Ek is bly om te sê …


Dat dit wonderlik afgeloop het.  Ek en my sussie het sommer onmiddellik ge’click’ en gesels asof ons mekaar jare ken!  Baie dankie vir al die bemoediging, goeie wense en positive vibes wat uitgestuur is.  Julle is stunning en great!

 

Ek moet nog so ‘n bietjie herkou aan vanoggend en nog so ‘n bietjie koester teen my hart.  Al wat ek gaan sê is – dat sy ‘n wonderlike mens is en dat ek ongelooflik dankbaar is dat sy bereid is om die pad te stap.  Ek het foto’s gesien, geluister hoe sy vir my almal beskryf en glo my … ek kan nie wag om die ander ook te ontmoet nie.  Maar hierdie eerste ontmoeting sal my beslis altyd die naaste aan my hart lê.

More oggend ontmoet ek my suster!


Ja, die groot dag gaan uiteindelik aanbreek en ek skarrel rond soos ‘n tienermeisie voor haar eerste date!!

Ek wonder wat ek moet aantrek, naels is klaar gecutex en as ek nie verslaap nie, sal die bolla more ook heel sosiaal aanvaarbaar geklits wees.

Ek het eerlik nooit gedink dat ek so sou voel nie! Ek het gedink die dag as ek iemand vanuit my biologiese familie ontmoet, sal dit net ‘n gewone dag wees … maar ek dink die son gaan ‘n bietjie spesialer skyn, die hemel gaan ‘n titseltjie meer blou wees en almal op aarde gaan ‘n bietjie meer vrede ondervind! Ja, ek dink dit gaan ‘n besonderse dag wees!

Posted with WordPress for BlackBerry.

Oh wow!


Dis die enigste opskrif wat ek vir hierdie pos kan uitdink want geen, en ek bedoel GEEN, woorde kan beskryf hoe ek nou voel nie!!

Ek het so pas met een van my biologiese susters gepraat en dit was ‘n euforiese ondervinding.  Ek knyp myself elke vyf minute, net om seker te maak ek is wakker en dat ek nie droom nie.  Kan ‘n mens – op AMPER 44 – so voel?  Ek kan dit nie beskryf nie.  My hart klop in my keel, my ore suis en dis asof my brein nie herwaarts of derwaarts rigting kan vind nie.

Hulle sê mens kan baie van iemand se stem aflei en ek het sagtheid, empatie, opregtheid en wonder gehoor.

Die blote feit dat ons iewers verby mekaar geloop het en oor mekaar gewonder het omdat sy baie in Potch en Klerksdorp kom, maak dat ek wil huil en nooit ophou nie, want ek kon haar vroeër leer ken het!  Sy was so naby en tog so ver!  So naby dat ek aan haar kon raak maar so ver verwyderd agv omstandighede se grense.

Dit was wonderlik om te hoor hoe sy van my biologiese ma gepraat het.  Sy was ‘n wonderlike mens vol deernis en liefde.  ‘n Mens met talente en bowenal ‘n ma.  Klink asof sy en my aanneemma een mens kon wees!

Volgende naweek gaan ek haar ontmoet … wow!  Soveel dinge!  Ek gaan werklik sukkel om deur hierdie week te kom.

Dankie dat jy wel die moeite gedoen het.  Dankbaar beskryf nie die dankie wat ek voel nie.  Ek voel soveel meer!

Oor Aanneming:


Ek het hierdie pos laasjaar Junie op my Litnet blog gemaak:

Dit is skielik asof die hele wêreld nou behep is met aannemings (ag okay, dis net sewende laan) en toe dink ek, miskien moet ek so ‘n ietsie daaroor skryf.

Ek is aangeneem.  Ek was agt maande oud toe my aanneemouers my aangeneem het en die spesiaalste daarvan is dat ek my biologiese ma se naam, Maryke en my aanneem ma se naam, Anne het.

In my rebelse tiener stadium toe ek gedink het dat alles en almal teen my was omdat ek aangeneem was, het ek besluit dat ek my Ma wou opspoor.  Ek het gedink sy sou my met ope arms ontvang, ek sou gelukkig gewees het en blah, blah, bladiblah!

Ek het haar nooit opgespoor nie!

