Internasionale Pers Dag – 26 Maart 2016


En NEE, liewe mense, dis nie die dag waar seksuele gefrustreerdes hulle lot by ander bekla en hoop dat dit, eendag op ‘n reëndag, weer goed sal gaan ‘in the land down under’ nie.

Nee, International Purple day, is die dag waar mense dwarsoor die wêreld bewusmaking doen vir die siekte – Epilepsie – en die wat daaraan ly.

Purple Day is an international grassroots effort dedicated to increasing awareness about epilepsy worldwide. On March 26th annually, people in countries around the world are invited to wear purple and host events in support of epilepsy awareness. Last year, people in dozens of countries on all continents including Antarctica participated in Purple Day!

Ek wil vandag vir julle ‘n storie vertel van ‘n man wat ek so bewonder, dat die man, ten spyte van, geweldige terugslae, waarvan epilepsie een was, ‘n sukses van sy lewe gemaak het. ‘n Man wat altyd ‘n grappie het om te deel, altyd ‘n hand uitsteek om te help en bowenal, ‘n man wat ‘n seëning in my lewe is.

Toe die mannetjie gebore was die dag, het sy ouers nooit voorsien wat vir hom sou voorlê nie. Ek dink nie eens die woord – Epilepsie – het in hulle woordeskat bestaan nie!

Hy was briljant (die slimste van die kinders – is steeds vandag briljant – word net genoem om te wys dat Epilepsie nie onderskei tussen intelligensie grade nie, dit onderskei op geen manier nie) en ‘n pragtige seun met kuiltjies in sy wange, skitterblink ogies en ‘n onnutsige geaardheid.

Tot die dag wat hy agteroor geval het en ‘n kopbesering opgedoen het. Die kopbesering het aanleiding gegee dat die seuntjie tot 40 aanvalle per minuut gekry het. Hy was later so erg dat hy heeltemal verlam geraak het.

Maar sy ouers het nie opgegee nie. Elke denkbare toets is gedoen, elke dokter, spesialis, en ek glo, ruk-en-pluk dokter, is besoek, maar daar was geen salf te smeer nie.

Die ma het later besluit dat geloofsgenesing die antwoord was. En so het sy, met haar seun, Stanger to gery om sodat daar vir sy genesing gebid kan word.

Om ‘n lang storie kort te maak, die seun het begin gesond raak. Stelselmatig het die lamheid en die ‘blank look in the eyes’ verdwyn tot so ‘n mate dat hy slegs probleme gehad het om sy een hand en arm te gebruik.

Daardie dae, in hoërskool, het mens mos die A, B en C klasse gehad en dan die Spesiale Klas (die klas het so fancy-rige naam gehad, maar ek kan nie onthou wat dit was nie). Ten spyte van die onderwysers en die ‘ongelowiges’ en die ‘pessimiste’ van die tyd se voorstel dat die seun eerder in die spesiale klas moet skoolgaan, het die ma besluit dit is nie vir hom nie. Hy het steeds dieselfde skrander brein gehad waarmee Die Here hom geseën het, hy het net gesukkel om begrippe vinnig te snap, en met die hand, het die skrywery maar moeilik gegaan. Maar, sy het so besluit en dit is toe so gedoen.

En ja, teen almal se verwagtinge, het die seun op die einde, sy gewone matriek gemaak, net soos enige ander normale kind. Hy het hard gewerk. Geleer en geleer en nooit moed opgegee nie. Ek glo hy het partykeer moedeloos geraak, maar hy het nooit handdoek ingegooi nie. En dit is wat ek van hom bewonder. Daai deursettingsvermoë.

Vandag is hy al oor die 50 jaar oud, getroud met ‘n lieflike vrou, pragtige kinders en kleinkinders en saam het hulle vir hul ‘n goeie lewe uitgekerf. Dit wil gedoen wees.

En die man? Is my liewe boetie Warren. Vir hom wil ek sê, dankie dat jy nog altyd ‘n inspirasie was. Dankie vir al die lekker lag, al die grappies en die drukkies wanneer dit nodig was. Jy is ‘n yster!

Epilepsie is nie ‘n skande nie, mens hoef nie agter jou hand daaroor te praat nie. Daar word beraam dat 1 uit elke 100 mense, ly aan Epilepsie. Epilepsie is nie aansteeklik of ‘n psigiatriese of sielkundige probleem nie. Daar is nie ‘n wonderkuur nie.

