Om ‘n nuwe (nuut vir my) kar te koop


Is nogals ‘n ondervinding en ‘n half!  Die opmerkings en raad partykeer snaaks en dalk seker iets waaroor jy moet dink.

Soos jul weet het ek so ‘n ruk terug my hart se punt afgeskryf en sit nou in die situasie waar ons ‘n plaasvervanger moet kry.  As jy gedink het ‘kontantkoop’ hou enige voordele in, dink weer, dit maak nie ‘n bloue duit se verskil nie – en as hulle die woorde ‘kontant and no trade-in’ hoor, dan tree hulle terug asof jy die Melaatse uit die kinderbybel is en jy word van kop tot toon betrag om vas te stel of jy vergeet het om jou hare te borsel of dat jou hare ‘stylishly deurmekaar’ is en of jy so aantrek omdat jy nie iets anders het nie of dat jy dalk besig is om ‘n ‘ek is enig in my soort’ fashion statement te maak.  Dan loer hulle so agter jou om te sien in watter kar jy huidiglik ry … en jy kan letterlik op die gesigte sien hoe hulle daai ‘checklist’ deurgaan en dan die finale besluit neem … betaal sal jy betaal, veral omdat jy nou ‘n kar wil hê met ‘n kattebak, CD speler, Lugreëlaar en kragstuur.

En moenie die kyke vergeet as jy sê jy soek nie ‘n ‘hunch back of Klerksdorpdam’ kar nie.  Jy word aangekyk asof jy so pas ingery het van genoemde dam buite die dorp met een of ander ‘tree to tree’ kar met vlerke op die boot, geklee in visplakkies en ‘n spaghetti-strap hempie.

Ek hou van ‘n mooi kar.  Vir my man mooi vertel van ‘n ‘tydlose’ ontwerp en dit so ingedril dat die eerste woorde wat hy nou sê is, ons soek ‘n kar met ‘n tydlose ontwerp, dan kyk hy vir my en smile daai smile wat my knieë oombliklik verlam, maar ons praat nou oor karkoop so ek gaan nie van die onderwerp afdwaal nie.

So beloer ek ‘n BMW 318i en sal die mannetjie vir my vertel dat ‘die kar te vinnig vir tannie is’, duidelik weet hy nie van die paar astronomiese spoedboetes wat ek al op die hals gehaal het nie en tot sy nadeel het hy ook vergeet, ek is nie sy tannie nie.  Wederhelfte het dit natuurlik baie amusant gevind en lekker gelag tot die volgende verkoopsman vir hom vertel dat die spesifieke kar nie daarvan hou om geRY te word nie maar hy is seker dit sal nie ‘n probleem wees nie ‘want dit lyk nie asof oom iemand is wat van spoed hou nie’.  That settled that!  Die verkoopsman sal ons seker ook nie weer sien nie want Lifiki het juis die Volvo gekoop oor sy Turbo en hoekom koop jy ‘n kar met ‘n Turbo?

Na ‘n uitputtende soektog, land ons toe by ‘n plekkie wat mooie karre op die vloer het.  Ons het hulle almal bekyk, maar ongelukkig is hulle bietjie bo ons vuurmaakplek.  Ek love natuurlik steeds ‘n Volvo en het verlangend gestaan en kyk na een.  Die verkoopsman het al sy goeie eienskappe besing soos ‘n kanarie op sy eerste vryheidsvlug.  Ek het ge-oe en ge-aa soos dit ‘n koper betaam.  Ek vra hom toe wat dink hy van die Peugeot 407.  Hy het so rukkie gestaan en dink en toe het die lig opgegaan ‘baie oulike karre, maar om eerlik te wees, die herverkoop waarde is maar sleg’.