‘n Paar redes hoekom dit ‘n goeie ding is:

  1. Ek het wonderlike ouers gehad (hulle het hulle foute gehad, maar elke een van hulle kinders is goed aangepas en suksesvol)
  2. Ek het wonderlike broers en susters
  3. Ek is gelukkig
  4. Ek weet nie wat ek gaan kry as ek haar opspoor nie – wees gelukkig en tevrede met wat jy ken as ongelukkig en ontevrede met die wat jy nie ken nie
  5. Ek wil nie my lewe ontwrig en emosionele bagasie tot my lewe voeg nie

Een rede hoekom dit nie ‘n goeie ding is nie:

  1. Ek het geen mediese geskiedenis nie – daar skuil dalk kranksinnigheid iewers en ek sal nie weet of dit my gaan tref nie … of dalk het dit al 😀 (Net ‘n grappie)

Aanneming word vreeslik geromantiseer en gedramatiseer terwyl dit in werklikheid nie so ‘n aardskuddende gebeurtenis is nie.

Ja, die ma wat die kindjie opgee vir aanneming is hartseer.  Sy voel sy het ‘n groot deel van haarself verloor.   Sy worstel met die idee dat sy iets kosbaars ‘weggooi’.

Maar … die lewe gaan aan.

Hoekom sê ek so?

Want ek het ook ‘n dogtertjie opgegee vir aanneming jare terug.

Ek het deur al die emosies gegaan, selfverwyt, hartseer, depressie, rinkink om te vergeet, gehuil dat die trane drup op haar foto’tjies en gewens dinge kon anders wees.

Die hartseer fase het ‘n rukkie geduur.  Veral as mens mammas met babatjies sien, dan ruk jou hart en jy voel stukkend.

Maar, een oggend staan jy op en daardie gevoelens is weg en jou lewe gaan aan.  Jy werk, trou, kry kinders, skei, trou weer en voor jy jou oë uitvee, is 20 jaar verby.  Die gedagtes aan die kindjie ‘n vae skim.

Ja, ek dink aan haar op verjaarsdae, Moedersdag, Kersfees en wanneer daar iets op die TV is oor aannemings maar dis nie ‘n konstante gemis en verlange na haar nie.  (Al probeer die media die teendeel bewys)

Nou kan die leser teruggaan na die redes hoekom dit ‘n goeie ding is dat ek nie my biologiese ma opgespoor het nie, want presies dieselfde is dan op my dogter van toepassing.

  1. Sy het ‘n wonderlike familie wat vir haar omgee
  2. Sy is gelukkig
  3. Ek het geen impak op haar lewe gehad nie
  4. Sy weet nie was sy gaan kry as sy my opspoor nie
  5. Sy wil nie haar lewe ontwrig hê nie

Wil ek hê sy moet my opspoor?  Ja!

Gaan dit my hart breek as sy my nie wil opspoor nie?  Nee!

Die eenvoudige feit is dat aanneemkinders eintlik die beste ‘deal’ kry en dat almal daarmee moet vrede maak.

Die aangenome kind moet aanvaar dat hy/sy ‘n kans gegun is om ‘n beter lewe te hê.  Die aangenome kind moet afsien van die idee dat hy/sy weggegooi was, want dit is nie waar nie.  Daar is ‘n besluit geneem om die baba te bevoordeel omdat die ma a.g.v. omstandighede NIE vir die baba kon sorg NIE!  Die aangenome kind moet besef dat dit juis oor onselfsugtige liefde gedoen is en nie oor hy/sy nie liefgehad was nie.

Die aanneemouers moet besef dat hulle ‘n geskenk gekry het wat met geen ander geskenk op aarde vergelyk kan word nie.  Maak die kindjie groot soos wat jy jou eie kind sou grootmaak.  Sorg dat die kind van vroeg in sy lewe weet dat hy aangeneem is.  Hou sy biologiese ma se kroon op haar kop.  Moet haar onder geen omstandighede sleg maak nie, want eendag, gaan daardie kind sy ma wil opspoor en die kanse is groot dat jy met eier op jou gesig gaan staan.  Onthou dat wanneer ‘n kind sy biologiese ouers wil opspoor, dit nie uit ondankbaarheid is nie.  Dit is meer ‘n gevoel van ‘ek wil weet’.

