Ek het ‘n tjip op my skouer


En hierdie tjip is nie daai klein Simba tjippie waaroor die perfekronde aartappeltjie sing nie, nee dis sommer een van daardie groot Mc Cain tjips wat per helikopter op tafelberg neergesit word.  So groot is daardie tjip op my skouer!

En hoekom het ek daardie tjip op my skouer?  Omdat ek hom kan hê.  En ek dra lekker aan hom en hy het al so deel van my geword soos die vuvuzela deel is van Suid-Afrikaanse sokker.

Hoekom dink ek vanaand aan daardie tjip?  Miskien omdat die gedagtes van die lewe my ver teruggevat het en ek my lewe so op die keper beskou het en besef het dat dinge so anders kon wees as ek tjiplose besluite kon neem.

‘n Tjip kan ‘n lekker ding wees as hy so knarserig gaargemaak is en amper toegegooi is onder die 36 tamaties in een bottel tamatiesous.

Maar as ‘n tjip so op my skouer lê en en so half sawwerig raak omdat ek hom nie wil eet nie, dan is hy nie meer lekker nie.

Partykeer raak die skouer lam van daardie groot swaar tjip dat ek sommer so skuins bedonnerd raak of hy raak so warm dat hy verander in ‘n tranetrekker.  Maar sit sal hy daar sit en my koggel.

Daai tjip sal dinge in my oor fluister en ek sal luister en ek sal hom glo.  Partykeer laat ek iemand toe om daardie tjip vir ‘n rukkie af te haal, maar dis net ‘n stonde voor ek hom weer teruggryp en terugplaas waar hy hoort.  So wissel my lewe van tjipvoos tot tjiploos en weer terug na tjipvoos.  Dag in en dag uit.  Dis soos ‘n refrein wat oor en oor homself afspeel.  Sonder ophou …

Maar miskien, net miskien vandag … gaan ek daardie tjip van my skouer afgooi en op hom trap sodat daar van hom net ‘n vetkol oorbly.

Advertisements

My ‘Shotgun’ troue


Ek het die spreekwoordelike “shotgun wedding” gehad.  Nie gemeet aan die gevorderdheid van verwagting nie (ek was al lankal ‘n sportsmodel), maar die spoed waarteen alles gereël is.

Dit was ‘n koue wintersoggend.  Ek weet mens begin nie ‘n gelukkige storie met ‘n “doom and gloom intro” nie, maar dit was werklik koud.   Dit was so koud dat die ysbere sekerlik nagemaakte pelsjasse sou aanskaf om die loeiende wind te trotseer.

Daar was nie ‘n gevoel van afwagting in die lug nie.  Geen dramatiese musiek in die agtergrond nie.  Nee, net ‘n normale koue wintersoggend.

Ek was by die werk besig om te verdrink onder my “piling system” toe my selfoon genadiglik begin lui.

“Wil jy nie maar met my trou nie?”  Dit was die woorde waarmee ek gegroet was.

“Jy weet ek wil met jou trou.”

“Wat van môre?”

Natuurlik dink ek dit is ‘n ou grappie.  Ek ken mos die man.  ‘n Halsoorkop tiener is hy nie.

“Ek dink dit is dalk ‘n bietjie gou.”  Lag ek dit af.

“Okay, ek bel jou nou-nou weer.”

En sonder enige verdere groet of die gewone, “ek is lief vir jou”, word ons gesprekkie kortgeknip.

Ek het maar doodnormaal, of eerder doodabnormaal aangegaan met die sortering van die “piling system.”

Ook maar net so in die “groove” gekom toe lui die sel weer.

“Wat van Sondag?”

Man, dis toe daar so ‘n gewaarwording oor my spoel.  Ek besef toe die man is ernstig!  En net soos in ‘n fliek waar mense nuus kry wat hulle nie kan glo nie, gaan sit ek so stadig.

“Dit klink half beter,” antwoord ek versigtig.  Nie heeltemal seker of ek reg is oor my gevoel van sy ernstigheid nie.

“Goed so.  Bel maar solank wie jy daar wil hê, ek sal die reëlings tref.”

