Oor ontvanklik te wees


Ek lees vandag oor iemand wat sukkel om oor iets wat met hom gebeur het te kom.  En dit het my aan die dink gesit.  Ons almal beleef tragedies, ups and downs en as ek hier moet skryf oor als wat my getref het, sal wordpress se hele domain nie genoeg wees om al my treurmares te host nie.

Ek is al belieg en bedrieg, dierbares is van my weggeneem, ek het goed verloor, goed is van my gesteel, ek is al sleggesê en beskinder en baie ander goed.  Dan het ek ook al baie verkeerde besluite geneem en deur my eie toedoen in warmwater (partykeer kookwater) beland.

Ek dink die groot geheim is om te besef dat sulke goed mens kan en altemit SAL tref en dit opsigself is dalk nie die probleem nie.  Dis hoe ons die lewensgebeurtenisse hanteer wat die deurslaggewende rol speel.

Ja, jy kan vra hoe ek, wat net ‘n kort rukkie gelede geworstel het in ‘n diep donker put van depressie, nou hier kan probeer om ‘n uplifting boodskappie te plaas.  Die antwoord is eenvoudig – Been there, got the T-shirt, worn it, torn it, tie-dyed it, cut the sleeves off, cut holes in it, stretched it and even made a belly revealing sexy number out of it.  So het elkeen wat hier lees ook al die T-shirt deur al die lewensfases gedra en hom maar aangepas soos wat die lewe dikteer.

Wanneer tragedies (dit sluit nou enige moeilike situasie in) ons tref, is ons geneig om na binne te draai.  Dis nie ‘n slegte ding nie, maar gewoonlik draai ons na binne om weg te kruip ipv dat ons na binne draai om antwoorde te soek.

Ons weet dis ‘n gegewe dat alles in die lewe van verbygaande aard is en ja, selfs die slegte.  Dit is wat ons doen in tye van sleg wat bepaal hoe jy weer die goeie gaan ’embrace’ en joune maak.

Dit is waar ontvanklikheid inkom.  Terwyl ons na binne gedraai is, moet ons ons gedagtes probeer rig op voorbereiding.  Voorbereiding sodat ons ‘willing’ en ‘able’ sal wees om nuwe geleenthede aan te gryp en onsself uit die donker putte van die lewe te lig.  Ongelukkig is dit nie ‘n maklike proses nie en mens kry dit selde op hule eie reg.  Daarom is dit belangrik dat jy iemand het wat kan luister, nie noodwendig raad gee nie, maar net kan luister en so nou en dan uhm en ahhh sodat jy kan weet die persoon luister.  Dis hoe jy stadig maar seker genees en dag na dag, treetjie na treetjie daai put uitklim om weer in die son te staan en die lewe weer vierkantig in die oë kan kyk.

Jy moet ontvanklik raak vir hande wat uitgehou word, ore wat luister, lippe wat praat en skouers wat onder jou moeggehuilde kop ingedruk word.  Jy moet bereid wees om jou oor te gee aan arms wat troos en as iemand sê ‘Ek is hier’, gebruik dit.  Want, al dink jy jy het dit nie nodig nie, weet God van beter en dit is Hy wat daardie mens vir jou stuur.

Jy moet ontvanklik wees, dis al.  Want al daardie positiewe energie gaan krap en grawe in die negatiewe en uiteindelik sal die dag aanbreek wanneer jy reg is om weer in volle oorgawe te leef.

Albert Einstein het gesê


Many of the things you can count, don’t count.
Many of the things you can’t count, really count.
– Albert Einstein

Dis die eerste keer dat ek hierdie een raaklees en dit het nogals met my gepraat.

Mens is baie geneig om alles in geldelike waarde of ‘what is in it for me’ om te sit dat mens baie keer vergeet om die klein goedjies in die lewe na waarde te skat.

My Ma het altyd gesê “Thank God for everything, no matter how small, because when you thank Him for the little things, He will bless you with more.”  Sy was ‘n baie wyse mens.  Mens vergeet om dankie te sê vir gesondheid, die gawes om te kan sien, hoor, voel, proe en ruik, die feit dat ons kan loop en goed kan optel en verskuif, kan lees, musiek kan luister, kan slaap, kan wakker wees, kan redeneer, kan liefhê en bowenal dat ons vryheid van geloof geniet.

Dis nie die huis  saakmaak nie, dis die mense wat in die huis woon wat saakmaak.

Ek dink tog, as ek wel ‘n nuwejaarsvoorneme vir 2012 kan maak, sal dit wees om meer aandag te gee aan die klein dingetjies in die lewe wat my gelukkig maak, meer aandag te gee aan die mense wat vir my saakmaak en beslis meer aandag gee aan my innerlike gesondheid.

