Die Ontmoeting – My dogter wat ek gegee het vir aanneming


Once there were two women

Who never knew each other

One you do not remember

The other you call mother

Two different lives shaped to make yours one

One became your guiding star

The other became your sun

The first gave you life

And the second taught you to live in it

The first gave you a need for love

And the second was there to give it

One gave you a nationality

The other gave you a name

One gave you the seed of talent

The other gave you an aim

One gave you emotions

The other calmed your fears

One saw your first sweet smile

The other dried your tears

One gave you up – it was all that she could do

The other prayed for a child

And God led her straight to you

And now you ask me through your tears

The age-old question through the years

Heredity or environment – which are you the product of

Neither my darling – neither

Just two different kinds of love

 

* From the book “Saying Goodbye to a Baby” by Patricia Roles

Gister toe ons oppad was na die groot ontmoeting het my emosies vreeslik wipplank met my gery.  Ek moes die heeltyd trane afvee en telke male die CD vervang opsoek na meer opwindende musiek want al die songs wat gespeel het, het my laat huil.

Ek was vreesbevange en het tot voor my Pa gerook om die senuwees te kalmeer 😀

Maar al die bang was pure verniet.  Toe ek by die ontmoet lokaal instap en haar sien het my hart vir ‘n oomblik gaan staan en toe ek in haar oë kyk, was dit asof ek in my eie oë kyk.  Ek het haar vir die eerste keer in 24 jaar teen my vasgedruk en gevoel asof ek haar nooit weer sal laat gaan nie!  Ek wou daardie oomblik laat vries vir ‘n ewigheid.

Ek en my dogter

Ek en my dogter

Sy het die mooiste, mooiste hande.  Ek het my verkyk daaraan.  Haar ma het vertel hoe georganiseerd sy is, alles op hul plek en werk met lysies.  Dit het sy beslis nie by my geërf nie!  Maar sy kan sing en skryf en sy is baie doelgerig en hou van goed om reg te loop.

Hier is sy met haar ma en ek.  Die vrou wat haar grootgemaak het en laat ontwikkel het in die pragtige, volwasse vrou wat sy is.  Hoe sê mens dankie vir haar?  Daar is net nie woorde nie!

Hier staan sy tussen haar twee ma's 🙂

Maar eintlik is ek nie meer haar ma nie. Lankal daardie reg weggeteken 😦 Maar ek weet nie eintlik wat om myself nou te noem teenoor haar nie.

En dan het sy ook haar oupa ontmoet.  Ek moet my hoed vir hom afhaal.  Hy het dit alles so goed hanteer.

Saam met oupa

Ek is dankbaar dat ek haar ontmoet het, dankbaar dat sy haar weg oopgesien het om vir my ‘n klein deeltjie van haar lewe te maak.  Wat meer kan mens vra?

Dinge waaroor ek bly is:

* Sy was gelukkig as ‘n kind – haar woorde “Sy is tevrede met wat sy gekry het en sy verruil dit vir niks”

* Sy is soveel meer as wat ek verwag het.

* Sy is soveel meer vergewensgesind as wat ek verwag het.

* Sy is soveel mooier as wat ek verwag het

* Sy praat so mooi

* Sy het ‘n mooi hart

* Sy weet wat sy wil hê en werk tans hard daarvoor

* Sy het liefde in haar lewe

* Sy is omring met mense wat omgee vir haar

* Sy is gelukkig

En ek?  Ek het nou vrede!  Ek hoef nie meer te wonder nie, ek hoef nie meer te vrees nie want ek weet …. ek het die regte ding gedoen.  Daardie opoffering wat ek 24 jaar gelede gemaak het, het gister vir my een van my grootste vreugdes besorg.  Sonder dit sou ek nie die mens gewees het wat ek vandag is nie.

As daar iemand daarbuite is wat nog wonder of dit ‘n goeie ding is om biologiese familie op te spoor, ek kan jou verseker, dit is die mees wonderlikste gebeurtenis ooit.