Die ma wat die baba opgee vir aanneming moet vrede maak met haar besluit.  Jy hoef nie jouself te vergewe nie, want jy het niks verkeerd gedoen nie, inteendeel!  Jy het iets goed gedoen.  Leef jou lewe sodat, as jou seun/dogter jou eendag wil opsoek, jy met trots voor hom/haar kan staan en nie jou kop in skaamte hoef te laat sak nie.

Ek is baie opgewonde!


Ek het nou al ‘n foto van my ma en my tannie gekry!  Ken die name van my biologiese broer en suster en die van my biologiese halfbroer en -suster!

Daar is soveel gedagtes wat deur hierdie kop van my maal.  Ek dink … hoekom het ek nie vroeër begin soek nie?  Dan sou ek haar kon ontmoet het?!  Maar ek het nie en daaroor sal ek altyd spyt wees.  Ek weet so min van haar en my biologiese familie!

Vanaand kyk ek die Oprah show en wraggies praat hulle oor Oprah wat ‘n suster het wat gegee was vir aanneming en hoe dit haar en die suster beinvloed het.  Ek kon so daarmee vereenselwig.  Veral toe sy begin praat oor wanneer sy in ‘n inkopiesentrum loop en sy sien iemand wat trek na haar, dan wonder sy of die persoon dalk familie kan wees.  Of wanneer sy hoor van siektes en sy weet nie hoe haar familie se mediese geskiedenis is nie.  Daar is altyd die wonder.  En noudat sy vir Oprah en haar familie opgespoor het, het sy al die antwoorde.  In haar woorde: “I feel complete now.”

My grootste vrees deur my hele lewe was dat ek my anneemfamilie – veral my liewe moeder – sou seermaak as ek na my eie familie sou begin soek.  Daarom dat ek dit altyd uitgestel het.  Baie keer ook gedink dat ek dalk nie kans sien vir moontlike komplikasies nie.  Soveel dinge wat my weerhou het.  Woorde, stories en gebeurtenisse.  Altyd die uitstel na ‘n ander dag.

Nou het die dag aangebreek en ek is gevul met wonder.  Meer wonder as wat ek ooit gehad het.  Nou dat daar kontak was, nou wil ek weet.  Dis asof daar ‘n dringendheid in my is om te weet.  Om te leer ken en om dalk myself en my ‘snaakse maniertjies – soos Lifiki dit altyd stel’ te verstaan.  Verstaan hoekom sekere dinge vir my belangrik is en ander nie?  Hoekom sekere dinge my aantrek en ander nie?  Watter karakter eienskappe het ek geerf?  Hoekom is ek sus en nie so nie?  Daar is soveel dinge wat ek nou net moet weet.

En dan wonder ek … wonder hulle ook?

‘n Klein Tip vir WordPress Gebruik – om dit vir jouself makliker te maak.


Baie mense is skrikkerig om gebruik te maak van WordPress as ‘n ‘Blogging Platform’, maar as jy hom eers gewoond is, dan is daar geen beter een om te gebruik as juis WordPress nie.

‘n Truuk wat ek onlangs ontdek het is die ‘Screen Options’ tuimeldosie 😀

As jy aan die regterkant bo kyk in jou ‘Add a new Post’ blad, sal jy die ‘Screen Options’ daar vind.  Klik daarop en verander die voorkoms van jou ‘Add a new Post’ blad so.  Jy kan net wys wat jy altyd gebruik en daarom maak dit dit net soveel makliker om WordPress te gebruik.

Jy kan natuurlik hierdie verstellings maak op elke admin bladsy binne jou WordPress Dashboard.

Wordpress Screen Options

Wordpress Screen Options

Partykeer gebeur daar net goed …


Ja, mens is besig met jou alledaagse bestaan en dan kom iets uit die bloute en klap mens se voete sommer so onder jou uit.  So vinnig dat jy daarna dink, “Het dit werklik gebeur?”

Gister met Vadersdag het ons ‘n familie byeenkoms in die kleine gehad, omdat al die kinders nie daar kon wees nie.  Ons het so lekker gesels en grappe gemaak en ek het gedink hoe geseënd ek is om deel van hierdie wonderlike familie te wees.  En glo my, hulle is wonderlik, partykeer vreemd, meestal luidrugtig maar oor die algemeen seker die spesiaalste mense op die planeet.