Dit is wel so, dat as iemand wat nog nooit ‘n aanval aanskou het nie, hulle hulself boeglam skrik en dan begin rondhol soos muis op steroids, maar dis nie nodig nie. Bly kalm en doen die volgende:

first-aid-chart

 

Ek hunker …


Het jy al opgestaan en verlang na iemand, maar jy weet nie wie dit is nie? Ek het vanoggend so gevoel maar ek het presies geweet wat (nie wie) ek mis!

Zimbabwe-Food-Recipes-Porridge-reMapfunde-578x300

My pa was in ons huishouding verantwoordelik vir die ontbyt (of ek kan onthou hy het op ‘n stadium die ontbyt gemaak), maar omdat ons 7 kinders was, het die fancy kits onbytkosse omtrent net drie dae gehou. Dus moes die ander oggende pap gemaak word. My jongste sê steeds daar is niemand wat krummelpap soos Oupa Frik kan maak nie!

Maar vanoggend het ek nie lus gehad vir die krummelpap nie, nee, vir die eerste keer in my lewe was ek lus vir die Maltabella pap wat hy gemaak het.  Glad sonder ‘n enkele knop (ek weet nou nie wat is die Afrikaanse woord hier nie) en donkerbruin. Ek onthou hoe ons dan ‘n klont(jie) regte egte botter en baie suiker ingegooi het en dan dit geroer het tot alles opgelos het en net so ‘n titseltjie melk. Dan het ons ewe langtand daaraan geëet want ons het kamtig nie van Maltabella pap gehou nie!  En vanoggend toe proe ek daai pap so in my gedagtes en wens my pa kan dit vir my vanoggend gemaak het – maar nee … hy sit mos nou lekker in Danabaai en hou vakansie!

So hunker ek ook na ander goed …

  • Fietsry sessies, skool toe en terug, sonder om bekommerd te wees oor ongure karakters wat agter die bosse skuil
  • Swem .. toe ek nie omgegee het hoe ek lyk in ‘n swembroek nie
  • My ma se aartappelslaai en haar kerrie-en-rys
  • Die stem sing Maandae oggende in die skoolsaal en voor ons verdaag ‘n gewyde liedjie. Ek onthou nog “Watter vriend het ons in Jesus” baie goed en ons as skool het dit in kanon gesing. Dit was altyd vir my mooi!
  • Sondagmiddag etes met die hele gesin om die tafel … al het dit 60% van die tyd uitgeloop op ‘n twis tussen die kinders
  • Mada, ons speelmaatjie
  • My ma se ingelegde perskes
  • Waarlemoen eet met die ALTYD daaropvolgende ‘smeer’ sessie en dan duik in die swembad
  • Slip-n-slide dag wanneer die swembad se seil na die winter afgehaal is
  • Haasdas se Nuuskas en die vlag wat 12uur in die nag gewapper het
  • My naweek kuiers by my vriendin Koekies
  • Bel vanaf ‘n telefoonhokkie
  • Paaseiers in die tuin soek

Ag daar is nog so baie!  Partykeer moet mens jouself net die tydjie gun om terug te dink en daai ‘warm fuzzy feeling’ te beleef.  Dan kyk mens weer vorentoe want … die lewe en sy realiteite gaan aan.

Waaraan dink jy as jy begin hunker?

Partykeer is mens net geseënd … en dis dit!


indexWanneer mens vir jouself werk is dit asof mens partykeer in ‘n tipe van doolhof beland … doolhof van rekenings wat betaal moet word en kliënte wat daarenteen, nie altyd gretig is om te betaal nie … dan is dit asof mens se hart vinniger begin klop en elke keer as die foon lui, dan loer jy hom asof dit ‘n gesant uit die hel is.  Of as die selfoon begin lui … en Ray Dylan se ‘Jy’s stout’ maak jou bang in plaas van om ‘n glimlag op jou bakkies te plak … dan weet jy … dis tyd dat ‘n wonderwerk gebeur.

‘n Wonderwerk – vir my – gaan hand aan hand met ‘n gesegde van my Pa: “The best helping hand is at the end of your own arm.” ‘n Wonderwerk gebeur nie sommer net vir sommer nie, daar moet ‘n aksie wees sodat jy die verwagte teenreaksie of resultaat kan kry.  En dit is juis daarom dat ek altyd op die uitkyk is vir nuwe dinge om te leer of te ervaar binne my besigheids veld.

