As sy kop kussing tref …


dan slaap hy!!  Nie net enige slaap nie, nee, die slaap van die wat die tydelike vir die ewige verruil het.  Hy snork dat die kranse antwoord gee en praat met die onsigbare mense in sy drome.  Maar ek weet, solank ek dit hoor, is my man daar in die kamer en dan is ek happy!

Ek is natuurlik nie so gelukkig nie.  Ek het ‘n ‘slaap’ ritueel.

Nadat ek my laaste sigaret gerook het, borsel ek tande, loer so half vir oulaas verlangend na die blik koffie in die kombuis en gaan lê dan in die bed, op my linkersy.  Hoekom links?  Want ek het mos piep in die regterheup 🙂  Dan speel ek met Skebberesh my brakkie vir so paar minute en dan jaag ek hom af.  Dan maak ek my oë toe en begin bid.

Ja, ek staan nie op my knieë voor die bed nie, want die kniege is maar bietjie melankoliekerig van die ouderdom en ek weet die Here sal in elk geval luister.

Eerste sê ek dankie vir als.  Ja alles, die goed en die sleg, want dis hoe my ma my geleer het.  Sy’t altyd gesê “You must thank God for everything, good or bad, because when he sees you are thankful, he will bless you.”

Dan begin ek bid vir my man dat hy altyd werk sal hê en dat hy altyd veilig by die huis sal kom en dat hy vir baie lank vir my gespaar sal bly.  Dan bid ek vir my twee seunskinders sommer als waarvoor mens vir ‘n kind bid.  Dan bid ek vir die res van my familie – die oues en die nuwes 🙂

As ek klaar gebid het gaan lê ek op my rug en druk die oorpluisies in my ore.  Lê dan lank stil om seker te maak ek hoor niks.

Dan draai ek op my regtersy en peins oor die dag wat verby is en ek wonder oor die dag van môre.  Ek beplan, los probleme op, skep probleme, los hulle op en wanneer die regterheup begin pyn, dan draai ek op my maag.

En dan eers kan ek hopelik aan die slaap raak.  As dit nie gou gebeur nie, dan staan ek op, haal die oorpluisies uit, skakel die rekenaar aan, werk bietjie en gaan doen weer die slaap ritueel.  So kan ek party aande dit tot vyf keer doen voor ek aan die slaap raak.

En dan luister ek na die liefste mens wat so lekker snork en geen ritueel het om aan die slaap te raak nie en dan, net vir ‘n stonde, wens ek dat ek hy kon wees.

 

Hoop julle het almal ‘n vreedsame naweek.

Almal onder een vlerk


Ek het ‘n ruk terug geskryf oor leënessindroom en ek glo dat as dit ‘n ‘natuurlike’ gebeurtenis is, dan is dit seker makliker om te aanvaar en te verwerk.

Maar as jou kinders van jou weggeruk word (ek praat nie in my geval van dood nie, maar oor ander se invloede, manipulasie en verkeerde besluite) is dit ‘n aanhoudende rou proses wat nie ophou tot jy jou kind terugkry nie.  Klink dit vreemd?  Vir my was dit ‘n werklikheid.  Ek het vir ‘n lang ruk oor my kind gerou, maar daar was nie ‘n graf, begrafnisbrief of as nie.  Net daardie leë gevoel, aande se wakker lê, bekommernis nagsweet, kort van draadgeid, huweliksboodjies op stormwaters en jy’t nie die krag om dit na ‘n veilige hawe te roei nie, onbeantwoorde vrae, onbeantwoorde oproepe, sms’e en geban van sy Facebook profile.

Jy beleef al die emosies van om ‘n kind aan die dood afstaan, met een verskil, jou kind lewe.  Jou oë huil, maar daar is nie trane nie, jou hart pyn en daar’s nie pille nie, familie gee raad maar jou ore hoor nie want daar is net een ding waarop jy konsentreer en dit is – jou kind!

Maar hy is weer terug!!!  Nou nie in my eie huis nie, maar dis ons keuse en die beste is … die kommunikasie kanale is weer oop!  Nou kan ek weer my lewe optel en aangaan.  Dankie Here!

Dan ‘n bietjie slegte nuus …

Ek was Vrydag in ‘n ongeluk.  Ek was oppad om my vriendin op te laai en daarna gou ‘n draai by my pa in die hospitaal te maak.  Ek ry toe voor Game verby in ‘n dubbelbaan eenrigting straat in die regterkantste baan.  So effens voor my is ‘n silwer karretjie aand die linkerkant.  Die besluit dit is ‘n goeie tyd om reg voor my oor die pad – vanaf die linkerbaan – regs in die straat af te draai.  Ek het geen beplanning gehad om te stop nie, want die robot was groen.  En die volgende oomblik is die kar voor my.  Ek het remme aangeslaan en ook regs probeer draai, maar spasie was net te min.  Die gevolg, ek tref die kar op sy sy en stoot hom in ‘n robotpaal in.  Kry steeds nie die kar om stil te staan nie en eindig op met nog ‘n stamp aan ‘n ander voertuig wat langs die straat geparkeer staan.  Die kar is toe in die kar voor hom in en die in die kar voor hom.  In totaal, 5 motors!