Ja meneer, jy het vergeet ons het ‘n Volvo gehad.  Gekoop in 2003 vir ‘n mooi bedraggie en kon, toe ons hom wou verkoop, nie ‘n ‘plausible’ aanbod kry nie.  Ek kan nie verstaan hoekom nie want dis een van DIE veiligste karre op die pad, ‘n kanniedood wat uitasem sy laaste myl sal ry om jou by jou bestemming te kry al is daar fout met die clutch, al rook die exhaust en al het die turbo ingegee.  Daai kar sal jou nie sommer laat staan langs die pad nie.  Maar dis maar net my sentiment omdat daai kar ‘n nuwe era in my lewe aangekondig het.  Maar dis ‘n lang storie.  Ek het daardie kar sentimenteel baie lief.

Maar terug na die ywerige Volvo verkoopsman.  Die gaan toe aan oor die Peugeot se herverkoopwaarde wat so sleg is en toe ek nou vir hom noem dat dit nou nie juis baie anders is as die Volvo se situasie nie, het hy ‘n paar keer soos ‘n vis op droeë grond na lug gehap en gesê ons moet dan ons nommers laat en hy sal by hulle ander takke hoor vir ander karre.  Ek vermoed hy sal ons nie kontak nie.  Net vir ‘final measure’ het ek seker gemaak my ‘stylishly deurmekaar’ kapsel is not ‘stylish’ in die Volvo se kantspieëltjie en toe maar aangegaan na die volgende plek.

Die ergste is natuurlik as jy by ‘n plek kom en daar is nie pryse op die karre nie!  WTF????  Dan kom daar ‘n verkoopsmannetjie aan wat jou en jou wederhelfte al klaar opgesom het terwyl julle nog, neus teen die venster, na ‘n kar gekyk het.  Die gewone vragies en dan lei hy mens eerste na ‘n kar, wat jy op ‘n afstand kan sien dit is meer as wat jy vir hom gesê het jy wil spandeer.  Hulle kry seker maar lekker as jy sê “dis bo ons vuurmaakplek” maar ek moet toegee, die manier wat hulle daai glimlag op die gesig hou terwyl hulle jou van duur na goedkoper na nog goedkoper na goedkoopste lei, is ‘something to behold!’  GIVE THAT MAN A BELLS!!!

Moet dan ook nie vergeet van die ‘aanlyn’ plekke nie.  Ek stuur toe ‘n boodskappie ‘Contact us about ‘so-and-so’ car.’  Die antwoord … ‘this car has bla-bla-bla, pictures attached’ en dan die punchline, ‘when do you want to take delivery?’.  Dit nog voor ek ‘n enkelte woord met die mannetjie gepraat het!  Duidelik het hy nie ‘n tekort aan selfvertroue nie.  Kudos vir hom.

Of een wat ek ook nogals amusant gevind het was die ou wat vir ons vertel die kar – waaroor hy ons gebel het wat, volgens hom, in ‘n uitstekende toestand is – is nou nie vandag op die vloer nie want hulle is besig om aan die clutch te werk.  Ja swaer …

Om ‘n kar te koop is ‘n avontuur so gevul met herverkoopwaarde slaggate, parte potholes, ongeluk geskiedenis landmyne, petrolverbruik vurke in die pad, salestalk grondpaaie, diensgeskiedenis spietkops wat nie omgee vir ‘n geldjie in die sak nie, dat mens op die einde van die dag by die huis kom, jou kamoefleerdrag afstroop, jou boots in die hoek gooi, jou backpack afruk, die strepe van jou gesig afwas en jou wonde versorg.  Wanneer die stemme in jou kop bedaar en die grynslagte oor die gedagte horison verdwyn, dan begin jy wonder of jy nie maar daai ou geel Datsun vir R7 000 moet koop nie.  Wat meer kan met daai kar verkeerd gaan?  Niemand sal hom weer wil koop nie – dus is herverkoopwaarde is nie ‘n probleem nie.  Petrolverbruik sal nie ‘n probleem wees nie, want mens sal nou nie so baie wil ry nie.  Diensrekord – hy is so lank op die pad, dat hy nie daar sou wees sonder ‘n backyard mechanic wat nie sy olie getap, sy plugs geprop, sy speedo verstel, sy bakwerk gepanelbeat en hom warm gemaak het vir optimale purrrrformance nie.  Tydlose ontwerp maak nie saak nie, want ek sien daar is weer ‘n terugdraai na die ‘classic box look.’  Veiligheid – wel na die laaste advertensie van die kar wat van Aluminium gemaak is, rest ek my suitcase.  Die aircon sal ek sort met ‘n waaiertjie op die dash en die musiek uit my battery aangedrewe boombox, sal my kopknik hondjie in die agterruit baie gelukkig hou.

