Plekkie in die son


Ons wil elkeen ‘n plekkie in die son hê en daar is welliswaar ‘n plekkie vir ons elkeen!

Ons is gebore om ‘n plekkie in die son te hê en ons elkeen se strewe is om daardie plekkie te vind.

Hoekom?

Want ons weet instintief dat dit die plek is waar ons kan groei, blom en ons klein verskil aan die wëreld kan maak.

Baie keer vind ons daardie plek en vir ‘n wyle vertoef ons daar.  Ons groei, ons blare sit uit, ons skiet wortel en ons bloeisels blom.  Maar dan kom die vertwyfelings.  Is ons goed genoeg?  Is ons mooi genoeg?  Is ons maer genoeg?  Is ons slim genoeg?  En wanneer ons daardie saadjie langs ons in ons plekkie in die son geplant het, dan water ons hom met negatiewe gedagtes.  En voor ons ons oë uitvee, het daardie saadjie gegroei in ‘n hemelbesem van ‘n boom wat die son van ons afkeer.  En in daardie ongevraagde koelte kan ons nie groei nie.

Al wanneer ons ‘n bietjie son voel is wanneer die winde van erkenning en waardering deur daai boom waai en die sonstraaltjies so saggies swiep-swiep oor ons gemoed.  Maar dit is altyd kortstondig.

Kort voor lank sit ons maar weer in daardie boom se koelte en bibber!

Daar is twee maniere om van daardie boom ontslae te raak.

1.  Jy kan ‘n ander plekkie gaan soek, jouself verplant en weer probeer wortel skiet op ‘n ander plek.  Maar ongelukkig is dit net ‘n tydelike oplossing.  Want daardie boom wat jy agterlaat, kan weer saad skiet en daardie saadjie gaan weer langs jou land.  Kort voor lank sit jy weer en bibber in ‘n boom se koelte.

2.  Roei daai boom wortel en tak uit!  Kyk jou vertwyfelinge vierkantig in die oë en besweer hulle een vir een.  Kap hom stukkie vir stukkie af deur vir jouself te vertel dat jy iets werd is.  Brand die sade deur weer in jouself te glo.  Elke mens op aarde beteken iets.  Ons het dit elkeen in ons om groot hoogtes te bereik as ons net bereid is om van die bome ontslae te raak.

Jy is geregtig op jou plekkie in die son.  Maar wees versigtig dat jy nie ‘n koelteboom vir iemand anders word nie!

Ek het oor die tou getrap


Ja, soos baie ander vrouens wat die aarde bewandel, het ek ook oor die tou getrap.  Ek was omtrent 20 jaar oud en die lewe was ‘n lied.  Ek was vry en nie meer onder die wakende oog van my ma nie.  Natuurlik het ek alle dinge ondersoek, maar nie altyd net die goeie behou nie.

 

So het dit gebeur dat ek swanger geraak het en toe ek vir die pa van my kind vertel dat ek swanger is, het hy vir my vertel dat hy getroud is.  My drome van ‘n sprokieshuwelik het aan flarde gespat en ek het gesit met die gebakte pere of eerder die brood in die oond.

 

Die senuwees het geknaag en ek moes met die sak patats vorendag kom en voor ek my oë kon uitvee was ek ‘n inwoner van ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders in Pretoria.  Dis nou Tswane vir die wat nie meer kan onthou wat Pretoria is nie.

 

Ek gaan nie vreeslik uitbrei oor wie daar was nie maar ek is ingeboek in ‘n kamer wat ek moes deel met drie ander meisies wat in dieselfde ongehude toestand as ek was.  Ek noem hulle sommer Susan, Annemarie en Poppie.

 

Susan was die stil en sterk een.  Lang donker hare met ‘n glimlag wat die kamer verlig.  Sy was nie ‘n vrou van vele woorde nie, maar sy kon op haar regte staan.

 

Annemarie was giggelrig.  Oor enige iets gelag – ek vermoed dit was maar die senuwees.  Sy was baie skaam oor haar toestand en ook baie hartseer oor die verloop van haar lewe.  Sy het baie planne gehad oor hoe sy haar lewe verder sou inrig.

 

Ons het elkeen ons storietjie gehad.  Susan en haar vriend het besluit om die kindjie te gee vir aanneming aangesien nie een van hulle reg was vir trou nie.

 

Annemarie het uitgevind sy is swanger nadat sy en haar vriend opgebreek het.  Sy het nie kans gesien vir trou nie en was loopbaan georiënteerd en kon nie wag om weer haar loopbaan te hervat nie.

 

Poppie weer het te vertelle dat sy en die pa van haar kind so opgewonde was oor die aankomeling dat hulle dadelik verloof geraak het.  Ongelukkig het haar verloofde toe omgekom op die grens of een of ander weermag verwante ongeluk.  Ek is nie meer seker oor die ware feite nie.  Maar sy het ons besig gehou met al haar stories en natuurlik het ons aan haar lippe gehang.

