Waaraan dink jy


as jy so deur die venster staar?

Wonder jy

oor lewe

oor dinge

oor liefde wat stof vergaar?

Waaraan dink jy

as die reën traan teen die ruit?

Wonder jy

oor more

oor gister

al was daar ‘n laaste fluit?

Waaraan dink jy

as jou asem op die glas patroon?

Wonder jy

oor my

oor jou

of jou verlore droom?

Draai weg van die venster

en kyk na my

want na al die wonder

is dit net ons wat bly.

Advertisements

Partykeer wil mens net wegkruip


Ja, vandag is een van daai dae.  Gister het glad nie ongesiens verbygegaan nie en dit het ook nie op ‘n noot van vrede en innige lewensvreugde afgesluit nie.

En vandag voel ek nie lus vir die dag nie.  Ek weet mens moet nie laat ander se woorde en dade mens so beinvloed nie, maar partykeer staan mens net magteloos voor mens se eie emosies en dan moet mens deurdruk.

Ek wil die seer in my hart uitskree
dit uitruk, verkrummel en strooi oor die see!

Ek wil huil en my voete stamp
tot die pyn, die brand uit my hart uitkramp!

Ek wil jou woorde met trane uitwis
maar dis ewig gegraveer op my liefde se kis!

Wat maak ek met my gedagtes warboel?
Met die vrae, die verwyte wat in my kop krioel?

Weet jy nie dat die tong se wrange vrug
liefde, omgee en respek verwrong in ‘n klug?

Plaas voor jou mond ‘n wag …
dink oor jou woorde en maak hul sag.

Voor jy weer jou hart uitwas
verstomp die lem van jou woorde se kras.

Ek het jou lief, dit moet jy weet!
Ek sal jou vergewe maar moeilik vergeet!