Bobotie Frikkadelle


Ek moes die naweek ‘n ‘eie resep’ gee met die kombuistee. Glo my, ek het probeer. Spesiaal kaartjies gekoop waarop ek dit kan skryf. Daar was 5 kaartjies in die pakkie. Een het ek gebruik om ‘n boodskappie op te skryf en die ander vir ‘in case’ ek verkeerd spel. Teen kaartjie nommer vier, moes ek maar in my vriendin se resepteboek induik, ‘n resep uitsny en dit op ‘n amper kreatiewe manier aanbied.

 

Maar vandag plaas ek sommer hier een van my ‘eie resepte’ vir haar om te lees as sy nie weet wat om te maak nie J

Benodigdhede:

  • 1,5 eetlepel (groot eetlepel) chutney – ek gebruik Pynappel blatjang net om bietjie anders te wees
  • 1 eetlepel kerriepoeier – kies maar self die hittegraad
  • ½ eetlepel borrie
  • 1 eetlepel suiker
  • 1,5 eetlepel asyn
  • Sout en peper na smaak
  • 1 sny brood in bietjie melk geweek
  • 1 eier
  • Margarien en olie – as jy wil
  • ½ kilogram goeie maalvleis
  • Broodkrummels

Metode

Rasper die helfte van die ui en voeg alle bestanddele by behalwe die ander helfte van die ui, botter en olie

Voeg die vleis by

Mush alles sommer so met die hand saam en meng goed.

Gooi bietjie olie onder in jou pan en skep so vier halwe eetlepels margarien randomly in die pan.

Sny die laaste helfte van die uie in die pan

Maak bolletjies van die maalvleis, rol dit in broodkrummels en pak bo-op die uie.

Sit ‘n deksel op en plaas op die stoof. Nou, ek is ‘n groot voorstaander van ‘preserving energy’ so, die plaat moet op so ‘n lae hitte gestel wees sodat jy nie elke vyf minute stoof toe moet hardloop om die kos op te pas nie.

Nou kan jy jou glasie wyn (soos julle kan sien is my glas wyn nog vol soos hy was toe ek begin het) vat en gaan blog – soos ek, of jy kan gaan sewende traan kyk, of tuin natmaak of wederhelfte se pantoffels en koerant aandra.

Gaan loer so oor ‘n halfuur want dan behoort hulle so halfgaar te wees en reg om omgedraai te word. Draai hulle om en gaan rustig aan met jou lewe. Wanneer hulle gaar is, kan jy die plaat bietjie warmer draai en die frikkadelletjies bietjie braai.

Bedien die volgende slaaie daarby:

  1. ‘n Lekker tamatie skyfie slaai – sny tamatie in skyfies en sprinkel sout en peper oor
  2. Piesangslaai – Mr Salad maak dit baie lekker, of sny 2 piesangs in skywe, gooi Grenadella Yoghurt oor en sprinkel fyn neute bo-oor

Enjoy!

By pienkpantoffels Posted in Resepte

My Vrydag het afgeskop met …


‘n Heerlike kuier by ‘n vriendin wat ek op Facebook ontmoet het ‘n paar jaar terug.  Ons het al ‘n lekker groepie op Skype gevorm waar ons land en sand gesels, galbraak en heerlik giggel oor allerdaagse gebeurlikhede.  I het mos nog nie ‘n GPS nie, en moes myself verlaat op Google Maps se ‘Get Directions’ uitdruk, maar ek moet erken, in die aand werk dit nie so lekker nie.

Ek het twee keer om Cresta gery voor ek haar maar gebel het om my eerder te kom haal.  Gelukkig is sy die dierbaarheid van self en het nie gehuiwer om my te lei na haar veilige hawe nie.

Vroeg die volgende oggend val ek en jongste in die pad sodat ons my nuutgevonde niggie kan ontmoet.  En toe ontpop die mannetjie in ‘n navigator van ‘n ander wêreld!  Ek het so lekker saam met hom gekuier.

Jongste

Mens bly tog maar half op mens se senuwees as mens nuwe mense gaan ontmoet.  Maar toe ek my niggie se arms om my voel, toe verdwyn die senuweeagtigheid soos mis voor die môreson.  Sy is so ‘n sagte, dierbare mens.  Sy het haar hart en haar huis vir my oopgemaak en ek wou sommer daar intrek en bly 🙂 – maar ek sal dit nie aan haar doen nie!

Dit was die vorige dag haar man se verjaarsdag.  Wat ‘n dierbare mens is hy nie!  Vir hom was ek sy grootste geskenk en dit was sy eie woorde.  Hulle seun is vriendelik en ‘n meer hulpvaardige mens het ek nog nooit teëgekom nie.  Hy is ‘n ontluikende fotograaf en binnekort (As jy hier lees Pieter-Charles … ek wag vir die foto’s) gaan ek die foto’s hier opsit!

