Afrikaans is Groot – Groter as Groot!


Ek dreig nou al die afgelope week om te kom vertel van die belewenis, en glo my, dit was beslis ‘n belewenis, ‘n Afrikaanse musiek Skouspel van die beste kwaliteit!

Ek moet ook bieg, ek het in my hele lewe nog nooit so ‘n groot kerk gesien nie!  Ook so stilletjies gewonder of hy elke Sondag vol is en of almal na die tyd ook so sukkel om uit te kom?  Dis al wat ek negatief van die konsert kan sê, is die verkeer daarna en *fluister* die feit dat ons 2 ure en 10 minute in Pretoria verdwaal het oppad huistoe, ‘n draai gegooi in Mamelodi en Soshanguwe! Maar dis nou nie Afrikaans is Groot se skuld nie, maar die feit dat ons in hierdie dag en tyd steeds nie oor ‘n GPS beskik nie!

Die konsert is ge-open deur Nico (daai baie aantreklike mannetjie wie se van ek nie kan spel – vergeet ook van uitspreek) met ‘n grappie of twee en is later deur Diaan bygestaan.  Mense, toe daai eerste noot van die konsert speel het ek totaal en al my hart verloor!  Die klank was goed, die verhoog en beligting was eksie perfeksie en die uitrustings wat die sterre aangehad het, absoluut pragtig.

Steve het almal aan sy lippe gehad en ek verstaan weer hoekom hy ‘n lewende legende is.  Soveel ‘charisma and presence’ is iets wat mens min sien.  Dan die Nimlike Theuns met sy heuning stem … ag ek het nie woorde nie!  Hy sal sekerlik altyd vir my DIE sanger van die land bly.

Daar is twee oomblikke wat vir my uitgestaan het – hoendervleis oomblike en dit was toe Corlea die liedjie Sonvanger gesing het.  Sy het gelyk soos die son wat in die oggend opkom en haar stem was soos altyd soos ‘n Engel s’n.  Ek was totaal en al vasgenael!

Die tweede oomblik was toe Bok sy lied – Ons vir jou Suid-Afrika – gesing het.  Ek wens julle kon voel wat ek gevoel het toe elkeen in die saal die koor saamgesing het.  Dit het gevoel of die dak gaan lig en ek het weerens besef hoe trots ons Afrikaans sprekendes op ons taal en land is.

Ai, ek kan aan en aan gaan – maar al wat ek verder kan sê is, koop dadelik vir jou ‘n kaartjie vir volgende jaar se Afrikaans is Groot konsert, dit gaan nog groter wees (indien dit enigsins moontlik is) en ek glo die kaartjies sal sommer vinnig uitverkoop wees.

 

Advertisements