om te sien waarmee mense vorendag gaan kom nie!  As julle myne op my Facebook Profile wil sien … https://www.facebook.com/marykekie

MAAR ek kan ook nie wag om al die ‘moans and groans’ te hoor van almal nie.  (On)gelukkig verander dit blykbaar permanent 23 Desember na die nuwe ‘timeline’ en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie!

 

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Sewe sondes …


Jip, ek is ge’tag’ deur Kouevuur om my sondes hier op my blogplek te kom uitblaker …

Ek het baie meer as sewe sondes, maar ek deel maar selektief in die kuberruim want hier sluip mos gure karakters rond wat net wag vir ‘n stukkie skindernuus om oor te dra aan die ander sluipers.

Sonde nr 1:  Ek is altyd op ‘n flippen dieët.  Ja, dis nodig want agv gene is ek geneig om maar redelik aangepleister te raak.  MAAR wanneer Vrydag se oggendsonnetjie sy ogies so oor die horison gooi, dan weet hierdie ou lyf van my dis tjoklit tyd.  Dis wanneer ek vir my ‘n slab tjoklit sal koop en dit blokkie vir blokkie opsuig.  Heerlik.

Sonde nr 2: Ek rook nie, ek stook.  Wel … in die laaste tyd agv die uitbranding en chemiese wanbalanse het die rook in stook verander.

Sonde nr 3: Ek het nie ge-oefen om ‘n rebel te wees nie … ek het geweet hoe.  Van my std 5 jaar was skoolwerk heel laaste op my prioriteitslys en toe ek (uit pure desperaatgeid van my ouers se kant af) in die koshuis geplaas is, het ‘slip’ eerste op my prioriteitslys verskyn en lank daar gebly tot ek omtrent my rekordeksamen gepluk het.  My ma se woorde, “Don’t worry Mickey (haar troetelnaampie vir my) you can go back next year and do it all over again,” het my laat besef dat ek nou skouer aan die wiel moet sit en studeer want ek was nie van plan om my matriekjaar oor te doen nie.  12 Jaar van skool was heeltemal genoeg!

Sonde nr 4: Voor ons voorstelling en aanneming in die kerk, het ons ‘n kamp gehad waar ons moes besin oor ons geloof en die gelofte wat ons gaan aflê.  Die goed was natuurlik die verste van my gedagtes.  Ek het saam met die seuns gaan skelm rook, saam met hulle om die vuur gekuier tot laatnag en selfs een aand ‘n biertjie of twee of … geknak.  Natuurlik het dominee my uitgevang en amper sou ek nie voorgestel word nie.  Dit kon ek nie toelaat nie.  Ek het my sondes bely, met meegaande trane en beloftes en gelukkig het dominee besluit om my tog voor te stel en aan te neem in die kerk.  Dis was ‘n baie ‘close call’.

Sonde nr 5: Ek en ‘n vriendin het eendag met ‘dorpmiddag’ van die koshuis – besluit ons was lus vir Wimpy Tjips.  MAAR koshuisbrakke het mos nie geld nie.  Ons hang toe daar voor die Wimpy rond tot ‘n ou paartjie instap.  Ons het hulle vriendelik gegroet, by ‘n tafel langs hulle gaan sit en land en sand met hulle gesels.  Ons het ons bord tjippies bestel (net een wat ons gedeel het – so die sonde is net half) lekker geëet en toe ons klaar is, was ons al so hand om die blaas met die oumense dat die tannie vir ons elkeen ‘n drukkie gegee het toe ons groet.  Toe ons by die deur kom, toe vertel ons vir die dametjie agter die til, “Ons oupa sal betaal.”  Ons is daar uit en ag sjame, die ou mensies moes ons bordjies tjips betaal.  Ek kry tot vandag toe nog so effe skaam oor die een.

Sonde nr 6: Ek speel partykeer games as ek veronderstel is om te werk …

Sonde nr 7: Ek kan nogal bevooroordeeld wees veral as dit by mense se stand van tande kom.  Dit het my al in diep warmwater laat beland.  Maar dis nou een ding wat ek nie kan afsien nie.  Tande moet reg wees!

Ek ken nie 15 mense op af.wordpress.com nie, so ek tag die wat ek van weet.

Maankind

Bileam se Donkie

Slakkelak

Staaltjies

Jeane

Register van Pedofiele … hoe moeilik kan dit wees?


Ek skryf hierdie na aanleiding van Carte Blanche se insetsel.

Daar is twee registers van Pedofiele wat volgens hulle teen ‘geweldige koste’ beheer word.

En die kersie op die koek … nog groter koste om die twee registers te kombineer in een.

Nou wil ek net weet, hoeveel het dit gekos om slegs 1 (I kid you not) naam op die een register te kry en ‘n indrukwekkende (sarkastisies gestel) 22 op die ander? Net 23 name in totaal terwyl daar blykbaar 30 000 kinders jaarliks seksueel misbruik word?

Watter EKSTRA kostes moet aangegaan word om 23 pedofiel name op 1 pedofiel register te kry?

Hoe lank gaan ons toelaat dat sulke blatante nonsens aan ons opgedis word? Is ons kinders se veiligheid werklik so onbelangrik?

Duisende rande word spandeer om die media se monde te snoer, kriminele soos Selebi te beskerm, jeug byeenkomste te hou terwyl hulle n bespotting daarvan maak … maar ‘n eenvoudige pedofiel register kan nie opgestel word nie?

Hoeveel pedofiele hou vir ons kinders skool, gee vir hulle eksta klasse in kuns, sport en wiskunde, gee vir hulle Sondagskool en is ‘n integrale deel van ons kinders se vormingsjare … en ons as ouers het geen manier om seker te maak dat ons kinders werklik veilig is nie!

