Ek hunker …


Het jy al opgestaan en verlang na iemand, maar jy weet nie wie dit is nie? Ek het vanoggend so gevoel maar ek het presies geweet wat (nie wie) ek mis!

Zimbabwe-Food-Recipes-Porridge-reMapfunde-578x300

My pa was in ons huishouding verantwoordelik vir die ontbyt (of ek kan onthou hy het op ‘n stadium die ontbyt gemaak), maar omdat ons 7 kinders was, het die fancy kits onbytkosse omtrent net drie dae gehou. Dus moes die ander oggende pap gemaak word. My jongste sê steeds daar is niemand wat krummelpap soos Oupa Frik kan maak nie!

Maar vanoggend het ek nie lus gehad vir die krummelpap nie, nee, vir die eerste keer in my lewe was ek lus vir die Maltabella pap wat hy gemaak het.  Glad sonder ‘n enkele knop (ek weet nou nie wat is die Afrikaanse woord hier nie) en donkerbruin. Ek onthou hoe ons dan ‘n klont(jie) regte egte botter en baie suiker ingegooi het en dan dit geroer het tot alles opgelos het en net so ‘n titseltjie melk. Dan het ons ewe langtand daaraan geëet want ons het kamtig nie van Maltabella pap gehou nie!  En vanoggend toe proe ek daai pap so in my gedagtes en wens my pa kan dit vir my vanoggend gemaak het – maar nee … hy sit mos nou lekker in Danabaai en hou vakansie!

So hunker ek ook na ander goed …

  • Fietsry sessies, skool toe en terug, sonder om bekommerd te wees oor ongure karakters wat agter die bosse skuil
  • Swem .. toe ek nie omgegee het hoe ek lyk in ‘n swembroek nie
  • My ma se aartappelslaai en haar kerrie-en-rys
  • Die stem sing Maandae oggende in die skoolsaal en voor ons verdaag ‘n gewyde liedjie. Ek onthou nog “Watter vriend het ons in Jesus” baie goed en ons as skool het dit in kanon gesing. Dit was altyd vir my mooi!
  • Sondagmiddag etes met die hele gesin om die tafel … al het dit 60% van die tyd uitgeloop op ‘n twis tussen die kinders
  • Mada, ons speelmaatjie
  • My ma se ingelegde perskes
  • Waarlemoen eet met die ALTYD daaropvolgende ‘smeer’ sessie en dan duik in die swembad
  • Slip-n-slide dag wanneer die swembad se seil na die winter afgehaal is
  • Haasdas se Nuuskas en die vlag wat 12uur in die nag gewapper het
  • My naweek kuiers by my vriendin Koekies
  • Bel vanaf ‘n telefoonhokkie
  • Paaseiers in die tuin soek

Ag daar is nog so baie!  Partykeer moet mens jouself net die tydjie gun om terug te dink en daai ‘warm fuzzy feeling’ te beleef.  Dan kyk mens weer vorentoe want … die lewe en sy realiteite gaan aan.

Waaraan dink jy as jy begin hunker?

Advertisements

Nagmerries is nie ‘n man (vrou) se maat nie …


cartoon-pig-having-nightmare

So ‘n paar weke terug was ek heel haantjie uitnek op ‘n mede Facebooker se blad waar ek ge’brag’ het dat ek my anti depressante soos ‘n warm patat gelos het, sommer net so in September laas jaar. Was sommer moeg om elke aand pille te drink. En ek moet eerlik sê, ek het nie nagevolge gehad nie …. tot …

Ek mettertyd agtergekom het dat ek net glad nie kan slaap nie! So, toe is ek terug na die dokter en die .. trap my toe so uit omdat ek die pille net so gelos het. Weer vertel van die brein wat nie Serotonien vervaardig nie, en dat ek mos nou weet ek het die probleem en dat ‘net slaappille’ nie my probleem gaan oplos nie.

So moes ek toe nou ‘hoed in die hand’ gaan omverskoning vra vir die Facebooker en ewe gedwee weer die pille begin drink. Ek slaap darem nou.

