Spreuke 31 Vrou


Ek wonder telke male of ek ‘n Spreuke 31 vrou is.  En ek is seker dat jy dit ook al telkemale gedoen het.

Julle kan wel vra hoekom ek nou oor dit wil skryf en die antwoord is eenvoudig.  Ek wil bepaal of ek een is.

Gisteraand besluit ek om daardie gedeelte oor en oor te lees tot dit insink en dames, groot was my verligting toe ek sien dat daar nêrens gepraat word van die ondankbare takies soos skottelgoedwas, stryk en afstof nie.  En as jy my werklik ken, sal jy weet hoe groot daardie verligting regtig is 🙂

Ek besef toe dat elke vrou wat getroud is en werk, werklik ‘n Spreuke 31 vrou is.  Ja, ons is!   Ons is dalk nie die beste huishoudsters nie, maar ons verkoop ons ware, ons hou toesig oor ons huishouding, ons werk hard, koop eiendom en pluk die vrugte van ons harde werk.

So as jy vandag voel dat jy nie ‘n Spreuke 31 vrou is nie, want jou huiswerk kom tweede na jou werk wat die brood huistoe bring.  Wees verseker, jy is ‘n Spreuke 31 vrou.

Jou waarde word nie bereken deur te bepaal hoe netjies jou huis is nie.  Jou waarde word bepaal deur die waarde wat jy toevoeg tot jou huishouding.

En die tuisteskeppers?  Jou waarde word bepaal deurdat jy die huishouding se wiele goed geolie laat loop.

Wat ek eintlik wil sê, is of jy in ‘n beroep staan of nie, jy is ‘n vrou, jy is ‘n wonderlike vrou, jy is ‘n vrou van waarde en jou waarde is veel meer as kosbare edelstene.

Lekker dag vir elke vrou hier in blogland.

Vrou, ek hou van jou!


Om vrou te wees is spesiaal en ek wil my amper verstout om te sê dat dit sekerlik die spesiaalste (as daar so ‘n woord is) benoeming is wat ‘n mens kan kry!

‘n Vrou kan fyn wees maar haar binneste so sterk soos ‘n leeu.  Sy kan stil wees maar haar stiltes spreek partykeer harder as die gedoef-doef van ‘n tiener se musiek.  Sy  kan vrae vra maar weet dat as sy na binne kyk, is die antwoorde reeds daar.  ‘n Vrou kan met ‘n glimlag en ‘n vriendelike gebaar die hardste mens op sy knieë bring.  ‘n Vrou hou die wêreld in die palm van haar hand en kan die vrede en vreugde van ‘n huishouding bepaal.

‘n Vrou bring ‘n spesifieke sagtheid in die lewe waarsonder dit net hard en ongenaakbaar sou wees.  ‘n Vrou verskaf die balans tussen jy moet en moet jy, jy gaan of gaan jy?

‘n Vrou kan ondersteun terwyl sy lei.  Sy kan opbou terwyl sy teregwys, liefhê terwyl sy ‘n harde woord spreek.

‘n Vrou verstaan haar plek in die lewe, die huwelik en rol as ma, vriendin, dogter en suster.  ‘n Vrou kan haar liefde versprei so wyd soos die Heer se genade sonder dat haar kruik leegraak.  Sy kan groot gee terwyl ‘n klein geskenk vir haar aan haar die wêreld se verskil kan maak.

‘n Vrou leef van dag tot dag en vra nie huldeblyke vir dit wat sy bereik nie.  Haar woorde en dade spreek vanself.  ‘n Vrou sal vreesloos die vyand aanvat as haar geliefdes bedreig word en sy sal aanhou baklei en soek tot ‘n oplossing gevind word.

‘n Vrou met
‘n hart soos ‘n leeu
‘n sag soos ‘n vlinder
kan vlieg soos ‘n spreeu
al is daar iets wat hinder.

‘n Vrou wat
gee met ‘n ope hand
luister met ‘n sagte oor
sal grense verbrand,
met die gehardste toor.

Mag elke vrou op aarde haar waarde besef en Vrouedag met passie vier!

Want sonder jou, vrou, sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het nie!

Sommer ‘n kwiekie


As mens nou die dag lis is, dan is mens lis.  Of gebruik ek nou die verkeerde lis?  Ja dit moet lus wees.  Daai lus met so diep asembelaaide U wat skoon die wind uit mens se seile vat.