Nodeloos om te sê, die wind was uit my seile, ek was stomgeslaan en het ‘n paar minute gevat om tot verhaal te kom.

Almal is haastig gebel en vertel hulle moet hulle regmaak vir die huwelik oor twee dae.  Ek sal nie nou ingaan in die op en aanmerkings nie, want dit sal nog ‘n folio volmaak.

Ek het toe sommer ook die hele “piling system” net so gelos en teen ‘n redelike stywe boete spoed huis toe gery.

Ek vra hom toe wie ons gaan trou.

Hy het so skaam, skaam geglimlag, die koerant nadergetrek en ‘n advertensie vir my uitgewys.

Dial-a-Dominee

Is u van kerk vervreem?  Ek bevestig u in die huwelik.  Enige denominasie welkom.

Skakel ….

“Ons het môre oggend met hom ‘n afspraak.”

Die volgende oggend sit ons toe af na ons afspraak met “Dial-a-Dominee”.  Daar aangekom was ek eers baie beïndruk.  Want buite die was is ‘n klein kapel.  Dadelik “picture” ek ons daar binne met die familie, geliefdes en elke ding.  Maar toe ek so verby die kapel stap pryk daar ‘n bord met die woorde  “Madam Rose.  Palm reader and spiritualist” voor op.  Daai “picture” van ons, die familie en elke ding het skielik soos mis voor die môreson verdwyn.

Ons ontmoet toe die “Dial-a-Dominee” en hy voer so ‘n ligtelike onderhoud met ons.  Deel ons mee dat ons sommer die huwelik daar in sy sitkamer voltrek.  Toe hy sien ek loer so na die kapel, toe vertel hy ons dit was sy liewe oorlede vrou se besigheid en eintlik het hulle mekaar se “callings” baie goed aangevul.  Ek krap nog ‘n bietjie kop oor daai een.

Ek sê toe, nee die ou sitkamertjie gaan te klein wees.  Ek het ‘n lang familie en dat net ek en my man en dalk een of twee ander familielede daar sal inpas.  Vra toe of hy dit by ons huis sal doen.

“Ja,” antwoord hy.  “Daar is dan net die kwessie van die travelling fee.”

Ons handel toe die geldsakies af en hy vra toe of ons ‘n podium of so iets het.  Want, vir ‘n klein ekstra fooitjie, kan hy, as ons ‘n bakkie het, sy polistireen podium saambring.  Dit was toe waar ek die streep trek.

Ai, die volgende oggend was dit omtrent ‘n geskarrel om alles reg te kry.  Dis kos regkry, stoele regpak, ‘n soort van podium aanmekaar slaan maar einde ten laaste kon ek rustig myself gaan opklits.

So tussendeur luister ek hoe almal aankom en eers toe ek die verspotte Dial-a-Dominee se stem hoor toe ontspan ek.  Ek het so ‘n ligte vrees gehad dat hy tussen die geldjie en ‘n bottel brannas weg sou raak.  Maar hy was daar en op sy pos.  En ek hoor toe ook sommer dat hy die nuwe liefde in sy lewe saam gebring het.  Hoe meer siele hoe meer vreugde!

Eindelik het die groot oomblik aangebreek.  Aan die arm van my Pa en my twee seuns agter my, het ek in die sitkamer ingestap.  Ek is seker ek het op daardie stadium een of ander koor in die agtergrond hoor sing of was dit my hart?  Ek was so opgewonde!  Al wat ek gesien het, was die dierbare gesig van my man wat voor die “podium” vir my wag.

Die seremonie het goed afgeloop.  Plegtig soos dit hoort.  Die register is geteken en ek was mev Janse van Rensburg.

Die “Dial-a-Dominee” het ook heerlik gekuier, veral toe ons die sjampanje begin skink.  Hy het eintlik so lekker gekuier dat my man later vir hom moes vra om asseblief huis toe te gaan aangesien ons graag nou saam met ons familie wou kuier.  Hy is toe so slinger-slinger daar weg.  Ek sien hy adverteer nog so hy het darem sy tuiste veilig bereik.

En ek?  My soekende hart het sy rusplek gevind.

This slideshow requires JavaScript.