Maar jong, as ek nou die aand besluit om ‘n nagmerrie te hê, dan hê ek hom behoorlik! So droom ek dat daar ‘n massamoordenaar in die dorp is. En oral waar ek gaan is mense met elektriese saaglemme in hulle koppe, hulle sit net daar met die lemme wat so stadig woer-woer … en toe op die einde spoor ek die moordenaar op en die probeer toe ook die saagding in my kop plant, maar vir een of ander rede het ek so ‘n laaaaang mes in die hande en ek oorwin hom met ‘n netjiese ooghou. Maar dis toe ek wakker skrik met die alleraaklikgste hoofpyn! Dit klop teen my slape en ek kan skaars deur my oë sien. Strompel toe maar kombuis toe vir ‘n paar Comprals en wonder bo wonder … voor ek die pille moet sluk, is die hoofpyn net weg. Net so … sonder rede!

En hier sit ek nou, 04:30, wawyd wakker en wag vir die son om op te kom!

Gelukkig gaan dit ‘n heerlike dag wees want Lifiki se kinders kom kuier en ek gaan die kleingoed weer sien! Dit maak op vir enige nagmerrie.

Nou gaan ek maar aangaan met werk tot dit tyd is om ‘op te staan’. Hoop julle het ‘n wonderlike dag!

Partykeer is mens net geseënd … en dis dit!


indexWanneer mens vir jouself werk is dit asof mens partykeer in ‘n tipe van doolhof beland … doolhof van rekenings wat betaal moet word en kliënte wat daarenteen, nie altyd gretig is om te betaal nie … dan is dit asof mens se hart vinniger begin klop en elke keer as die foon lui, dan loer jy hom asof dit ‘n gesant uit die hel is.  Of as die selfoon begin lui … en Ray Dylan se ‘Jy’s stout’ maak jou bang in plaas van om ‘n glimlag op jou bakkies te plak … dan weet jy … dis tyd dat ‘n wonderwerk gebeur.

‘n Wonderwerk – vir my – gaan hand aan hand met ‘n gesegde van my Pa: “The best helping hand is at the end of your own arm.” ‘n Wonderwerk gebeur nie sommer net vir sommer nie, daar moet ‘n aksie wees sodat jy die verwagte teenreaksie of resultaat kan kry.  En dit is juis daarom dat ek altyd op die uitkyk is vir nuwe dinge om te leer of te ervaar binne my besigheids veld.

So gebeur dit ook dat ek beland op ‘n groep op Facebook – South African Entrepreneurs (SAE) – wat laasjaar deur ‘n jongman Tebogo Serithi begin is, met ‘n eenvoudige WhatsApp groep. Ek het dadelik lid geword, want besigheid is besigheid en mens kry dit partykeer op die vreemdste plekke. Ek het begin saamgesels op die WhatsApp groep en skielik moet daar provinsiale takke gestig word en voor ek my oë kon uitvee, word ek ingestem as die Voorsitter van die Noord Wes tak. Ek kon dit nie glo nie! Maar ek sal vandag vir julle sê dit was van dag een af vir my ‘n wonderlike ondervinding en ‘n absolute seën.  Dit is net wonderlik om met mense te werk wat werklik honger is … honger vir kennis … honger om hard te werk en honger is vir sukses. Omdat ek ‘n mens is wat graag leer en ook graag my kennis met ander deel, pas dit my soos ‘n handskoen.

Ek kon eers nie verstaan hoekom ek op hierdie pad geplaas is nie, maar ek weet nou … daar het vir my deure na nuwe besigheid oopgegaan wat ek nie in my wildste drome sou kon verwag nie! En daarom voel ek uitermatig geseënd.

Ja, om vir mens self te werk is nie altyd maklik nie en daarvan kan Maankind self getuig. “Self employment” is ‘n unieke uitdaging, maar ek verruil dit vir niks ter wêreld nie.