Wanneer daai lus jou die dag beetpak, dan is daar geen uitkomkans nie.  Jy redeneer die kant toe en dan daai kant toe.  Probeer so half onskuldig wees maar daai brandende begeerde is in jou gemessel soos ‘n kool vuur en daar is net een ding wat dit kan blus!  En dit is ‘n plan.  Nie ‘n goed deurdente, haarfyn beplande plan nie.  Nee, dit moet so ‘n vinnige, in die hitte van die oomblik, paar oproepe maak besluit wees.  Anders is die gevoelentheid nie reg nie.

So het Pieter en Susan ook maar gedink.  Die lus het gepruttel vir ‘n paar dae en het amper oorkook status bereik.  Dis die dat Pieter vir Susan bel in haar ‘n opdrag gee om ‘n plekkie te vind waar hulle die vuurtjie kan blus.

Susan was ook nie links nie en het toe sommer ‘n rondawel by die dorp se dam bestel.  Dit is mos goedkoop en hulle gaan dit mos nou nie die heelnag gebruik nie.  Pieter was ook heel in sy skik met die reëlings en op die afgespreekte tyd ontmoet hulle mekaar by die rondawel.

Susan het die petalje (geen lakens, geen handdoeke en boonop so surerige reukie) so eenoog loer gegee en terstond besluit, “Hier gaan jy nie vir my neerlê nie.  Ek het ook darem my trots.”

Pieter het ook maar so bolangs geloer en die lustigheid afgesluk,  “Ons moet maar ‘n ander plekkie kry.”

“Ek dink ons moet maar by ‘n hotel inboek.  Dink jy hulle verhuur so by die uur?”   het Susan gewonder.

So het Susan agter hom aangedrentel in haar kar tot hy voor ‘n hotel stilhou.

“Ons soek ‘n kamer.  Ons is hier vir ‘n seminaar en sal hom nie lank nodig hê nie.” het Pieter so met die intrapslag met die aktetas in die hand met die deur in die huis geval.

“Yeah right,” het die ontvangs dame al chappie kouende geantwoord.  “Julle moet maar die gewone tarief betaal.  Ons rent nie per hour nie.”

Susan en Pieter het mekaar so onderlangs geloer.  Die boodskap was duidelik.  Niks en niemand gaan hulle keer om die vuurtjie te blus nie.

Met die, ruil Pieter die gewone tarief vir ‘n sleutel en hulle bestyg die trappe.

In die kamer, maak Pieter die aktetas oop en haal ‘n bottel sjampanje uit met twee glase.  Daar is nie ‘n dokument, papier of pen van ‘n dag oud in die aktetas nie.

“Trek uit!” beveel hy haar.

Susan begin giggel en begin sulke stadige draaibewegings met haar heupe maak.  Sy knoop haar bloes stadig oop en gaan staan voor Pieter.

Hy drup sjampanje tussen haar borste en begin dit oplek.  Sy vou haar arms agter om sy nek en gooi haar kop agteroor.

Hy gryp haar agterstewe en trek haar teen hom vas.

Sy kreun van opgeboude passie en druk hom sodat hy agteroor op die bed val.

Die wêreld en die ontvangsdame, wat presies weet waarmee hulle mee besig is, is totaal en al vergete.  Hulle word opgevang in hulle eie passie en liefde vir mekaar.

‘n Paar minute later lê hulle langs mekaar terwyl hulle asems jaag.  Altwee tevrede en uitgewoed.

Dan staan hulle op en trek aan.  Pieter knip die aktetas toe, draai na Susan en knipoog vir haar.

“Sien jou by die huis my vrou.”

Koes-Koes


Parykeer gaan mens so koes-koes deur die lewe
al wonderend of ons werklik hier hoort
tussen al die mense, gedagtes, gebeurtenisse
wat vorentoe beur, so onverstoord.

Ons wil jammer sê dat ons asemhaal
en ons harte klop
Partykeer wil ons teen die skanse skree
tot ons stemme hees verstop.

Partykeer moet ons net na buite kyk
waar nuwe horisonne wink
na nuwe antwoorde, nuwe paaie
waar ons voete rigting kan vind.

Plekkie in die son


Ons wil elkeen ‘n plekkie in die son hê en daar is welliswaar ‘n plekkie vir ons elkeen!

Ons is gebore om ‘n plekkie in die son te hê en ons elkeen se strewe is om daardie plekkie te vind.

Hoekom?

Want ons weet instintief dat dit die plek is waar ons kan groei, blom en ons klein verskil aan die wëreld kan maak.

