Partykeer moet mens maar …


Hier in die Janse van Rensburg huis, is naweke die tyd wanneer ons ons oë uitkyk aan stories. Maar daar moet ‘n balans gehandhaaf word, sodat ek ook darem die stories kan kyk waarvan ek hou. Stories soos dramas, drama met komedie en stories gebaseer op ware lewens. Hierdie genres pas nie altyd in met Lifiki se gunsteling kykgenot nie. So wanneer Anaconda op die skerm verskyn … dan kyk ek saam.

How-To-Survive-An-Anaconda-Attack

Maar dis nie sommer net vir kyk nie. Nee, jy moet belangstelling toon. So ‘ooooo’ ek op die gepaste plekke en ‘aaaaa’ op die regte plekke en skrik wanneer dit verlang word. Alles terwyl ek dink … hoe op dese aarde kan mense nie raaksien hoe nagemaak dit is nie!

Maar wat my egter opval is die ‘goeie’ akteurs wat in die fliek speel … ek wonder as hulle nou terugdink aan die fliek hoe hulle daaroor voel? Persoonlik sal ek hoop dat die wye wêreld vir ewig sal vergeet dat ek in so ‘n film gespeel het. Jennifer Lopez… rêrig? Owen Wilson???

Ek worstel nou deur Anaconda … maar glo my … Ananconda 3 wag met gesperde kake op channel 112 … en ek maak myself reg vir die gepaste geluide op die regte plekke … IEMAND … RED MY!

Advertisements

Hier is ek baas …


c16a5320fa475530d9583c34fd356ef5_1426506731

Maankind het vandag op haar Facebook blad dit mooi saamgevat. Op haar Facebook is sy baas. En dit is hoe ek ook voel. Daar kan ek sê wat ek voel, ek kan dink en my gedagtes daar neerpen, grappe maak, ernstig wees en partykeer – hier en daar – ‘n klip in die bos gooi, want op daardie bladsy is net ek die baas. Dankie Maankind dat jy dit my weer laat besef het vandag.

Mens raak so opgevang in al die dinge wat om ons gebeur. Nadat ek ‘n baie onstellende video vandag raakgekyk het, het ek ook sommer myself onttrek van ‘n hele paar groepe. Dit raak net te veel! Veral as dit aan die politiek raak. So maak ek toe ook ‘n ou groepie vir die 20 munisipaliteite wat aan Gedwonge, geskeduleerde beurtkrag onderwerp gaan word omdat ons munisipaliteite diep in die skuld is by Eskom. Genugtig … toe is dit ‘n pandemonium van ‘n sekere politieke party (en nogals die een waarvoor ek gestem het) wat ons oorval met daai opbouende kritiek wat eintlik bedoel is om vir jou te sê hoe domonnosel jy nou in werklikheid is. En net daar besluit ek toe, dis mos nou my groep. En toe hulle snuf in die neus kry dat die koerant my gekontak het, toe word die kamtige helpende handjies (en ek verwys beslis nie hier na die helpende hand fonds nie) uitgesteek in daai soeter as stroop maniertjies … nee kyk, ek is ‘n ou aap … ek sleep nie die ketting nie … ek tel hom op en dra hom! Snaaks hoe mense bang is jy gaan op hulle mishopie piepie … ek het my eie dankie.

Maar dit daar gelaat. Terug na die baas storie. Ek het nou die dag ‘n lieflike aanbod gekry van een van my oorsese kliënte … maar met ‘n hele paar voorwaardes soos ek moet altyd beskikbaar wees in sy tyd, erken nie my naweek rus nie, erken nie my vakansie dae nie … maar die geld klink reg. Maar toe dink ek … ek het mos nou nie my tuisbesigheidjie begin om vir ‘n baas te werk nie? Want op hierdie erf is ek die baas. Ek werk wanneer ek wil, so laat as wat ek wil. As ek ‘n dag wil afvat, dan doen ek dit. Ek werk nie na 3 uur op ‘n Vrydagmiddag nie … ek is gemaklik met wat ek doen en wat ek vir myself geskep het. En dan moet ek ook ‘n onderneming gee dat ek nie vir ander mense sal werk nie. Maar hy kan my nie waarborg dat hy ALTYD vir my werk sal hê nie … tipies die Amerikaanse ego. Maar ek het besluit, ek sal vir hom ‘n paar ure per week gee, maar niemand sal ooit weer my baas wees nie en BASTA!

Om vir jouself te werk is uiteraard nie altyd Maanskyn en Rose nie. Jy skryf jou eie salaristjek, maar partykeer agv dinge wat gebeur, is daai tjek nie heeltemal wat jy verwag het nie, maar ander kere glimlag die heelal vir jou en jou tjek is meer as wat jy verwag het.

Nee wat, ek geniet om vir myself te werk … en so sal dit bly.

O die nostalgie!


Dis die lekkerte van die laataande! Om op youtube rond te grawe en al die ou … ou liedjies op te diep en my ore te bederf met net die mooste en beste!