My ‘deelword’ van hierdie familie het gebeur toe ek agt maande oud was en deur hulle aangeneem was.  Van my rebelse tienerjare het ek altyd gewik en geweeg of ek my ma moet opspoor of nie.  Dan het ek sporadies voelers uitgesteek, maar altyd dit maar weer in die agterkop geskuif.  So, meer as ‘n jaar gelede het ek – met die hulp van ‘n Facebook vriendin – ‘n advertensie in die ‘ek soek’ van die huisgenoot geplaas.  Ek het geen terugvoer gekry nie en maar daarvan vergeet (maar altyd daar gaan loer of daar nie ‘n antwoord was of iemand wat na my soek nie).

Ek het ook op Facebook genoem dat ek my ma soek en gisteraand, na ons van die familie byeenkoms gekom het – kry ek ‘n boodskap.  Ek is jou ma se suster, kontak my met haar nommer.

Ek het toe vir haar ‘n sms gestuur en kort voor lank het sy my teruggeskakel.  Ek moes toe ontdek dat my ma deel was van ‘n gesin met ses kinders en dat die dame wat my gekontak het die enigste een is wat nog lewe. My biologiese ma is 14 jaar gelede oorlede!  Maar ek het nog broers en susters.  Voeg hulle by die wat ek reeds het, dan het ek in totaal 10 broers en susters.  Kan een mens nou so geseënd wees?!

Die dame wat my gekontak het is nie seker of my biologiese broers en susters weet van my nie, so nou begin die lang wag om te hoor of hulle my wil ontmoet of nie.  Ek is bang en opgewonde, alles in een!

Winter is mos soptyd!


Maar moenie bekommer nie, ek is nie ‘n kosblogger nie maar so nou en dan sal ek ‘n vinnige reseppie opsit.  Gewoonlik maar my eie konkoksies wat ek geniet en ek dink ander – wat nou nie bang is vir ‘n rolletjie of twee – ook sal geniet.

In my huis het ek nog nooit iemand gehad wat GROOT was op sop nie, maar daar is een soppie wat hulle nie hul neuse voor optrek nie en dit is my Tamatiesop.  Om meer presies te wees my Tamatieroomsop uit ‘n pakkie 🙂

Tamatiesop

Tamatiesop

Jy benodig:

1 Pakkie Tamatieroomsop

500g Mince (maalvleis – maar nie die vetterige soort nie)

1 Groterige ui gesny. (Jy kan skyfies, ringe, blokke of sterretjievorms sny – dit maak nie saak nie)

1 Eetlepel OXO of Bovril

So maak mens …

Braai uie tot dit so glaserig lyk.

Voeg die mince by en braai tot bruin.

Voeg nou die OXO of Bovril by en braai nog so vyf minute.

Gooi soppoeier oor die gebraaide mince en voeg water by.

Kook verder soos op pakkie aangedui.

Sit voor met volgraanbrood en regte-egte botter … jeeeeeeerlik!

 

‘n Mooi kompliment


Jongste het mos nou ‘n vriendin en het haar vandag aan my kom voorstel!  Pragtige dingetjie.  Gesels, glimlag en lag, geen bot oomblik nie.

Ek vertel toe vir haar dat ek bly is dat ek haar uiteindelik ontmoet en sy antwoord my:  “Tannie is net so mooi as wat Elmore tannie beskryf het.”

Ai, my hart het sommer vinniger begin klop, nie omdat sy sê ek is mooi nie (ek is maar allerdaags met geen uitsondelike kenmerke nie) maar die feit dat die mannetjie my mooi beskryf het.  Iewers het ek dan iets reg gedoen!  Dit is werklik sulke oomblike wat ouerskap die moeite werd maak.

Ek het ‘n ruk terug al hierdie blog hier op WordPress.com kom oopmaak, maar toe besluit ek bly waar ek op daardie tyd geblog het, maar die naweek en die daaropvolgende wegraping van die blogs het my genoop om to maar hier te begin blog.  Hulle sê mos ‘Change is as good as a holiday’, so ek is nou op vakansie met die dat ek my blog gaan oorskuif.  Hopelik ‘n heerlike verandering en verfrissing en ek hoop dat die skrywersblok waaraan ek lei, ook met die wegraping van die blogs aan die anderkant, weg is.