Vir die ma wat ‘n kindjie gegee het vir aanneming:

Hou jou kontakbesonderhede op datum te alle tye.  Wees beskikbaar wanneer jou kind jou soek. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie.  Jou kind het ‘n reg om te weet.  Net soos ek gister gehoor het dat mediese geskiedenis belangrik is, wil ek vir jou sê, dit was altyd die ergste om ‘n dokter te antwoord, “Ek weet nie wat my mediese geskiedenis is nie want ek is aangeneem.”

Jy, as biologiese mamma het die grootste opoffering gemaak, moet nie die deure sluit vir afsluiting nie.  Glo my, soveel as wat jy wonder, soveel wonder jou kind.  Hulle wil weet waar kom hulle oë vandaan, hoekom hulle sukkel met gewig en hoekom nie, hoekom hulle sekere voorbehoude het.  Hulle wil weet waar hulle talente vandaan kom.  In kort, hulle wil die legkaartstukke laat pas.

Laat jou kind toe om jou te vind en afsluiting te kry.  Glo my, dit sal vir jou ook afsluiting gee.

Vir die ouers wat ‘n kindjie aangeneem het:

Julle het die grootste geskenk gekry wat enige mens kan kry.  Daar is nie groter nie en daar is niks meer spesiaal as ‘n kind nie.  Daarom moet daardie kindjie grootgemaak word as jou eie.  Moenie die waarheid van die kindjie weerhou nie want die noodlot het ‘n manier om alles openbaar te maak.

Ondersteun jou kind as hy/sy begin met die soektog.  Dis nie dat die kind jou wil verwerp nie, hy/sy wil net weet.  Wees ondersteunend en indien moontlik, ontmoet ook die biologiese mamma want sy wil vir jou dankie sê.  Dankie dat jy alles vir haar kind was wat sy nie kon wees nie.  Onthou te alle tye dat jy altyd die kindjie se ouer sal wees.  Die biologiese ouers kan dit nooit wees nie.

Vir die aangenome kind:

Hoe spesiaal is jy nie!  Ek onthou hoe my aanneemma altyd vir my gesê het dat ek spesiaal was omdat sy my kon kies!  Daarom is jy ook spesiaal, want jy is bestel.  Daar is jare vir jou gewag.  Oseane vol trane gehuil vir en oor jou.  Jy is in ‘n huis geplaas wat net vir jou gewag het.  Jy is omring met soveel liefde!

Ek weet jy het vrae, maar wag tot jy reg is voor jy die antwoorde begin soek.  Dit is ‘n groot emosionele ondervinding om deur hierdie proses te gaan.  Onthou dat jou biologiese ma se omstandighede dalk moeilik kan wees.  Hanteer dit met omsigtigheid en met empatie.  Onthou dat sy met baie hartseer, trane en sielswroeging jou gegee het vir ander mense.  Onthou dat sy jou onder haar hart gedra het vir nege maande en ‘n band met jou gevorm het wat gesny moes word agv omstandighede.  Moet haar nie haat nie want jy sal nooit weet waardeur sy moes gaan nie.  Onthou dat sy dit gedoen het om vir jou ‘n beter lewe te gee.  Sy het haar behoeftes onderdruk en jou eerste gestel!  Sy het die grootste opoffering gemaak wat enige mens ooit moet maak.

Probeer om haar nie alleen te ontmoet nie.  Vat iemand saam wat jy kan vertrou.  Werk verkieslik deur die regte kanale want daar is mense daar buite wat enige situasie kan uitbuit.

Bo alles … wees dankbaar vir dit wat jy gehad het want die Here gee vir jou die ouers wat reg is vir jou.

‘n Paar plekke wat besoek kan word vir opsporing:

http://adoptionreconnect.org

http://cousinconnect.com/ (My dogter het hier my boodskap gesien en gereageer)

http://www.facebook.com/groups/37361929018/?ap=1

http://www.facebook.com/groups/290297888033/?ap=1

http://www.adoptedchild.co.za/

Registrateur van aannemings  012 312 7601.

http://savf.co.za/

Vandag is die groot dag!