So gebeur dit ook dat ek beland op ‘n groep op Facebook – South African Entrepreneurs (SAE) – wat laasjaar deur ‘n jongman Tebogo Serithi begin is, met ‘n eenvoudige WhatsApp groep. Ek het dadelik lid geword, want besigheid is besigheid en mens kry dit partykeer op die vreemdste plekke. Ek het begin saamgesels op die WhatsApp groep en skielik moet daar provinsiale takke gestig word en voor ek my oë kon uitvee, word ek ingestem as die Voorsitter van die Noord Wes tak. Ek kon dit nie glo nie! Maar ek sal vandag vir julle sê dit was van dag een af vir my ‘n wonderlike ondervinding en ‘n absolute seën.  Dit is net wonderlik om met mense te werk wat werklik honger is … honger vir kennis … honger om hard te werk en honger is vir sukses. Omdat ek ‘n mens is wat graag leer en ook graag my kennis met ander deel, pas dit my soos ‘n handskoen.

Ek kon eers nie verstaan hoekom ek op hierdie pad geplaas is nie, maar ek weet nou … daar het vir my deure na nuwe besigheid oopgegaan wat ek nie in my wildste drome sou kon verwag nie! En daarom voel ek uitermatig geseënd.

Ja, om vir mens self te werk is nie altyd maklik nie en daarvan kan Maankind self getuig. “Self employment” is ‘n unieke uitdaging, maar ek verruil dit vir niks ter wêreld nie.

Ek op my kluit …


So sit ek die naweek en dink.  Daar is soveel dinge wat in die wêreld gebeur terwyl ek rustig – soos ‘n uitgespande donkiekar – op my bank lê en TV kyk!  Dit is eintlik verbysterend …

Iewers skenk iemand geboorte terwyl iemand anders iewers van ‘n geliefde afskeid neem. Iemand koop ‘n nuwe Laptop terwyl elders, een gesteel word (dis nou ek daai wat die vakansie twee inbrake moes beleef), mense word in Frankryk geskiet, Boko Haram maai 2 000 mense af, Durban word gekroon as die beste stad in Suid Afrika, die ANC hou partytjie en so kan ek aangaan … dit alles terwyl ek rustig in my huis sit.

Toe tref dit my … ons is elkeen maar net ‘n hoenderhaan wat koning kraai (soos Lewies Mymer se gans) op sy eie kluit. Party mense se kluite is bietjie groter met ‘n paar sub kluite – elkeen met sy eie hoenderhaan wat kraai, en dan is daar ander – soos ek – wie net die gewone allerdaagse kluit het, maar ek kraai en rumoer op hierdie kluit dat dit ‘n vreeslike affêre afgee!

So loop die gedagtes aan en aan en ek besef dat, alhoewel ek net ‘n doodgewone kluit het, dit my kluit is en ek wel my kluit kan omtower in ‘n kluit ter kluite! Hier kan ek ‘n verskil maak, ek kan vrede teweegbring en ek kan sorg dat dit ‘n sukses is. So kan ons elkeen ‘n verskil maak deur te skrop en te spartel en aanhou probeer en probeer tot ons dit regkry. Ons kan hard werk sodat ander kan sien wat ons regkry en dan ons voorbeeld volg – wel as mens nou ‘n positiewe verskil sou maak.

Maar ek dink partykeer raak ons so ingenome met onsself dat ons net aanhou kraai en op die einde van die dag nie veel regkry nie. Dis sulke tye wat ek dink die gekraaiery raak so ‘n gefuif en lawaai dat Die Here ‘earplugs’ in sy ore druk en wonder wat Hy gedoen het om dit te verdien!

Mag jou gekraai vandag soos musiek in Die Vader se ore wees en mag dit niemand de hoenders in maak nie!

Sommer een aan geteken toe ek nie kon slaap nie.

Sommer een aand geteken toe ek nie kon slaap nie.

 

Hoe ek jou ma ontmoet het …


Pa en Ma

Nou die dag kuier my Pa ‘n bietjie hier nadat hy by sy vriend van 66 jaar (‘n totale leeftyd) in die hospitaal gaan kuier het.  Ons het ge ‘di’tjies en da’tjies’ en skielik – so uit die bloute – vertel hy die storie van hoe hy my Ma ontmoet het en so gaan dit …

Jy weet, na die oorlog – met my Ma wat in die konsentrasiekamp was, het ons die Engelse en alles waarvoor hulle gestaan het, gehaat. As jy daardie tyd vir my sou sê dat ek met ‘n Engelse vrou sou trou, sou ek baie ontsteld en kwaad gewees het, dit was net nie gedoen nie. Maar die Here het ander planne gehad, Hy het gesê, laat ek vir Frik ‘n goeie Engelse vrou gee.

