Create PAIA Manual Online | ABC 2 BEE


Create PAIA Manual Online | ABC 2 BEE.

Advertisements

Onder die vaandel van “Ek is net eerlik” of “Ek is net reguit” …


Ek haat daardie woorde en vermy dit, om vir enige iemand te sê, soos die pes.

Mense het hierdie wanpersepsie dat, wanneer hulle iets vir jou sê wat seermaak en jou ontstel, hulle die impak kan verminder deur te sê, “Ek is net eerlik.”

Hiermee sê ek gladnie dat alles wat iemand sê ge’sugar coat’ moet wees nie.  Maar moet om Vadersnaam nie daardie woorde gebruik omdat jy bloot ongeskik is, of besig is om ‘n redenasie te verloor nie.

Daar is ‘n groot verskil.

“Jy is gans en al te dik vir daardie rok.  Ek is net eerlik.”

teenoor

“As ek eerlik moet wees, moet ek sê dat daardie rok nie by jou figuur pas nie.”

Ek, wat kort en goed aangepleister is, sal die tweede een verstaan en so aanvaar sonder dat my gevoelens seergemaak word.  Maar as jy daardie eerste sin gebruik, dan maak jy onnodiglik seer.

Die woorde “Ek is net eerlik” of  “Ek is net reguit” het al talle verhoudings (vriendskappe en familiebande) skipbreuk laat lei.

Laat ons altyd onthou dat die woorde “Ek is net eerlik/reguit” jou nie die reg gee om iemand se hart uit te ruk en dit fyn en vlenters te trap nie.  Dit gee jou nie die reg om, alles wat jy dink, hardop uit te spreek nie.  Dit gee jou nie die reg om iemand anders se drome te verkleineer en dood te druk nie.

Opregte eerlikheid is dieselfde as opbouende kritiek.  Iets wat die persoon aan die ontvangkant sal laat dink en sy optrede aan te pas of ‘n ander lewenskoers in te slaan sonder om sy persoon aan te tas.  Reguit wees is om iemand met liefde en omsigtigheid reg te help.

My pa gebruik altyd hierdie gesegde: Jy vang meer vlieë met heuning as met asyn, en as mens mooi hieroor dink, is dit waar en ook: ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af.

En die groot waarheid agter die hele ‘takt’ ding is – wanneer jy die dag daardie persoon weer in die oë moet kyk – jy nie jou kop in skaamte sal moet laat sak nie.  Nee, jy sal daardie persoon vierkantig in die oë kan kyk want op die einde van die dag … is ons almal net mense met ons eie verwysingsraamwerke, teerpuntjies en gevoelens.