Dis nou ek in die foto!

Na 24 jaar gaan ek my dogter vandag 12h00 ontmoet.

Gister was ek opgewonde en vandag is ek ‘n emosionele wrak. My hart klop in my keel en die trane kom kuier elke 5 minute in die hoekies van my oe.

Hoe verduidelik jy jouself? Wat se jy? Sal ek haar teen my hart kan vasdruk en haar reuk weer ruik?

Ek weet ek sal nooit haar ma kan wees nie want sy het ‘n ma wat kniegies verpleeg het. ‘n Ma wat eerste die woord ‘Mamma’ gehoor en haar eerste onseker treetjies gesien het. Die ma wat trane afgevee het, suksesse en teleustellings beleef het. ‘n Ma wat vertel het van bytjies en blommetjies en wat die blos van kalwerliefde gesien het. Ek sal dit nooit beleef nie en ek sal altyd net soveel deel wees van haar toekoms as wat sy toelaat.

Hoe is dit dat ek gedink het dat ek alles verwerk het, maar vandag voel ek broos, my hart se geheime kamers oopgevlek?

Hoe is dit dat ek soos ‘n klein dogterjie weer op my ma se skoot wil klouter en my gesig in haar sagte nek wil druk? Vandag wil ek haar hande voel vroetel in my hare. Ek wil haar hoor se, “Mickey, everything will be fine. Let go and let God.”

Ek weet sy sit daar bo in die hemel en speel saggies vir my op haar harp en ek weet sy’t lankal vir Liewe Jesus gevra om sy vlerke om ons te vou.

Posted with WordPress for BlackBerry.

‘n Groot-groot ding!


Met die dat almal die ‘bucket list’ ding doen het ek gaan teruglees op my LitNET blog en daar was twee van die goed wat werklik vir my uitgestaan het. Die ander was maar net frivolous.

Op my ‘bucket list’ was daar twee goed: 1. Ek wil my ma ontmoet en 2. Ek wil my dogter ontmoet.

Nommer een het op ’n manier waar geword deurdat ek van my familie ontmoet het. My ma is ongelukkig reeds 14 jaar gelede oorlede.

Dit was vir my ’n geweldige skok en dan ook die feit dat sy met al die vrae, wat ek natuurlik nog het, se antwoorde graf toe is.

Dit het my werklik aan die dink gesit en besluit dis nie iets wat met my dogter gaan gebeur nie en ek het die tehuis vir ongehude moeders gekontak om my besonderhede op datum te bring, sodat, indien sy my eendag wil soek, sy my maklik sal kan vind.

Ek het ook ’n brief geskryf wat ek beplan het om te stuur sodat hulle dit op lêer kan sit as sy nie nou reg voel daarvoor nie. Hierdie brief bevat alles wat ek dink sy sou graag wou weet en ek het gedink dat die brief maar daar kan wees as sy eendag besluit om my te soek en ek dalk intussen iets oorgekom het.

Maar vandag kan ek sê die brief is nie nodig nie. Ek gaan haar ontmoet in die week. Sy het blykbaar al ’n ruk terug oor my navraag gedoen en dis asof die Here net geweet het wanneer ek my stap moes neem.

Hy het geweet dat ek eers my familie moes ontmoet sodat ek ‘n gevoel kan kry oor die emosies waardeur sy gaan met die dat sy my gaan ontmoet. Ek moes eers ondervind sodat ek kan verstaan.

Was dit soos ek myself voorgestel het dit gaan wees as ek hoor my dogter wil my ontmoet? Nee en nogmaals nee! Ek het skielik hierdie oorweldigende emosionele golf beleef! Alles wat ek gedink het ek het verwerk en weggebêre het oor my gespoel en al wat ek kon doen was om te huil. Nie van hartseer nie, maar van verligting.

Verligting dat ek weet waar ek vandaan kom en verligting dat ek vir my dogter kan vertel hoekom. Wil ek myself verontskuldig? Wil ek dinge regmaak? Wat wil ek hieruit hê?