 

Die ‘stepping stones’ in mens se lewe …


All misfortune is but a stepping stone to fortune.
— Henry David Thoreau

Ek het al baie keer hierdie ‘quote’ vir my kinders aangehaal, sonder dat ek geweet het daar is so ‘n ‘quote’. Maar ek haal hom nie so aan nie. Ek sê altyd vir hulle, alles in die lewe is slegs ‘n ‘stepping stone’ na die volgende ding.  Soos bv. toe my oudste sy eerste werk gekry het. In die begin was alles goed, maar later het hy begin kla.  Dan  het ek vir hom gesê, die werk is net ‘n ‘stepping stone’ na iets beters.  Iets om op jou CV te skryf wanneer jy na beter werk begin soek.

Ek dink mens kan dit op alles in die lewe van toepassing maak.  Ons het tog almal al geleer dat niks ooit dieselfde bly nie.  Mettertyd verander dinge, verhoudings kry ‘n nuwe dimensie soos – verlief word lief, of kwaad verander in ‘n vyand of vriendskap verander in ‘n dieper verhouding.  Die lewe is maar net so.  Niks bly dieselfde nie.  Daarom is alles bloot ‘n ‘stepping stone’ na die volgende dimensie.

Natuurlik kan jy, wanneer jy op die ‘stepping stone’ staan, besluit of jy ‘n tree op na ‘n beter dimensie gaan gee, of ‘n tree af na ‘n slegter dimensie.  Ons het almal die vermoë om te kies.  Partykeer besluit ons, ons is so tevrede met ons huidige ‘stepping stone’ dat ons nie ‘n verdere tree gaan gee nie.  Dis wanneer ons ons gemaksone gevind het.  Dis daar waar ons gemaklik met onsself is, tevrede met omstandighede en oor die algemeen is alles so na aan ‘perfek’ as wat kan kom.  Maar dan begin dinge in die lewe ons druk, dalk ‘n finansiële las, of ‘n emosionele verlies, ‘n nuwe werk, ‘n nuwe verhouding … maar ons klou halstarrig vas aan daardie gemaksone, want ons raak bang vir wat om die draai vir ons wag.  Ek self is ook maar skuldig daaraan.  Ek hou nie baie van verandering nie en verrassings – vir my – is maar op hul beste nie iets wat ek van hou nie.  Ek hou bloot net nie van goed wat my gemaksone bedreig nie.  Maar miskien moet mens hierdie dinge sien as nuwe geleenthede om dalk beter te doen – of dit nou finansieël of emosioneel is – en dit aangryp.  Partykeer moet mens net mens se oë toeknyp en daardie tree vat want miskien maak dit ‘n hele nuwe wêreld vir mens oop. ‘n Nuwe wêreld met nuwe uitdagings, nuwe vriende, nuwe werk of dalk net meer kennis sodat jy die volgende ‘stepping stone’ beter kan betree.

Ek is vandag net dankbaar dat ek wel die treë geneem het na nuwe ‘stepping stones’ wat hierdie afgelope jaar vir my uitgepak was.  Party het ongekende hartseer gebring terwyl ander weer nuwe mense in my lewe gebring het en my lewe op soveel maniere verryk het.

Ek hoop dat die nuwe jaar baie goeie en positiewe ‘stepping stones’ in ons almal se lewenspaadjie sal pak, maar as daar ‘n negatiewe ‘stepping stone’ uitgelê is, hoop ek dat die ‘stepping stones’ wat ons reeds geloop het, ons sal help om die negatiewe ‘stepping stone’ met moed en oortuiging aan te pak sodat ons vinnig kan aanbeweeg na iets beter.

Motivering


As mens die lewe leef, kry mens so nou en dan ‘n dag of tyd wanneer jy ‘down’ voel en op hierdie blog wil ek poog om klein stukkies motivering te deel.  Ek is nie ‘n guru nie, ook nie ‘n graadbelaaide individu nie, net ‘n gewone mens wat elke dag vat soos hy kom en probeer oorleef na die beste van my vermoë.

Ek lees omtrent elke dag iets wat my motiveer, en dit is wat ek hier wil deel.  Partykeer motiveer dit wat ek lees my werklik, ander kere maak dit nie sin nie, of partykeer is ek net nie ontvanklik vir die ‘raad’ nie.  Maar deel gaan ek dit deel, want wat is ‘n blog nou anders as om te deel wat ons deurmaak?

Die motivering stukkies is nie uit my eie pen nie, maar ek gaan dit interpreteer en probeer om dit vir die spesifieke dag toe te pas en dan kyk of dit werk.  Ek is nie ‘n groot voorstaander van hierdie ‘self-help’ boeke nie, want meeste van die tyd is van dit goed totaal en al onhaalbaar en verwag van ons om amper perfek te wees.  Wie wil nou perfek in ‘n onperfekte wêreld wees?  Jy sal mos soos ‘n seer vinger uitstaan!

Iederwel, julle het my afgelope jaar saam met my gedeel, die vreeslike ‘ups’ en dan die geweldige ‘downs’ en deur dit alles probeer mens maar net sin maak … met die motivering gedeelte van my blog, gaan ek poog om teen die einde van die jaar 2012 ‘n ‘Wow’ oomblik te beleef en werklik sin te maak uit dit wat ons ‘lewe’ noem.