Dis mos die klein jakkalsies wat die wingerd vreet …


05b50e1332f0a36453969139a4dceeedGelukkig vir my is ek mos nie ‘n tuinwerker (of ‘n huisvrou) se jis werd nie, so daai jakkalsies gaan maar suur rosyntjieagtige druiwe moet vreet … en om eerlik te wees, daai druiwe gaan my nie pla nie! Dis nie asof ek hulle met grasgroen vingers versorg het, of bemes het met die regte stof nie … nee, ek het hulle net so skeef van die kant beloer … want dis nie my belangstellingsveld nie. En as iemand my nou aanvat oor my tuisteskepper skills, dan weet ek, ek skiet vêr tekort en … eerlikwaar dit traak my nie ‘n snars nie!

Maar … as hulle begin vertel hulle doen hulle eie huiswerk soos dit hoort, omdat hulle ma’s hulle reg grootgemaak het, dan kan jy mos nou ‘n eier in my regteroor kom kook. Want dan sê hulle, in effek, my ma het my nie reg grootgemaak nie.  En dan is dit wanneer die spiritsdrinkende vrou haar verskyning in my maak.

My ma was ook nie ‘n huisvrou van formaat nie, maar sy’t 7 kinders grootgemaak, was die beste Engelse onderwyseres in ML Fick laerskool en ons kon nie vir beter gevra het nie. Sy het so nou en dan ‘n poging aangewend om ons ge’domesticated’ te kry en het darem op die belangrike punte geslaag. Maar, ek sal haar nooit onthou vir haar huisvrou vaardighede nie – al het sy ‘n mean Aartappelslaai en die Beste Kerrie en rys gemaak – nee – ek sal haar onthou vir haar harde werk. Sy het skoolgehou, buitemuurs afgerig, ekstra Engelse klasse gegee, swemklasse gegee, ons het altyd warm truie uit haar hand en breipenne ontvang, rokkies met valletjies, wat sy self gemaak het, gedra.  Ja, sy was nie ‘n  huisvrou indexnie, maar sy’t vaardighede gehad. En vandag kan ek onomwonde sê … DIE belangrikste ding wat sy my geleer het was ‘Hou altyd iemand anders se kroon op sy kop’, ‘Moenie agteraf skinder van mense en goed sê wat jy nie sal wil hê ander moet van jou sê nie’, en ‘As jy nie gelukkig is met jouself nie, kan jy niemand anders gelukkig maak nie.’

So, al het ek nie by haar geleer om silwer op te vryf en koper te brasso nie, al het ek nie by haar geleer om ‘n skaapboud gaar te maak of ‘n VLU pryswennende koek te bak nie, weet ek dat die waardes wat sy my geleer het, my verder deur die lewe sal bring.

Al bly ek dalk nie in die skoonste huis met ‘n pryswennende lowergroen tuin nie, weet ek besils dat ek daar is vir my vriendekring.  Ek sal altyd hulle krone op hulle koppe hou. Ek sal hulle nie beskinder en verkleineer nie. Ek sal my familie en geliefdes met respek behandel en altyd seker maak dat hulle gelukkig en gemaklik is. Want, op die einde van die dag is ‘n skoon huis en ‘n eksie perfeksie tuin nie ‘n toonbeeld van geluk (vir my) nie, nee … my seuns wat my liefhet en glimlag as hulle my sien, my man wat saggies aan my hand vat en sê “Angelface, ek is lief vir jou.”, my suster wat laat weet sy verlang, my pa wat bel net om te sê hy is nog bogronds, my broers wat ek weet dink darem aan my en my lieflike stiefkinders wat my so goed behandel … dit is dinge wat vir my meer saakmaak as die huis waarin ek bly of die kar wat ek ry.

So ek wens vir elkeen van julle ‘n vriend/vriendin/kollega/wederhelfte/kind wat jou kroon op jou kop sal hou, want dan weet jy daai persoon dra werklik jou geluk en welstand op sy/haar hart.