Ek kan nie myself verontskuldig nie. Ek het as jong vrou ’n fout gemaak en ek het die prys betaal. ’n Duur prys wat niemand, wat nie self daardeur gegaan het, ooit sal kan verstaan nie.

Kan ek dinge regmaak? Nee, ek kan nie. Gedane sake het nie keer nie. Ek kan nie tyd terugdraai en my besluite verander nie. Ek kan net vorentoe kyk en bid dat sy in haar hart sal verstaan dat ek dit vir haar gedoen het.

Al hierdie dinge wat op my pad gekom het, het my laat besef dat mens net jou lewe kan lei na die beste van jou vermoë en dat dinge wat moet gebeur, wel sal gebeur. Die mens wik – maar God beskik.

Ek onthou die gebeurtenis vandag asof dit gister gebeur het! Snaaks hoe ’n oproep en ’n epos alles wat onderdruk, weggepak en geïgnoreer was, weer so helder kan maak.

Ek onthou toe ek haar gaan groet het. Sy het daar gelê met sulke donker haartjies en pruilmondjie en ek onthou hoe ek gewens het dat ek vir ewig daar kon staan. Ek het haar opgetel en haar styf teen my vasgedruk totdat sy later van ongemak begin wriemel het. Op daardie oomblik het ek gedink ek gaan net daar begin hardloop met haar, weg van alles en almal. Ek wou haar nie daar los nie, maar ek het nêrens gehad om heen te gaan nie. Geen inkomste, geen huis ag … alles was net so teen my!

My ma was saam met my. Hoe kan ‘n dogter deur die donkerste uur in haar lewe gaan sonder ’n ma? Sy het langs my gestaan met trane in haar oë. Tot vandag toe weet ek dat sy net soveel seer gehad het as wat ek gehad het.

Daarna is ons na die kantore waar ek my handtekening op die papiere moes aanbring. So ’n klein handeling maar so ’n groot besluit. Ek is vertel dat ek ses maande (weke) – nie meer seker nie – gehad het waarin ek nog kon besluit of ek van besluit wil verander, maar ek het in my hart geweet dit was finaal. My omstandighede sou nie binne weke of maande verander nie en ek het geweet dat ek nie vir daardie prag dingetjie sou kon gee wat sy werklik verdien nie. ‘n Standvastige huis, ’n verantwoordelike ma en iemand wat vir haar kon sorg. Ek kon dit nie vir haar gee nie al wou ek hoe graag.

My lewe daarna was ’n donker maalkolk. Ek kon nie vrede maak met my besluit nie. Ek het nagmerries gehad van mense wat haar mishandel en ek kon haar hoor huil in my slaap. Ek het soos ‘n slaapwandelaar geleef. Een dag het in die volgende gevloei en ek het op ’n punt gekom waar dinge net te veel vir my geraak het en ja, ek het besluit om ’n einde aan my ‘sad’ verhaal te maak. Gelukkig het ’n vriendin my ontdek en ek het hulp gekry om dit te verwerk.

Dit was ’n lang pad. Ek dink wat dit vir my die moeilikste gemaak het, was dat ek nie myself kon vergewe nie. Nie net het ek vir myself hartseer veroorsaak nie, maar ek het ’n kind in die wêreld ingestuur wat een of ander tyd gaan dink dat sy ‘unwanted’ was. Ek het presies geweet hoe dit voel. Ek het geweet waardeur sy in haar lewe sou gaan, en ek het myself verwyt omdat ek, wat weet van aanneming en al die vrae en onsekerhede, dit aan haar gedoen het.

Terwyl mens deur die ‘motions’ gaan kan mens jouself wysmaak van vele dinge. Mens hoor in daardie tyd al die regte antwoorde soos, “Dis die regte ding om te doen,” en “Jy maak ander mense baie gelukkig,” en “Jy gee ’n groot geskenk aan ander mense,” en die beste een “Sy sal jou eendag dankbaar wees.”

