Vandag is ‘n goeie dag!


Ja, vandag is beslis ‘n goeie dag.  Soos julle weet, verhuur ek mos eiendom en meeste van die tyd sukkel ek maar dat die mense betaal.

Ek het een huurder wat nou al vir vier jaar dieselfde huis by my huur en vanoggend toe kom ‘kuier’ hy vir my.  Ek was nogals verbaas, want hy het nog nie sy huur betaal nie en daarom was ek eers vasbeslote om die mannetjie ‘n skrobering te gee.

Maar toe haal hy die wind uit my seile.  Eers wens hy my ‘n voorspoedige jaar toe en bedank my vir alles wat ek al vir hom gedoen het.  Vra my toe of ek my Desember geniet het en ek het bietjie uitgebrei.  Toe vertel hy my sy vrou verwag en as dit ‘n dogtertjie is, gaan hulle haar na my vernoem want – (soos in sy woorde) “You are like my second Mom.  You showed me that white people are nice and can be my friend.”

Ek het sommer daar trane in my oë gekry en gedink, die Here weet wanneer mens ‘n seëning nodig het, al kom dit van ‘n onverwagse oord.

Dankie Simon Motswadi!  Jy het my dag gemaak!

Nou ‘n klein versoekie namens al die boere/mense in die Noordwes omgewing.  Ons het nog omtrent niks reën hier gehad nie en ek is bevrees dat ons in ‘n droogte inbeweeg.  Ek vra vandag dat elkeen wat my blog lees vir reën in ons streek bid.  As almal bid sal ons gebede baie kragtiger wees en ek glo die Here sal ons mildelik seën met reën.

Ek onthou toe ek in standerd 4 of 5 was, was dit net so droog.  Al die kerke het toe ‘n biddag vir reën uitgeroep.  Dit was ‘n Vrydag.  Eers was ek nie baie in my noppies nie, want my vriendin se verjaarsdag partytjie was die middag en ek kon eers gaan na die biduur.  Maar soos ‘n kind – voor tienerjare – mos is, het ek ewe hard saamgebid.

Na biduur het my ouers my by my vriendin afgelaai.  Daar was nog nie ‘n wolkie in sig nie.  Maar mense, toe ons nou ons kostuums aantrek om te gaan swem na die kersies doodblaas seremonie, toe begin daardie wolke inrol.  Daardie middag het dit gereën en gereën.  Ek onthou hoe verwonderd ek was oor hierdie wonderwerk.

 

Albert Einstein het gesê


Many of the things you can count, don’t count.
Many of the things you can’t count, really count.
– Albert Einstein

Dis die eerste keer dat ek hierdie een raaklees en dit het nogals met my gepraat.

Mens is baie geneig om alles in geldelike waarde of ‘what is in it for me’ om te sit dat mens baie keer vergeet om die klein goedjies in die lewe na waarde te skat.

My Ma het altyd gesê “Thank God for everything, no matter how small, because when you thank Him for the little things, He will bless you with more.”  Sy was ‘n baie wyse mens.  Mens vergeet om dankie te sê vir gesondheid, die gawes om te kan sien, hoor, voel, proe en ruik, die feit dat ons kan loop en goed kan optel en verskuif, kan lees, musiek kan luister, kan slaap, kan wakker wees, kan redeneer, kan liefhê en bowenal dat ons vryheid van geloof geniet.

Dis nie die huis  saakmaak nie, dis die mense wat in die huis woon wat saakmaak.

Ek dink tog, as ek wel ‘n nuwejaarsvoorneme vir 2012 kan maak, sal dit wees om meer aandag te gee aan die klein dingetjies in die lewe wat my gelukkig maak, meer aandag te gee aan die mense wat vir my saakmaak en beslis meer aandag gee aan my innerlike gesondheid.