Dit ontstel my geweldig om te dink dat ons kinders uitgelewer is en ons leier vee hulle agterstewe daaraan af!!

Die waarde van ‘n tweede opinie!


Die laaste dag wat ek laas hier gepos het, was 27 Oktober 2011 en daardie pos het met groot moeite gepaard gegaan want ek was siek.  Nie naar, griep of piep nie, ek was net pleinweg siek.  Te moeg om te praat, my arms op te lig.  Ek het gesukkel om te slaap, stort en titivate was moeite, ek kon nie dink nie en ek het gevoel my lewe het tot stilstand gekom en ek het nie geweet hoe vorentoe nie.

In hierdie toestand het ek gelukkig besef iets is drasties fout en is na my dokter toe.  Hy het onmiddellik depressie gediagnoseer en vir my pille voorgeskryf.  Ek het dit dadelik begin drink.  Die ‘Antidepressant’ in die oggend en slaappil in die aand.  Maar toe begin ek koud kry.  Nie die gewone ‘run of the mill’ koud nie, nee ‘n koue wat in my binneste kom sit het.  Ek het gebewe en my tande het opmekaar geklap.  Ek het op my tande begin kners.  Nie doelbewus nie.  Ek het net elke nou en dan gevoel my kake is seer en dan besef ek kners my tande.  In die nag het ek wakker geword van die geknersery en het vreeslike hoofpyne gekry.  My gewrigte het gepyn en my voete was so seer dat ek nie in die oggende op hulle kon loop nie.

Weereens is ek terug na die dokter.  Vertel hom van al die simptome en sê “Ek voel net nie myself nie.”  Hy vra toe – ewe vermakerig – “Soos wie voel jy dan.”  Ek kon hom nie antwoord nie.  Ek was net te moeg!  Miskien het hy ‘n grappie gemaak – ek weet nie – want my humor reseptors was ook nie lekker nie.  Hy besluit toe om die pille met ander te vervang.

Toe ek by die huis kom, lees ek die biljet wat in die boksie is.  Die newe-effekte is toe sommer al my simptome.  MAAR ek dink toe, hy is die dokter en hy weet beter.  Ek begin toe die goed drink.  Ek ontwikkel toe ook ‘n eetlus wat skrik vir niks.  Die een oomblik is ek so lus vir sout – amper soos iemand wat vir dae in die woestyn geloop het sonder water en dors is – en dan eet ek sout, skaars vyf minute later kry ek ‘n lus vir suiker – so erg dat ek seker Kaap toe sou ry om daardie lus te blus!  Slaap was heeltemal buite die kwessie, ek het sommer twee slaappille gedrink – en steeds gelê en rondrol.  Ek besluit toe om die Antideprisante ook in die aand te drink – want ek reken toe hulle kan dalk help dat ek slaap saam met die slaappille.  Maar dit was ‘n fout, ek kon toe gladnie slaap nie!  Ek het erger gebewe en dit het gevoel asof ek nie deel van die omgewing is nie.  Julle ken daai liedjie “From a distance, God is watching us.” maar in my geval was dit “From a distance, Maryke is watching life”.  Dit het gevoel asof my brein tot stilstand gekom het.  Ek kon nie konsentreer nie, kon nie werk nie en kon ook nie eintlik kommunikeer nie en die ergste is dat ek myself moes dwing om ‘n basiese ding soos stort – te doen.  En dan het ek net daar gestaan en die water oor my laat spoel want ek kon nie die arms lig om enige iets anders te doen nie 😦

Een oggend toe ek opstaan, na ‘n nag van rondrol, was ek heeltemal van balans af.  Trane het geloop, maar ek het nie gehuil nie.  Ek het gebewe soos iemand wat kaal in Alaska staan, maar ek het nie koud gekry nie.  Ek kon kyk, maar ek kon nie sien nie – alles was ‘n blur.  Ek vra toe my man om my asseblief na ‘n ander dokter te vat wat ek van gehoor het want ek het letterlik gevoel ek gaan dood.

Ons is toe na die dokter toe.  Toe ek op die stoel voor haar plaasneem, vra sy wat is fout.  Ek het na my man gekyk … hy het geweet ek kan nie praat nie en het toe vir haar vertel.  Sy het my net een kyk gegee en gesê ek is totaal en al uitgebrand.  ‘n Chemiese wanbalans in my brein agv die erge stress wat ek die afgelope drie jaar ondervind het.  Die mooiste woorde wat sy gesê het was, “Dit is nie jou skuld nie!”

Sy het dadelik die ander pille gestop en ander voorgeskryf wat die wanbalans in my brein herstel en ander wat my help om te slaap.

Dis nou amper ‘n maand later en ek kan onomwonde sê, ek is besig om gesond te word.  Ek kan voel hoe my brein begin werk, ek kan voel hoe ek ‘ligter’ word en ek kan voel hoe alles weer begin sin maak.

Ek het nie die pos geskryf vir simpatie nie!  Dit is geskryf om vir julle te vertel dat ‘n tweede opinie nie te versmaai is nie!  Ek wil ook vir julle sê dat julle moet luister na julle liggame!  Moenie ‘doof’ wees as jou lyf vir jou sê daar is iets fout nie.  En as die een dokter nie kan help nie, gaan na ‘n ander.  Dit kan jou geen skade doen nie.

Hoop julle het almal ‘n geweldige lekker naweek!  En onthou om ‘n tweede opinie te kry as die eerste een nie werk nie!