Nou wonder ek, sal sy? Ek wonder wat deur haar gemoed gaan. Ek wonder of sy my haat oor wat ek gedoen het. Ek wonder of sy gelukkig was, ek wonder of die lewe haar goed behandel het. Daar is soveel dinge waaroor ek wonder.

Mag die Here ons genadig wees!

Kwasstrepe van die Noodlot :-)


Hierdie speletjie is soos ‘touchers’ wat ons altyd as kinders gespeel het.  Kouevuur het my ge’touch’ en nou is ek aan om te vertel van die letsels wat die lewe op my gelaat het.

Letsel nr 1.  Net bokant my bolip is ‘n snymerkie wat ek in die hoërskool opgedoen het as gevolg van ‘n speletjie me ‘n baie langer seun as ek.  Ek onthou hom nog goed.  Hy was ‘n regte hemelsbesem en ek dink ek het nogals ‘n cruch op hom gehad, maar hy was horende doof en sienende blind.  Natuurlik het die bakvissie tiener in my aandag gesoek en ons het slaags geraak met ‘n stuk perspex.  Hy het dit in sy hande gehou en ek wou dit van hom afneem.  Dit het basies so verloop.

Hy: Dis myne (pluk die stuk perspex boontoe in ‘n poging om dit uit my hande te kry)

Ek: Dis myne (pluk dit af om dit in die hande te kry)

Hy: Nee, dis myne (pluk dit boontoe om dit in die hande te kry)

Ek: Gee terug. (pluk dit weer af)

Hy: O f(&(&^&*(k! (Perspex gly uit sy hande en land bo-op my lip en sny hom oop)

Ag shame, ek dink hy’t baie sleg gevoel.

Letsel nr 2.  Ek het so ‘n gawe Liewe Heksie moesie op die punt van my neus gehad.  Die ding het my geweldig geirriteer en ek besluit toe om van die ding ontslae te raak.  Sommer by die huisarts.  Ek het gedink hy sal die ordentlikheid hê om dit so te verwyder dat dit nie ‘n letsel laat nie, maar helaas, die letsel sit.

Letsel nr 3. Histerektomie letsel.  Ek dink dit was so drie jaar terug.  Hier is ‘n post wat ek op Litnet gemaak het daaroor.

Al gewonder hoekom dit ‘n historektomie genoem word?  Ek het beslis die antwoord.  Dis omdat ek histeries aan die lag gegaan het toe ek hoor ek moet een kry of is dit verloor?  Nie gelag omdat ek bly was nie, allermins, lag omdat ek nie daar voor die dokter met sy bloue oë wou begin tjank nie.

Wat ‘n voorbereiding!  Eerstens nagklerke.  En nee, nie gemaklike toppies met broeke nie, nee, daai goed wat mens nagkabaai noem.  Lang rokkerige goed wat so onder jou infrommel en wat jy niks aan kan doen nie, omdat jou lyf te seer is om op te lig sodat die goed reggetrek kan word.

Die hare kortgesny.  Was lanklaas in my lewe so kort.   Maar ek verstaan vandag want ek is nie eens lus gewees om die hand op te lig om dit te kam nie.

Voor die operasie vertel ek mooi vir my Lifiki.  Jy moet sorg dat hulle die gordyne ordentlik om my toetrek as ek terugkom.  Ek wil nie hê almal moet van hollangs tot in paraguay kan sien nie.  En as hulle klaar is met my, dan maak jy my mooi toe.  Net die gesig mag uitsteek.  Arme ding het maar ja geantwoord op elke ver(opdrag)soek.

Toe die langverwagte oomblik aanbreek loop hy saam met my na die operasiekamer.  Alles is toe nog heel okay.  Ek is braaf en glimlag liefies vir almal, maar ek weet …. ek ken myself …. daai oomblik gaan aanbreek.

