Ek het gisteraand so lekker geslaap toe ek begin droom het van ‘n reusagtige groot tjoklit cupcake!
Die cupcake was perfek hooggerys met die allerlekkerste sagte tjoklit room versiersuiker en afgerond met ‘n blink kersie bo-op.
Ek het eers my vinger deur die sagte versiersuiker getrek en behaaglik daaraan geproe. Die proetjie het my rasend van lus gemaak en ek het groot happe begin vat.
Maar, hoe meer ek gehap het, hoe groter het die cupcake geword! Ek het soos ‘n smulpaap aangehou eet en eet. Ek kon myself nie keer nie.
Later kon ek nie meer nie en dit het gevoel of die tjoklit cupcake in my keel vassit soos peanut butter aan mens se verhemelte klou. Dit het begin voel asof ek nie asem kry nie!
Ek het beangs geraak en hortend na my asem begin snak soos ‘n vis op droeë grond. Ek het gevoel hoe my longe smag na suurstof en ek het begin “Nee! Nee!” skree terwyl ek voel hoe my asemteue al hoe korter word.
Met die laaste bietjie krag wat ek in my gehad het, het ek teen die cupcake begin beur en eindelik van my weggestoot.
Ek was so verlig dat ek plotseling uit my droom ontwaak het!
Die enigste probleem wat ek nou het is … my “Hou op snork” sponskussing het verdwyn!!
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.