Haar pa was ‘n skool inspekteur en hy en sy familie was daar om vir jou Ma se broer te kuier. Ek en jou Ma se broer was vriende en het by dieselfde skool skoolgehou. Die dag moes ek ‘n belangrike boodskap vir haar broer vat en die hele ent pad probeer ek my ‘is’s en are’s’ bymekaar kry en ek werk uit wat ek gaan sê. Ek was ‘n stoere Afrikaner en kon amper geen Engels praat nie en ek was baie op my senuwees. Maar eindelik klop ek aan die deur en jou Ma maak oop. Ek het die boodskap na die beste van my vermoë oorgedra en weer die pad huistoe gevat.

Jou Ma vertel jare later dat sy dadelik – toe ek wegry – na haar Ma toe gegaan en vir haar gesê, “I’ve just met the man I am going to marry.”

Jy weet … ek het daardie dag gesneuwel en ek het dit nie eers geweet nie!

My Ma was ook nie werklik Afrikaans magtig nie en ek onthou so ‘n storie oor “Dankie vir die heerlike aambeie en room.” opmerking na ‘n ete by vriende Smile.   Maar sy het Afrikaans geleer en kon dit later baie goed praat.

My Pa het ook Engels magtig geraak en kon dit later soos ‘n propperse Engelsman praat.

Ek is bly hulle is my ouers!

Toe tref dit my!


363684-2e388d0a-b49a-11e3-9592-fced9bc5820e

Ja, gister was my verjaarsdag en ek is op 47 steeds soos ‘n kind oor die dag.  Dit is alles my ma skuld (bless her soul). Ek onthou dat my liewe moeder geweier het dat net die verjaarsdagmaaitjie ‘n persent kry.  Ek weet nie of dit so was met die broers nie, maar met ons sussies … wanneer een sussie verjaar het, het die die ander twee sussies ook ‘n persentjie gekry.  Weliswaar nie so groot en nice soos die verjaarsdagsussie nie, maar ‘n persent bly ‘n persent!

Ek en my oudste suster verskil ‘n skamele 7 maande (en vir die wat dink dit is onmoontlik – glo my dit is – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag) en omdat my verjaarsdag in die yskoue maand van Julie val, het ons maar gewoonlik ‘n gesamentlike partytjie gehou op ousus se verjaarsdag. Daai tyd was daar nie goed soos ‘Party Planners’ nie.  Ons het self al die goedjies gemaak. My gunsteling? Marie Beskuitjies met so sjokolade mengsel op met 3 smarties. Daai skinkbord met die Marie Beskuitjies het ek dan ook die dag met die partytjie streng onder bewaring gehou en gesorg dat elkeen net een koekie vat – te bang ek kry dalk nie een nie!

Maar terug na “Toe tref dit my!”

Gister toe ek wakker word tref dit my dat ek oor drie jaar 50 jaar oud sal wees! Die halfeu merk wink vir my! Dit het my ‘n bietjie ‘sad’ gemaak – want toe ons kinders was, het ons gedink dat 50 jaar stokoud, oor die muur en een voet op ‘n piesangskil is!

Maar gisteraand – toe my broer my bel – en ek my lot by hom bekla, toe sê hy vir my dat ek nog ‘n ‘spring chicken’ is en dat ek nie nou ‘sad’ moet wees nie.  Hy reken, mens besef eers op 50 dat mens moet begin leef en dat mens eers dan eintlik wakker skrik …

So almal wat voor die halfeu merk is … geniet dit meer want jy is nog ‘n ‘spring chicken’ en voel geseënd vir die jare voor jy die groot 50 tref!

 

 

By pienkpantoffels Posted in Die lewe

My Oudste staan op trou!


10156120_10152743153539638_6153033356155032842_n

Dit voel soos gister wat hy as pap babatjie in my arms gelê het!  Maar vandag is hy yslik groot, ‘n volwassene op die drempel van die grootste gebeurtenis in sy lewe!

Toe hy die dag uit die huis getrek het, het ek vir hom hierdie gediggie geskryf  en steeds bly dit van toepassing!

 

Wens ek kon jou hand vat

En jou paaie vir jou loop.

 

Wens ek kon jou drome sien

En dit alles vir jou koop.

 

Wens ek kon al die einas

Van jou lewe wegstroop.

 

Maar ek kan net op ‘n afstand

Met my raad jou probeer lei.

 

Met liefdevolle moederswoorde

Die angste vir jou bestry.

 

Met uitgestrekte hande

Jou optel as jy gly.

 

‘n Groot geskenk uit Vadershand

Om op te pas en te leen.