Die bestuurder van die silwer kar, hou vol dis nie haar skuld nie, maar my boeke het my geleer jy draai nie vanuit ‘n linkerbaan in ‘n dubbelbaan eenrigting straat regs in ‘n ander straat in nie.  Ek kan wel verstaan – die vrou van Potch ken nie Klerksdorp se eenrigting strate nie en volgens haar woorde – ek was in ‘n enkelbaan – lei ek af syt gedink sy’s in ‘n tweerigting verkeer straat en daar was nie karre van voor af nie en daarom was dit veilig vir haar om te ry.

Ek wys vir julle ‘n paar fototjies:

This slideshow requires JavaScript.

Sommer woorde


Kwistig verf jy my lewe

in skarlaken rooi en donder blou

wat skel teen die mure

wat ek om my hartseer bou.

 

Meng op jou pallet van woorde

tot al die kleure bloei

ineen verstrengel

in my trane geboei.

 

Dis sommer net woorde wat gisteraand by my opgekom het voor ek gaan slaap het, en toe dink ek, ek moet dit iewers neerpen voor ek dit vergeet.

Die mens is maar ‘n vreemde wese.  Hier waar ek vannag voor my rekenaar sit en werk dink ek aan soveel dinge en skielik besef ek dat, alhoewel ek nie altyd so dink nie, ek wel al baie waarhede oor die jare geleer het.  Dis eers wanneer mens in soorgelyke situasies beland, dat jy eintlik besef dat jy al hierdie les geleer het.  Maar pas mens altyd daardie kennis toe?

‘n Paar jaar (baie jare) gelede, wou ek teen almal se raad, iets doen.  Ek het opgestaan vir my ‘regte’, baklei en hardkoppig besluit ek gaan dit doen – come hell or high water!  En vandag as ek terugkyk oor my lewe, besef ek dat elke keer dat ek so hardkoppig oor iets was, het dit gewoonlik in ‘n tragedie/ongeluk of so-iets uitgeloop.  Daarom haat ek dit as iemand sommer net NEE sê omdat NEE, NEE is of OMDAT EK SO Sê, of OMDAT JY ‘N VROU IS of vir enige ander onsinnige rede.  Want daardie persoon plaas my onmiddellik in ‘n situasie dat ek moet baklei vir dit wat ek graag wil doen/hê, en dan kom sit daardie gogga hier op my skouer en fluister, “Baklei maar, jy weet wat gaan gebeur as jy dit doen.”

So het ek eendag na ‘n bakleiery met my man in die kar gespring en besluit EK SAL ry na waarheen ek ookal wou gaan.  Maar die kar se neus was skaars uit die dorp toe oorval daardie vrees my en ek sien hoe skryf ek die kar af – en net daar draai ek om en gaan vra om verskoning en ons ry toe maar saam (Alhoewel hy nie baie gewillig was nie) en geen tragedie/ongeluk het ons getref nie.

Nou wonder ek, is hierdie vrese ongegrond, is ek kinderagtig of het ek iewers die emosionele pad byster geraak?

Ek haat dit ook om mense te oordeel (alhoewel ek dit in menslike swakheid partykeer doen) want as ek begin dink daaraan, dan dink ek – wat as ek dit eendag doen – en niemand het met my genade nie?  Of erger nog – dalk is daar iemand wat sy mes so in het vir my dat daardie persoon tot alle uiterstes sal gaan om my tot vergelding te bring.

Partykeer dink ek hierdie vrese is irrasioneel maar partykeer dink ek dit hou my op die regte pad.

Wat dink julle?  Het julle ook sulke vrese – asseblief sê ja, anders gaan ek nou begin bang word dat ek besig is om mal te word 😀

 

 

 

 

The Champ


Ek was so opgewonde toe ek sien die fliek wys vanaand, vir die eerste keer kon ek nie wag dat Pasella klaarmaak sodat ek weer die fliek kan kyk nie.  Dit is maar een van die beste tranetrekker movies wat ooit gemaak is.

Ek onthou, toe ek nog jonk was, nie seker van ouderdom nie, het my pa altyd sulke lekker en interessante uitstappies gereël en dan het van die onnies en hulle kinders in die skoolbus geklim en ons is gevat na die staatsteater, bioskoop en selfs ysskaatsbaan toe.

Toe ‘The Champ’ begin draai in Suid-Afrika, is ons in die skoolbus gelaai en die bus het sy neus in die rigting van Klerksdorp gedraai.  Vir ‘n kind van Potch, was Klerksdorp soos die stad Johannesburg.  Ek kan dit nie vandag verstaan nie, want die twee dorpe(stede) is maar ewe groot en het seker ook dieselfde hoeveelheid malls ensovoorts.  Maar daardie dae, as jy gehoor het jy gaan Klerksdorp toe, dan het jy jou Sondagkleertjies aangetrek, die hare bietjie nat gemaak voor jy dit gekam het en ‘n tikseltjie Vaseline aan die lippe gesmeer want dit was ‘n grootse ‘outing’!

Dit was dan ook die eerste keer dat ek ‘n fliek in ‘n bioskoop gekyk het.  Ek onthou die swaar, rooi fluweel gordyne, die rooi en blou mat en die sagte stoele.  Dit was ‘n wonderwêreld en die beste was, ek het my eie lekkers en koeldrank gekry wat ek nie hoef te gedeel het nie 🙂

Ek onthou hoe almal in daardie bioskoop gesnik het.  Tissues was uitgedeel vir ‘n vale en toe die ligte aangaan na die fliek was daar nie een mens wat nie met betraande oë daar uitgeloop het nie.

Vanaand se ‘The Champ’ het al daai wonderlike herinneringe weer opgeroep en dit was lekker om net al die uitstappies te onthou – so asof dit gister was.