Hulle is vir my so ‘n pragtige en hegte gesin.  Ek dink sulke gesinne is maar yl gesaai.

Ons kuiertjie was kort, maar met die belofte dat ek weer gaan terugkom later die middag, het ek en jongste (onder begeleiding van my niggie-hulle) die pad gevat na Moreleta Park waar ek my dogter se ouma en haar ma se vriendin gaan ontmoet het.

Ek kan maar net sê dat die Here my geseën het deurdat hy haar in die hande van hierdie mense geplaas het.  Ek – en sy – kon vir niks anders gevra het nie!

Die ouma het my styf vasgehou en bedank dat ek haar vir hulle gegee het.  En eintlik weet ek dat dit ek is wat dankbaar moet wees en glo my, ek is.

Daarna het ek vir jongste gaan aflaai by Menlyn terwyl ek die kombuistee gaan bywoon het.  Ek het nooit in my wildste drome ooit gedink dat ek my dogter se Kombuistee sou bywoon nie (ag en kan julle glo, daar spel ek haar naam verkeerd op die kaartjie), maar ek glo ek is vergewe want die oomblik was net te groot!

Ek en sy 🙂 Ag herder sy is so pragtig!

Sy het baie persente gekry maar ek gun myself so ‘n tikkie selfsug deurdat ek nou net ‘n foto gaan wys waar sy my geskenkie oopmaak … sorry 🙂

Hier maak sy my persentjie oop met die kaartjie met die verkeerd gespelde naam *bloos*

Hier is sy met haar ouma.

Kyk tog ouma se mooi vel en mooi glimlag!

En hier is ‘n klein aapstert wat ook graag ‘n ou persentjie wou gehad het!

Ek soek ook so ene!! Sy't veral van die gift voucher van Woolies gehou 🙂

Daar is niks meer wat ek kan sê oor my naweek – behalwe dat ek so geseënd en dankbaar gevoel het.  Dit het gevoel asof die Here uiteindelik vir my smile.  Ek was die hele naweek omring met ‘n knus warmte en die heerlikheid van wonder!

Dankie Hannetjie (as jy hier lees) dat jy so groothartig was om my deel te maak van Hanlie se groot dag en dat jy jou hart teenoor my oopgemaak het en jou kosbaarste besitting met my deel.  Ek weet dat die Here jou sal seën daarvoor want net hy weet wat vir soveel jare in my hart aangegaan het.

Ons is toe terug na niggie en haar heerlike gebak.  Mensig, ek het geëet asof dit die laaste ete was!  Sy kan maar bak.  Die kos was uit die boonste gestoeltes!  Ek en jongste is soos waffers VIP’s aan hulle vriendekring voorgestel en ons het heerlik gekuier.  Ek maak binnekort weer so!

Sondag het ek Hanlie se aanstaande ontmoet.  Jip, ek dink hulle pas mooi en ek glo hy sal goed wees vir haar … anders … ek het gewigsvoordeel :-).  Ek grap net, ek kan sien dat hulle baie lief is vir mekaar en dat hulle nog baie gelukkige jare saam gaan beleef.

Natuurlik het jongste ook sy sussie ontmoet :-).  Hy was so opgewonde en ja, dit was totally awesome en ja, sy is totally mooi, en ja hy is totally impressed!

Ag en sommer ‘n groot dankie vir elkeen wat hier lees.  Ek weet ek gaan nou al lank aan oor die aanneem ding en die opspoor van biologiese familie, maar glo my, dit is sekerlik ‘n wonderlike ervaring wat ek vir elke biologiese ouer en aangenome kind gun.

Partykeer weet die Universe net …


dat mens goeie nuus broodnodig het en dit voor jou deur kom plaas, mooi toegedraai met blink papier en ‘n groot strik.

Vanoggend het ek gesit en werk toe daat skielik ‘n sms deurkom. Snaaks, toe ek die ‘ping’ hoor, het my hart op gelop gegaan. Ek het nie ‘n idee gehad wat die inhoud daarvan was nie, maar ek was klaar opgewonde! Maar ongelukkig kan ek nie nou die nuus met julle deel nie … wag maar geduldig, want ek sal dit kom deel wanneer die tyd reg is.

Die tweede geskenk het gekom met ‘n oproep. My jonste biologiese broer het eindelik ingestem om my te ontmoet!! Ek het amper op my rug geval van verbasing.

Ek kan natuurlik nie wag nie en sal onmiddellik vir my ‘n nuwe speelpakkie moet aanskaf want my silwer bikini en pienk pantoffels gaan nie pas by die luisterryke geleentheid nie!