 

‘n Kind aan my toevertrou

Vir liefde, leiding en steun.

 

My kind, my kleinood, my hart se punt

Mag, altyd, vrede en vreugde op jou reën.

 

Ek is natuurlik mal oof my aanstaande skoondogter en sien uit na nog baie kuiertjies.  Sy is ‘n absolute juweel uit God se hand en ek is so bly Tjaart het haar ontdek.  Ek is diep dankbaar dat hulle goed is vir mekaar en ek wens hulle net die beste in alles toe ….

By pienkpantoffels Posted in Die lewe

Die krag van ‘n onwillekeurige glimlag


Vier weke gelede het ek die eerste steekpyn in my duim gevoel, maar oudergewoonte die geignoreer soos die spreekwoordelike stopstraat.  Die naweek egter was dit nie net die duim aan die een hand nie, nee, dit was altwee duime en die wysvingers en laaste maar nie die minste nie, het die pinkie ook sy stuiwer in die pynbeurs begin gooi.

Daarom is ek vandag dokter toe, want ek het my vingers nodig.  Ek tik, ek verf, ek skryf, pluk blomme, hou boeke vas as ek lees, maak kos en doen soveel dinge met my vingers dat ‘n lewe met pynende vingers wat goed halfhartig vasvat, vir my ondenkbaar is.

Die dokter het die vingers hier en daar gedruk en gesê dis Osteo-Artrites – maar darem in die begin want daar’s nog nie knobbels nie.  Met daai woorde sien ek in my geestesoog my hande – wat ek nog altyd doodge’cream’ het want ek is bang hulle lyk oud – met yslike knobbels en punte wat so na een rigting trek.  ‘n Sad …. sad ding om te sien.

Na ek by die apteek pille gehaal het, kruie ek deur die parkeer terrein terwyl ek grawe in die Dischem sak vir my dadelvinger en ‘n goeie vriend stop langs my en maak asof hy my vreeslik uittrap oor my bestuursvernuf.  Ek het gelag en klaar beter gevoel.

Toe ek by die huis kom, besluit ek om te gaan lê … maar al wat ek sien is daai knobbels op die hande en ek draai en draai en sukkel om te slaap.  Skielik sien ek weer my vriend se kamma uittrap parade in die parkeerterrein en ek voel hoe my mondhoeke onwillekeurig lig en ek glimlag breed.  Sy gesig met sy breë smile het die lelike beeld van die hande vervang en ek kon toe uiteindelik my middagslapie inkry.

Dankie Willie, jy het my vandag gelig toe ek dit nodig gehad het.

My Droom


Chocolate Cupcake -Ek het gisteraand so lekker geslaap toe ek begin droom het van ‘n reusagtige groot tjoklit cupcake!

Die cupcake was perfek hooggerys met die allerlekkerste sagte tjoklit room versiersuiker en afgerond met ‘n blink kersie bo-op.

Ek het eers my vinger deur die sagte versiersuiker getrek en behaaglik daaraan geproe.  Die proetjie het my rasend van lus gemaak en ek het groot happe begin vat.

Maar, hoe meer ek gehap het, hoe groter het die cupcake geword!  Ek het soos ‘n smulpaap aangehou eet en eet.  Ek kon myself nie keer nie.

Later kon ek nie meer nie en dit het gevoel of die tjoklit cupcake in my keel vassit soos peanut butter aan mens se verhemelte klou.  Dit het begin voel asof ek nie asem kry nie!

Ek het beangs geraak en hortend na my asem begin snak soos ‘n vis op droeë grond.  Ek het gevoel hoe my longe smag na suurstof en ek het begin “Nee! Nee!” skree terwyl ek voel hoe my asemteue al hoe korter word.

Met die laaste bietjie krag wat ek in my gehad het, het ek teen die cupcake begin beur en eindelik van my weggestoot.

Ek was so verlig dat ek plotseling uit my droom ontwaak het!

Die enigste probleem wat ek nou het is … my “Hou op snork” sponskussing het verdwyn!!

Victoria West


Met ons rit af Danabaai toe het ons in Victoria Wes oorgeslaap by ‘Rest-a-while’, ideaal vir net oorslaap. Kamers is netjies en skoon.

Ek was ook baie verbaas om te sien dat die Spar reeds vyfuur toemaak, dus, as jy daar wil oorslaap en ‘n eetdingetjie koop, doen dit voor vyf.

Daar is die pragtigste huise wat mooi gerestoureer is en definitief ‘n moet sien is.

This slideshow requires JavaScript.