En so is dit toe, die oomblik toe ek hom moet groet en hulle my so om die hoek stoot toe vloei die trane soos die dooie see begin vloei het na die Israeliete daardeur is.  En ek hik soos ek snik.  Dit het omtrent ‘n gepaai van ‘n ander wêreld gekos.  Maar gelukkig het my mooi blou-oog dokter my hand kom vashou, die trane afgevee en mooi gepraat en ek het salig weggeraak.  Na daai gevoel kan ek verstaan hoekom mense gewoond kan raak aan daai gevoel.

Maar die wakkerword slag.  Ek het gedroom daarvan.  Ek’t gedroom my Lifiki hou my handjie vas – net soos op die tv – en ek knipper my ogies so een, twee, drie keer en dan maak hulle stadig oop en kyk vas in die glimlaggende gesig van my lifikie ….. SCREEECH …. CUT …. dit voel asof ‘n swetterjoel mense om my bed staan en almal ruk en pluk aan my.  Ek soek sy gesig maar dit swem alles.  Ek skree “My Engel!!!” en probeer regop kom.  Hulle druk my af.  “Mevrou jy moet kalm raak”  maar ek beur en skree “Help my, hulle verdrink my!!!”  maar hulle hoor nie, hulle druk my vas  “Mevrou raak nou rustig” …. en dis al wat ek onthou tot ek wakker word met Lifiki wat my hand vashou en ek my ogies so drie keer knip en vir hom terugglimlag en hy my hare (stoppels) saggies vryf.

Die eerste ding wat ek wil hê – natuurlik – is ‘n sigaret.  Die nursie sê “dis nie ‘n probleem nie” (verbasend) en sy skakel ‘n portier en ek word bed-en-al buitentoe gestoot en lê daar onder die sterrehemel en rook.  Heerlik.

Daarna lekker geslaap maar ooooo weeeee!  Half flippen vyf word die ligte aangeslaan.  “Mevrou, u kan maar opstaan en gaan was terwyl ons jou bed regkry.”

Fokkit – hulle is seker nie ernstig nie.  Maar ek gaan nie wys ek is eintlik ‘n pissie nie, en beur myself orent en van die bed af.  Loop met al die parafanalia toilet toe en gaan sit daar.  Die pyn is iets wat ek nie hier kan beskryf nie.  Nodeloos om te sê, ek het net die tande geborsel en toe dankbaar weer teruggeklim in die bed.

Daar gelê soos ‘n vrotvel.  Elke keer as hulle vra of ek iets vir pyn wil hê, ja gesê en so myself gedose gehou solank ek kon.

Gelukkig kon ek vinnig huistoe.  Gepantser met ‘n sakvol setpille ( van alle dinge!!!!)  Het jy al probeer om vir jouself ‘n setpil in te sit?  Geen verdere opmerkings daaroor nie.

Maar vandag voel ek weer mens.  Die pyn is nou meer aanvaarbaar.  Kan gemakliker beweeg, maar rus, rus ek.  Ek dank die vader ek het gelukkig net een baarmoeder!  gehad 🙂

Letsel 4:  Nie sigbaar nie.

Lank gelede – toe ek nog nie lisensie gehad het nie – ontvang ek ‘n uitnodiging van ‘n vriendin na haar troue.  Die manne was natuurlik nie lus nie, maar ek was.  En ‘after all’ trou mens mos net een keer in jou lewe!  Ek en ‘n vriendin klim toe in die kar en ry Mooinooi toe.

Langs die pad wil ek vir my ‘n sigaret aansteek met die kar se aansteker.  Na ‘n bietjie gesukkel, kry ek dit reg, maar toe ek weer fokus op die pad, toe is die vragmotor voor ons.  Ek het die stuurwiel gegryp en my arm styf gemaak – want natuurlik het ek nie die veiligheidsgordel aangehad nie – en ek het so probeer om nie deur die voorruit te vlieg nie.  En gevlieg, die het ons wel.  Bo-oor ‘n betonsloot, ‘n groot rots klip wat die onderstel van die kar verwoes het en na ‘n ruk in die mielielande tot stilstand gekom.

My vriendin – wat veiligheidsgordel aangehad het – het hortend na haar asem gesnak.  Ek was vreesbevange!