 

Om in ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders te wees was nie baie lekker nie.  Dit was maar bra vervelig en ons is besig gehou met skoonmaak, kosmaak en so een keer per week kon ons die dorp invaar.  Baie soos koshuislewe sonder die skoolgaan natuurlik.

 

Ons was ook maar almal so op dieselfde stadium van swangerskap en een aand besluit ons, genoeg is genoeg en Poppie vertel toe vir ons dat ‘n bediende op hulle plaas vir haar vertel het dat as mens touspring dan kan dit die geboorte aanhelp.

 

Die volgende dag is ons natuurlik in dorp toe om ‘n springtou aan te skaf.  Daardie aand het ons so al om die beurt tougespring dat die sweet ons aftap.  Maar dit nie gehelp nie.  Ons was almal nog verwagtend die volgende oggend toe ons wakker word.

 

Tydens die middagete vertel Poppie toe vir ons dat sy weet van ‘n vrou wat ons kan help.  Sy het al baie meisies gehelp deur hulle water te breek sodat die geboorte vinniger afgehandel kan word.  Sy het die adres en die foonnommer vir ons gegee.  Vir die doel van die storie gaan ek ‘n fiktiewe adres gee, andersins sal die leser nie verstaan nie.  Burgerstraat 88.

 

Daardie aand is Poppie opgeneem en haar dogtertjie is gebore.

 

Die volgende oggend besluit ek, Susan en Annemarie dat ons nie langer gaan wag nie en dat ons daardie vrou gaan opsoek.  Ons was moeg gewag en het vreeslik ingehok gevoel.  Vrouens sal nou weet waarvan ek praat.  Ons was op daardie stadium wat ons moes nes skrop maar daar was nie ‘n nes om te skrop nie … of so iets.

 

Ons het gemaklike stapskoene aangetrek en gewapen met ‘n padkaart het ons soos wafferse drie musketeers begin stap.  Nie een van ons was werklik bekend met die strate van Pretoria nie.  Maar met die hulp van die kaart het ons wel die straat opgespoor.

 

Ons het daardie straat op en af gestap.  Maar nommer 88 was nêrens te vinde nie.  Normaalweg lê 88 tussen 86 en 90, maar nie in hierdie geval nie.  Nommer 88 was skoonveld!  Ons het later toe by 86 aangeklop en die tannie het aan ons verduidelik dat daar nog nooit ‘n nommer 88 was nie.  Vir een of ander rede het die munispaliteit ‘n fout gemaak toe hulle die straatnommers gemaak het.

 

Mens, maar ons was baie kwaad vir Poppie!  Daar staan ons toe in Burger straat, ons voete seer, ons moed in ons tekkies, ons humeure op ontploffingspunt en niks nader aan geboorte gee as die oggend wat ons die tehuis verlaat het nie.  En sy lê en aansterk in die hospitaal soos die Queen Mother!

 

Ons het gelukkig ‘n geleentheid terug na die tehuis gekry by nommer 90 se eienaar en ons het tot laat in die aand lê en bespiegel oor hoe sy geweet het dat Burgerstraat nie oor ‘n nr 88 beskik het nie.  En so met die gesels deur het ons agtergekom dat daar ‘n hele paar goed oor haar was wat nie gestrook het nie.  Die liggies het so een vir een aangegaan en soos hulle aangegaan het, het ons besef hoe sy ons om die bos gelei het.  Maar hoekom, kon ons nooit verstaan nie.

 

Die dag wat Poppie uit die hospitaal ontslaan is het sy haar goed by die tehuis kom haal.  Die matrone het vir ons kom vertel dat ons almal in ons kamers moes bly en nie mag uitgaan voor sy die tehuis verlaat het nie.  Maar vertel dit nou vir ‘n lot verwagtende dames wat net sit en wag vir iets opwindend om te gebeur.

 

Ek, Susan en Annemarie het agter om die huis gesluip en om die hoek geloer.  Tot ons verbasing het daar ‘n polisie motor gestaan.  Die beampte het die tassie uit haar hand geneem haar geboei en agterin die motor gehelp.

 

Julle kan julself voorstel hoe dit daardie aand gegons het.  Ek weet tot vandag toe nog nie waaroor sy in hegtenis geneem is nie, maar ons het beslis haar stories beter verstaan.

 

Uiteindelik het my beurt ook aangebreek.  My dogtertjie is gebore, die pragtigste grootoog kind met swart haartjies.  Die dag wat ek haar moes groet het ek net lank na haar gestaan en staar en probeer om die prentjie in my gedagtes in te brand.

 

In my hart weet ek dat daar twee ouers op aarde is wat my kind met liefde versorg en ek hoop dat sy dit eendag in haar hart sal vind om my op te spoor sodat my hart ook vrede kan vind.

 

Gelukkige verjaarsdag!