Die verlede … kan mens vergeet?


you-cant-start-the-next-chapter-if-you-keep-re-reading-the-last-one-forget-the-past-and-move-on

As mens ‘n self-help junky is, dan weet jy beslis dat jy van jou verlede moet vergeet. Jy moet dit op papier skryf, dit lees, daaroor huil en in die vuur gooi, en daarna is jy wonderbaarlik genees van alles wat jou gekniehalter het in jou verlede.

Maar persoonlik, dink ek dit is nie so maklik nie. Die verlede is onlosmaaklik deel van my. Ek word elke dag daaraan herinner deur die sjokolade modder koek wat homself tuisgemaak het in my linkerboud, die kermispoeding wat sy tuiste in my regterboud gevind het en die blikkie kondensmelk wat sy teenwoordighed aankondig hier in die dubbelken.

My voorbarigheid op skool is vasgelitteken op my bolip, die sigarette wat ek al gerook het ingeets in die fyn plootjies wat om die mond verskyn, jare se bekommernis wat ‘n padkaart op my voorkop teken, vinnige gewigsverlies wat wys in die blesserige kol op my kop en so kan ek aangaan. My verlede is hier om te bly. Dis oral op my te bespeur.

Daar is nie net fisiese tekens van die verlede nie, daar is ook die dieper ‘sielkundige’ tekens. Eens op ‘n tyd was ek ‘n mens wat graag uitgegaan het, vandag sit ek eerder by die huis en brei, lees, luister musiek of verf. Geen behoefte om uit my huis te gaan nie. In fact … as hulle melk en sigarette afgelewer het, sou ek nog minder uit die huis gegaan het.

Mens is baie goed agv jou verlede. Humeurig … omdat jy geleer het dat as jy jou stem verhef, kry jy jou sin. Of dalk is jy stil … want jy’t geleer ‘n stil bek is ‘n heel bek. Dalk is jy ‘n Drama Queen .. want jy’t geleer as jy nie perform nie, kry jy nie aandag nie. Dalk praat jy nie maklik nie … want dan kan mense nie jou woorde as ammunisie teen jou gebruik nie. Of jy praat baie … want dan hoef jy nie jou pyn te onthou nie. Daar is baie voorbeelde van hoe mens maar maniertjies optel en aanleer as gevolg van lesse wat ons deur die lewe leer.

Vandag kan ek terugkyk op alles wat in my verlede gebeur het en selektief daarmee omgaan. Ek probeer die goeie onthou en deel van my daaglikse bestaan maak. Dit wat nie goed was nie, ’embrace’ ek en erken die rol wat dit gespeel het in die vorm van my as mens. Maar dis nie altyd maklik nie, want daar is dinge wat jou laat in die nag kom jaag, dinge wat net skielik opspring in jou gedagtes en jou ongelukkig maak. Maar dit gebeur … maar ek het nou geleer om die ding in die oog te kyk en daarmee te deel. As dit iets is wat iemand teen my gedoen het om seer te maak, dan stuur ek ‘n gebed op na my Hemelse Vader, en ek vertel Hom dat ek daardie persoon vergewe. Partykeer kom dit weer terug, maar partykeer nie. Maar ek laat nie meer toe dat dit my so ontstel dat ek nie kan slaap nie. Ek laat nie meer toe dat dit wat negatief was in my lewe, my vandag donker inkleur nie.

So vat ek elke dag … stappie vir stappie. As ‘n verlede hoofstuk sy verskyning maak in my hede, dan lees ek hom. Ek dink oor hom, ek evalueer hom en besluit of dit werklik vandag nog ‘n impak op my lewe het. As dit nie het nie, dan bêre ek hom.

Die verlede is daar … as ‘n verwysings raamwerk. Iets wat jy kan gaan naslaan as jy voor ‘n probleem te staan kom. Iets wat jy kan gebruik as ervaring om oor ‘n huidige hekkie te kom.

Persoonlik dink ek mense sê te maklik “Vergeet van die verlede.”, want om heeltemal te vergeet is net nie moontlik nie. Maar in dieselfde asem, moet mens nie, wanneer jy jou verlede besoek, daarin vasval en rondrol soos ‘n gelukkige varkie in ‘n modderpoel in Palestina nie. Nee, kyk daarna, lees dit, bevoel en bevat dit, herkou dit en dan … spoeg dit uit en beweeg aan.

