Hoe ek jou ma ontmoet het …


Pa en Ma

Nou die dag kuier my Pa ‘n bietjie hier nadat hy by sy vriend van 66 jaar (‘n totale leeftyd) in die hospitaal gaan kuier het.  Ons het ge ‘di’tjies en da’tjies’ en skielik – so uit die bloute – vertel hy die storie van hoe hy my Ma ontmoet het en so gaan dit …

Jy weet, na die oorlog – met my Ma wat in die konsentrasiekamp was, het ons die Engelse en alles waarvoor hulle gestaan het, gehaat. As jy daardie tyd vir my sou sê dat ek met ‘n Engelse vrou sou trou, sou ek baie ontsteld en kwaad gewees het, dit was net nie gedoen nie. Maar die Here het ander planne gehad, Hy het gesê, laat ek vir Frik ‘n goeie Engelse vrou gee.

Haar pa was ‘n skool inspekteur en hy en sy familie was daar om vir jou Ma se broer te kuier. Ek en jou Ma se broer was vriende en het by dieselfde skool skoolgehou. Die dag moes ek ‘n belangrike boodskap vir haar broer vat en die hele ent pad probeer ek my ‘is’s en are’s’ bymekaar kry en ek werk uit wat ek gaan sê. Ek was ‘n stoere Afrikaner en kon amper geen Engels praat nie en ek was baie op my senuwees. Maar eindelik klop ek aan die deur en jou Ma maak oop. Ek het die boodskap na die beste van my vermoë oorgedra en weer die pad huistoe gevat.

Jou Ma vertel jare later dat sy dadelik – toe ek wegry – na haar Ma toe gegaan en vir haar gesê, “I’ve just met the man I am going to marry.”

Jy weet … ek het daardie dag gesneuwel en ek het dit nie eers geweet nie!

My Ma was ook nie werklik Afrikaans magtig nie en ek onthou so ‘n storie oor “Dankie vir die heerlike aambeie en room.” opmerking na ‘n ete by vriende Smile.   Maar sy het Afrikaans geleer en kon dit later baie goed praat.

My Pa het ook Engels magtig geraak en kon dit later soos ‘n propperse Engelsman praat.

Ek is bly hulle is my ouers!

Advertisements

Man soek Vrou!


Op Facebook kom ek op hierdie Status-opdatering af …

Is daar dalk ‘n jong dame daar buite wat na ware liefde soek. Ek ken iemand wat na ‘n baie ordentlike meisie soek en ‘n man kan bederf. Hy is baie antreklik het baie respek vir ‘n vrou en sal net die beste bied. Pikswart hare groen oe en like ‘n uitdaging. As jy belangstel stuur my ‘n epos na xxxxx@xxxxxxxxxxxxxxxxxxx.co.za met ‘n pic en biekie oor jouself…

Natuurlik is daar baie oooooo’s en aaaaaa’s en ‘ek wonders’ ens.

Nou wonder ek by myself …

Hoekom soek die ou nie self nie?

Ek wonder of mans werklik besef hoe lief ‘n vrou kan hê?

WayneRoberts

Weet jy ek is vrou?

Weet jy ek is vrou en dat jy vlindersag deur my hart moet beweeg?

Besef jy dat jou geluk, jou liefde, jou alles, soos ‘n web deur my lewe weef?

Vat my hand vanaand en kom ons vlieg weg …

Maak oop jou hart en voel my asem deur jou vleg

Sprei jou vlerke my lief, sodat ek in hul koelte rus kan vind

Vou my toe met jou hande en beskerm my teen lewe se wind.

Weet jy dat ek jou liefhet met hart, siel en vlees?

Weet jy dat jou menswees een is met my gees?

As ons saamvlieg met ons gesigte na die son

Sal jou liefde hier in my hart klop en klop soos ‘n drom.

Ja my lief, as jy net kan besef, verstaan

Dat jou liefde, my vryheid se weg oopbaan.

Weet jy ek is vrou?

Weet jy ek is lief vir jou?

Weet jy dat jy nie elke dag jou krag aan my moet bewys?

Dat, deur net jy te wees, gelukkig maak my lewensreis?

Weet jy dat ek oor die Drakensberg vir jou sal loop?

Wel nie kaalvoet nie, maar met tekkies by PEP gekoop?

Weet jy dat ek soos Rageltjie van ouds vir jou sal beskerm

Nie heeltemal kaal nie, omdat ek my oor my plooie ontferm?

Weet jy dat ek altyd vir jou, my lief, daar sal wees.

Dalk nie in vlees, maar altyd in gees.

Weet jy dat as jou woorde soos ‘n vulkaan oor my sproei

My hart se wande in hul hitte verskroei?

Ek vra nie baie, ek vra nie veel.

Ek wil net graag jou lewe met jou deel.

En as ek in die oggend my hare kam en my “magic wand” my gesig omtower

En ek so skalks oor my skouer vir jou loer, weet jy … weet jy rêrig

Dat jy my hart, vir ewig, het verower?