Wie onthou nog ‘Pop Shop’ op die TV? Elke Vrydagmiddag, dit was vir my ‘n hoogtepunt. Ek onthou ook die ‘vuil’ kyke wat ek van my Liewe Moeder gekry het, want hulle kon nie die nuwerwetse musiek verstaan, wat nog te praat van ‘handle’ nie. Ek onthou dat ‘Another brick in the wall’ vir my my ouers nogals ‘n doring in die vlees was omdat Pa ‘n skoolhoof was en Ma ‘n onderwyseres. Daarom het mens mos maar so half moedswillig die volume knoppie aangedraai as die liedjie op Top 20 gespeel is. ‘n Ander liedjie wat ook baie kontroversieël was, was ‘House of the rising sun’ … en vandag is dit nog ‘n baie gewilde lied.

My pa was ‘n groot ‘fan’ van Rudi Nights (spelling), Leonore Veenemans en my Ma se ‘all time favourite’, Love is a beautiful song en as ‘Amazing Grace’ iewers gesing of gespeel word, dan sien ek haar gesig voor my!

‘n Paar jaar terug het ek hierdie ‘droom’ gehad om ‘n sanger te wees, nogals ‘n CD laat maak en al, maar nie baie vêr gekom nie. Nou luister ek so nou en dan sommer na myself.  http://www.reverbnation.com/marykeanne/songs (Mississipi)

My Liefste Lifiki is weer ‘n groot Dana Winner aanhanger, veral ‘Dreams made to last forever’, en vanaand besluit ek om dit vir hom op YouTube te soek en laat hom toe luister op die foon met die oorfone. Ai, die saligheid op sy gesig … absoluut ‘Priceless’

As ‘n tiener het ek ook ‘n ‘Song to cry by’ gehad, vir wanneer die tienerliefde nie uitgewerk het nie … dan het ek ABBA se ‘The winner takes it all’ oor en oor geluister terwyl die trane geloop het!  En vandag as ek ‘Spirit in the sky’ hoor, dan jeuk die voete om ‘n dansbaan te betree. Maar die wederhelfte is mos met twee linkervoet gebore en nie een van hulle het ‘n tikkie ritme in hulle nie 😦

Ek onthou ook ek en my jongste sus het altyd gesing in die kar. Die mooiste wat ons altyd saamgesing het … Mooiste Griekeland … en ons het ge’harmonize’ soos professionele sangers! Dit was vir my baie lekker.

Ek en oudste sus het die ‘borsel as ‘n mic’ ding gedoen … ‘Hey Mickey, you’re so fine Mickey…’ ai …, as ons kamer se spieëlkas kon praat!

Maar nou het ek genoeg in gister rondgehang. Laat ek die tegnologie afskakel en slaap. Dit word laat!

Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer …


Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval armoede jou soos ‘n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ‘n inbreker.

~ Die Bybel

– Salomo, Spreuke 6:10-11

Dis mos ‘n gewilde aanhaling vir ouers as die kinders bietjie laat wil slaap.

Soos julle weet sukkel ek geweldig om te slaap, maar ek het nou ‘n besluit geneem.

Dondergaand lê ek in die bed so om en by 11:00 en dis ‘n gedraai en gerol van ‘n ander wêreld. Eers is daar ‘n knop onder die knieg, dan ‘n vou in die laken onder die sy, dan lê sekere dele van die antomie ook nie lekker as ek op die maag draai nie, en die hakskene begin brand as ek op die rug draai … dan begin die ritueel weer van vooraf met dieselfde knoppe, voue en vreemde posisies. So teen twaalfuur besluit ek, TOT HIER TOE EN NIE VERDER NIE!

Ek skakel die lig aan en trek die skootrekenaar nader. Begin werk en voor ek my oë kan uitvee is dit drie-uur en ek is vaak. Die oë traan en ek gaap soos ‘n vis op droeë grond. Skakel die skootrekenaar en bedlampie af en word die volgende oggend eers weer wakker.

Vrydagaand weer dieselfde – die knoppe, draaie, ongemak – en toe gaan die spreekwoordelike lig vir my aan! Drie-uur is my slaaptyd! Dis die tyd wanneer ek aan die slaap raak sonder sukkel, sonder rondrol, sonder knoppe en voue wat my pla.

Dis toe ek vir myself sê … ek werk mos vir myself, ek het my eie ure, ek het nie ‘n baas wat verwag dat ek 8uur op kantoor moet wees nie, ek het nie kinders wat 7uur by die skool moet wees nie EN ek werk altyd laat so ek kry my werk in. Hoekom MOET ek 11uur gaan slaap? Daar is mos nie meer vir my ‘n MOET nie!

Saterdagaan het ons ‘n DVD dag gehad en my dierbare beste vriendin het laat eers huistoe gegaan. Maar ek het rustig nog TV gekyk tot die vaak my oorval het so teen 2:30. Het in die bed geklim en amper onmiddellik aan die slaap geraak.

Sondagaand dieselfde, eintlik het ek al 1:30 al vaak geraak en gaan slaap. Geen probleem.

So, van nou af, gaan ek slaap as die vaak my oorval, maak nie saak hoe vroeg of hoe laat nie … want ek HOEF nie ‘n sekere tyd in die bed te wees en ‘n sekere tyd weer wakker te word nie. My slaapprobleem is opgelos!

keep-calm-because-i-can-i-will-end-of-story

So van nou-af slaap ek wanneer ek wil … want ek kan. Nou moet Salomo net ophou om by my te spook!  Ek dink hy moet sy hardwerkende miere vat en iemand anders gaan pla 🙂