Ek self was soos daai varkie in Palestina. Ek het my verlede soos ‘n kombers om my gehang en vasgemaak met ‘n moerse doekspeld. Ek het hom saamgesleep en vir elke verkeerde ding in my lewe as verskoning aangebied. Maar met die ouderdom saam, raak daai kombers al hoe dunner en dunner – threadbare soos die Engelse sê – en wanneer daai laaste stukkies kombers afval, dan staan jy daar en besef … die verlede hoort waar dit hoort … in die verlede.

Mag jou dag vol lieflike nuwe ondervindings wees. Mag jy geseënd wees met ‘n glimlag wat ander mense se koue harte sal smelt … en bowenal, mag jou hede ‘n besonderse mooi saamgestelde collage wees van alles wat jou gevorm het.

Slaap … o wondersoete ding!


Jitte, ek kan nie glo hoe tyd vlieg nie! Dit voel asof dit gister nuwe jaar was en nou trek ons al in Mei! Dis nogals koud vanoggend, so ek sit heerlik hier in my bed en blog.

Maar terug na my opskrif. ‘n Ruk terug het ek geblog oor my slaappatroon en hoe ek aanvaar het dat 3 uur in die oggend my slaaptyd is. Maar intussen het ek nog iets ontdek wat my help om te slaap. Maar as jy nie hou van volksvreemde goed soos meditasie en hipnose nie, lees dan eerder nie verder nie.

Ek het een aand so gelê en wag dat die slaap my oorval, toe ek besluit, miskien moet ek bietjie musiek luister. Ek vind toe my weg na YouTube en soek vir ‘music to sleep’, en luister toe daar na ‘n kompilasie van klassieke musiek. Maar die gepla was dat ek dan elke keer na werklikheid teruggeroep word met die stilte tussen twee liedjies. Die musiek maak my rustig, laat my so half en half wegraak, maar dan hou dit op …. stilte (ek kom terug na werklikheid) … nuwe lied … raak weg … stilte (ek word wakker) … nuwe lied en so hou dit aan.

Ek besluit toe ek benodig musiek wat aaneen is vir ten minste ‘n driekwartuur. Ek scroll to verder af en sien toe ‘Hypnosis for deep sleep.’ Ek was nog nooit iemand wat hierin geglo het nie, want dit werk nie vir my nie. Maar in dieselfde asem was ek ook nog nooit ‘n mens wat nie iets sal probeer nie. Ek skakel toe oor na die hipnose sessie.

My eerste gedagte was … herder, maar die man praat darem maar ‘n lot nonsens! Maar ek het myself gedwing om te luister. Na sowat 10 minute was ek lekker vaak en haal die oorfone uit die ore (oorfone is so ‘n verpesting as mens probeer slaap), los die foon hier langs die kopkussing terwyl die man met sy eentonige stem voortpraat van ‘You love yourself, you are more comfortable with yourself … you ……. let it go ………… warmth ………………. white light ………………………….. rest ……………. relax ……………………………………………………………………………………………………………………………………………….

En toe slaap ek soos ‘n baba!

Newborn baby in library

Daar is baie sulke videos. Jy moet maar eksperimenteer tot jy die regte een kry wat jou help. Persoonlik dink ek nie dat ek ‘gehipnotiseer’ word nie, ek dink eerder dis die eentonige stemtoon wat help dat die gedagtes afgesny word (wat my grootste probleem is, want ek dink mos net werk, werk en nogmaals werk as ek in die bed klim). Dis asof mens begin konsentreer op daar die stem (ek sit dit nogals sag sodat ek werklik moet LUISTER om te hoor) en dan raak ek aan die slaap.

Ek hoop hierdie help vir iemand. Dit werk vir my en wat vir my die lekkerste is, ek staan nie moeg op nie. Ek het nie ‘n aaklikge smaak in my mond van slaappille nie en ek vat nie meer ‘n uur om tot my volle sinne in die oggend te kom nie.

Kom vertel asseblief as dit vir jou werk.