 

Oor ontvanklik te wees


Ek lees vandag oor iemand wat sukkel om oor iets wat met hom gebeur het te kom.  En dit het my aan die dink gesit.  Ons almal beleef tragedies, ups and downs en as ek hier moet skryf oor als wat my getref het, sal wordpress se hele domain nie genoeg wees om al my treurmares te host nie.

Ek is al belieg en bedrieg, dierbares is van my weggeneem, ek het goed verloor, goed is van my gesteel, ek is al sleggesê en beskinder en baie ander goed.  Dan het ek ook al baie verkeerde besluite geneem en deur my eie toedoen in warmwater (partykeer kookwater) beland.

Ek dink die groot geheim is om te besef dat sulke goed mens kan en altemit SAL tref en dit opsigself is dalk nie die probleem nie.  Dis hoe ons die lewensgebeurtenisse hanteer wat die deurslaggewende rol speel.

Ja, jy kan vra hoe ek, wat net ‘n kort rukkie gelede geworstel het in ‘n diep donker put van depressie, nou hier kan probeer om ‘n uplifting boodskappie te plaas.  Die antwoord is eenvoudig – Been there, got the T-shirt, worn it, torn it, tie-dyed it, cut the sleeves off, cut holes in it, stretched it and even made a belly revealing sexy number out of it.  So het elkeen wat hier lees ook al die T-shirt deur al die lewensfases gedra en hom maar aangepas soos wat die lewe dikteer.

Wanneer tragedies (dit sluit nou enige moeilike situasie in) ons tref, is ons geneig om na binne te draai.  Dis nie ‘n slegte ding nie, maar gewoonlik draai ons na binne om weg te kruip ipv dat ons na binne draai om antwoorde te soek.

Ons weet dis ‘n gegewe dat alles in die lewe van verbygaande aard is en ja, selfs die slegte.  Dit is wat ons doen in tye van sleg wat bepaal hoe jy weer die goeie gaan ’embrace’ en joune maak.

Dit is waar ontvanklikheid inkom.  Terwyl ons na binne gedraai is, moet ons ons gedagtes probeer rig op voorbereiding.  Voorbereiding sodat ons ‘willing’ en ‘able’ sal wees om nuwe geleenthede aan te gryp en onsself uit die donker putte van die lewe te lig.  Ongelukkig is dit nie ‘n maklike proses nie en mens kry dit selde op hule eie reg.  Daarom is dit belangrik dat jy iemand het wat kan luister, nie noodwendig raad gee nie, maar net kan luister en so nou en dan uhm en ahhh sodat jy kan weet die persoon luister.  Dis hoe jy stadig maar seker genees en dag na dag, treetjie na treetjie daai put uitklim om weer in die son te staan en die lewe weer vierkantig in die oë kan kyk.

Jy moet ontvanklik raak vir hande wat uitgehou word, ore wat luister, lippe wat praat en skouers wat onder jou moeggehuilde kop ingedruk word.  Jy moet bereid wees om jou oor te gee aan arms wat troos en as iemand sê ‘Ek is hier’, gebruik dit.  Want, al dink jy jy het dit nie nodig nie, weet God van beter en dit is Hy wat daardie mens vir jou stuur.

Jy moet ontvanklik wees, dis al.  Want al daardie positiewe energie gaan krap en grawe in die negatiewe en uiteindelik sal die dag aanbreek wanneer jy reg is om weer in volle oorgawe te leef.