‘n Ma is ‘n wonderlike superwese!


Jip, ek weet my kinders voel nie aldag so nie want ek kan dit totally verloor en soos ‘n Spirits verslaafde tekere gaan as hulle nie wil luister nie!  Dan kyk hulle my asof ek ge-invade is deur ‘n vreemde wese.  Maar partykeer raak mens so absoluut radeloos as hulle NET NIE WIL VERSTAAN NIE!

Maar ek wil nie vandag aangaan oor hoe my kinders my sien nie, ek wil aangaan hoe ek my Ma sien.

As tiener gaan mens deur die lewe en dink jou ma is sekerlik DIE DOMSTE mens Suid van die Saharah!  Jy bevraagteken en rebelleer en al die tyd het sy net jou eie welsyn op haar hart.

My ma het al kleintyd vir ons naaldwerk geleer.  My ouer suster met die linkerhand het baie gesukkel, maar ek was mal daaroor!  So koop my ma die allermooiste patroon vir bloesies vir ons.  Opslaankragie met valletjies, strikkies, die werke.  Dit was beautiful.  Maar my ma stel toe voor dat ek die een vir my maak sonder die valletjie bo want “Your neck is too short to wear something like this.”  Ek het toe so gemaak maar die eerste beste geleentheid wat ek gekry het, het ek sus se bloes met die valletjie gegaps vir ‘n party en ek het gedink ek lyk soooooo mooi!  Tot ‘n poephol vir my vra, “Het jy jou nek by die huis vergeet?”  Ek het toe besef my ma was reg.

Sy was ook baie erg oor ‘n bra.  Ek is nogals goed bedeeld en my sus minder.  So sus het altyd die mooi dainty stuff gekry en ek die Playtex Cross Your Heart weergawe.  Oi, dit het my dwars in die krop gesteek.  Die eerste keer wat ek my eie gekoop het, koop ek toe ook die dainty snert en dra dit vir ‘n week maar die gerondbonsery en ongemak het my gou laat terugkeer na die Playtex Cross Your Heart goedjies.  Was net soveel gemakliker.  Dankie tog vandag is daar mooi onderklere wat goed ondersteun vir die grotes onder ons.  Ons hoef nie meer punt in die wind te staan omdat dit al is wat beskikbaar is nie.

As ek vandag so na die jongmense om my kyk en sien hoe swak hulle onderklere sit, dan wonder ek hoekom ma’s nie vir hulle dogters vertel hoe ‘n bra moet sit en hoe styf die bandjies moet wees nie.  My ma het altyd gedreig dat as ons nie regop loop nie, sal sy vir ons daai ‘trek jou rug reguit kontrepsies’ kry en ons sal hulle dra tot ons natuurlik regop loop.  Vandag nog maak ek seker dat ek regop sit en loop.  My ma het ook nie geskroom om my broers se meisies onder hande te neem en hulle bra’s reg te trek nie.  As die regtrek nie gewerk het nie, het sy sommer nuwes gaan koop.  Ons het natuurlik ons oë uit ons koppe geskaam, maar vandag weet ek sy was reg.

My liewe ma het my ook permanent op ‘n dieët gesit.  Selfs vir my susters gesê die dag as sy doodgaan moet hulle my altyd herhinder dat ek ‘weight prone’ is – asof ek dit nie weet nie – maar ja, sy’t my gered van erge oorgewig.  Sy’t nooit heeltemal geslaag nie want ek bly maar goed aangepleister maar nie in so ‘n mate dat ek grotesk lyk nie.

Ek weet vandag dat sy omgegee het.  Meer as wat enige ander mens ooit vir my sou omgee.  Die klein goedjies wat my geirriteer het en gedryf het om haar te ‘defy’ om elke hoek en draai, was haar manier om vir my te wys dat sy my liefhet.  Sy het geweet hoe mense na jou kyk – en hulle kyk en hulle oordeel – en sy wou dit my spaar.  Vandag is ek dankbaar want as ek vir my onderklere gaan koop, dan koop ek wat my liggaam pas, nie die goed wat mooi en sexy is nie.  Ek koop bloesies wat lengte aan my nek gee.  Koop broeke wat my bene langer laat lyk en gemaklike skoene wat my nie ‘bunions’ sal gee nie.  Ek dieët elke tweede week want dis my enigste behoud.  Ek behandel mense soos ek wil hê hulle moet my behandel, want my ma het dit vir my geleer.  Sy’t my geleer dat harde werk mens van depressie en kwaad genees.  Sy’t my geleer dat mense se gevoelens belangrik is en bowenal dat mens altyd ander mense moet konsidereer.

Jammer ek het dit nie geweet toe ek ‘n tiener was nie.

By pienkpantoffels Posted in Die lewe