Later by die hospitaal vra die polisieman vir my vir my ID.  Ek het geweet my akkies is in die pos.  Hy het die ID deurgeblaai, en toe weer, en toe vra hy die gewraakte vraag, “Waar is mevrou se lisensie?”

Ek moes toe maar met die sak patats vorendag kom.

Hy was egter gaaf genoeg om in sy verslag te skryf dat my man die bestuurder was.

Ek was baie lank in die dog box oor daai een.

O ja, met die dat ek die stuurwiel so vasgehou het met ‘n styfgemaakte arm, het ek met die grond land slag, my gewrig netjies afgebreek.  My arm was in gips van die skouer tot die vingerpunte.

Letsel 5 – Om die naeltjie van ‘n ‘Government issued’ sterilisasie.

Die lewe het ook maar sy letsels gelaat, maar dis nie veel anders as die gewone mens op straat sin nie.  So ek gaan nie daaroor uitbrei nie.

Die verjaarsdag is verby …


Snaaks hoe mens half ‘deflated’ voel die dag na mens se verjaarsdag.  Die gevoel is amper dieselfde as die ‘non-existent after Christmas hype’ – gister was so opwindend en vandag gaan die lewe maar normaalweg aan.

 

MAAR:

 

Ek het ‘n heerlike, heerlike verjaarsdag gehad.  My nuwe sus het by my gekuier en haar woorde: Dit voel soos om jou eerste verjaarsdag met jou te vier.  Great stuff om die minste te sê.

 

Lifiki het vir my die beste persent gegee.  ‘n Regte egte leer handsak en my beste vriendin ‘n serp en ‘n beursie wat mooi by die handsak pas.  Nou is ek reg om te gaan jol – as die ou bene dit gaan maak 😀

 

Ek wil ook vir elkeen wat vir my mooi wense gestuur het, baie dankie sê.  Elke ‘happy happy’ en ‘baie geluk’ het ‘n bydrae gemaak tot die gehele lekker van die dag.  Julle is almal baie spesiaal.

 

 

Ander versierings


Hierdie is ‘n paar goedjies wat ek gemaak het.

Let asseblief op my biologiese ma se gehekelde lappie in een van die fotos 🙂

This slideshow requires JavaScript.

Die drie susters


Ons is drie susters en hierdie verwerasies is ‘n uitbeelding van ons.

This slideshow requires JavaScript.

En hier is bietjie meer detail oor die blomme op die middelste een.

Die blommetjies was eers giggelgeel plastiekrose 😀

In my donkerste uur


Hierdie een het ek begin rondom die tyd wat my Ma oorlede is en my jongste op ‘n nuwe moeilike pad moes stap.  Seker die moeilikste tyd in my lewe.  Ek het hom toe begin, maar baie later eers klaargemaak.

In my donkerste uur

Blomme in die helderste oranje


Na my poging van Paternoster het ek besluit hierdie verwery is nogals lekker en ek was opsoek na iets wat my gunsteling kleure sal uitbeeld.  Ek gee jou ‘n raai wat my gunsteling kleur is 😀

Oranje Blomme

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oranje blomme

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oranje blomme

Paternoster Verwerasie


‘n Hele ruk terug het ek per ongeluk my foto’s in my album by Litnet uitgevee en toe besluit ek vandag, ek moet hulle maar weer hier oplaai.

Ek hou daarvan om partykeer kreatief te wees want dit laat my kop ontspan, maar meestal is ek so besig dat ek nie altyd tyd kry vir dit wat regtig my siel voed  nie.  Die dinge wat help om die lewe meer verdraagsaam te maak.

‘n Paar jaar terug het ons op ‘n blommetoer gegaan en ek wou sou graag iets sigbaars daarvan in my huis hê.  Ek is nie mal oor geraamde fotos nie en toe besluit ek om vir die eerste keer in my lewe my hand aan ‘n verfkwas te waag.  Hierdie is die resultaat van ‘n foto wat ek op Paternoster geneem het.

Paternoster