Baie keer vind ons daardie plek en vir ‘n wyle vertoef ons daar.  Ons groei, ons blare sit uit, ons skiet wortel en ons bloeisels blom.  Maar dan kom die vertwyfelings.  Is ons goed genoeg?  Is ons mooi genoeg?  Is ons maer genoeg?  Is ons slim genoeg?  En wanneer ons daardie saadjie langs ons in ons plekkie in die son geplant het, dan water ons hom met negatiewe gedagtes.  En voor ons ons oë uitvee, het daardie saadjie gegroei in ‘n hemelbesem van ‘n boom wat die son van ons afkeer.  En in daardie ongevraagde koelte kan ons nie groei nie.

Al wanneer ons ‘n bietjie son voel is wanneer die winde van erkenning en waardering deur daai boom waai en die sonstraaltjies so saggies swiep-swiep oor ons gemoed.  Maar dit is altyd kortstondig.

Kort voor lank sit ons maar weer in daardie boom se koelte en bibber!

Daar is twee maniere om van daardie boom ontslae te raak.

1.  Jy kan ‘n ander plekkie gaan soek, jouself verplant en weer probeer wortel skiet op ‘n ander plek.  Maar ongelukkig is dit net ‘n tydelike oplossing.  Want daardie boom wat jy agterlaat, kan weer saad skiet en daardie saadjie gaan weer langs jou land.  Kort voor lank sit jy weer en bibber in ‘n boom se koelte.

2.  Roei daai boom wortel en tak uit!  Kyk jou vertwyfelinge vierkantig in die oë en besweer hulle een vir een.  Kap hom stukkie vir stukkie af deur vir jouself te vertel dat jy iets werd is.  Brand die sade deur weer in jouself te glo.  Elke mens op aarde beteken iets.  Ons het dit elkeen in ons om groot hoogtes te bereik as ons net bereid is om van die bome ontslae te raak.

Jy is geregtig op jou plekkie in die son.  Maar wees versigtig dat jy nie ‘n koelteboom vir iemand anders word nie!

Ek het oor die tou getrap


Ja, soos baie ander vrouens wat die aarde bewandel, het ek ook oor die tou getrap.  Ek was omtrent 20 jaar oud en die lewe was ‘n lied.  Ek was vry en nie meer onder die wakende oog van my ma nie.  Natuurlik het ek alle dinge ondersoek, maar nie altyd net die goeie behou nie.

 

So het dit gebeur dat ek swanger geraak het en toe ek vir die pa van my kind vertel dat ek swanger is, het hy vir my vertel dat hy getroud is.  My drome van ‘n sprokieshuwelik het aan flarde gespat en ek het gesit met die gebakte pere of eerder die brood in die oond.

 

Die senuwees het geknaag en ek moes met die sak patats vorendag kom en voor ek my oë kon uitvee was ek ‘n inwoner van ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders in Pretoria.  Dis nou Tswane vir die wat nie meer kan onthou wat Pretoria is nie.

 

Ek gaan nie vreeslik uitbrei oor wie daar was nie maar ek is ingeboek in ‘n kamer wat ek moes deel met drie ander meisies wat in dieselfde ongehude toestand as ek was.  Ek noem hulle sommer Susan, Annemarie en Poppie.

 

Susan was die stil en sterk een.  Lang donker hare met ‘n glimlag wat die kamer verlig.  Sy was nie ‘n vrou van vele woorde nie, maar sy kon op haar regte staan.

 

Annemarie was giggelrig.  Oor enige iets gelag – ek vermoed dit was maar die senuwees.  Sy was baie skaam oor haar toestand en ook baie hartseer oor die verloop van haar lewe.  Sy het baie planne gehad oor hoe sy haar lewe verder sou inrig.

 

Ons het elkeen ons storietjie gehad.  Susan en haar vriend het besluit om die kindjie te gee vir aanneming aangesien nie een van hulle reg was vir trou nie.

 

Annemarie het uitgevind sy is swanger nadat sy en haar vriend opgebreek het.  Sy het nie kans gesien vir trou nie en was loopbaan georiënteerd en kon nie wag om weer haar loopbaan te hervat nie.

 

Poppie weer het te vertelle dat sy en die pa van haar kind so opgewonde was oor die aankomeling dat hulle dadelik verloof geraak het.  Ongelukkig het haar verloofde toe omgekom op die grens of een of ander weermag verwante ongeluk.  Ek is nie meer seker oor die ware feite nie.  Maar sy het ons besig gehou met al haar stories en natuurlik het ons aan haar lippe gehang.

 

Om in ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders te wees was nie baie lekker nie.  Dit was maar bra vervelig en ons is besig gehou met skoonmaak, kosmaak en so een keer per week kon ons die dorp invaar.  Baie soos koshuislewe sonder die skoolgaan natuurlik.

 

Ons was ook maar almal so op dieselfde stadium van swangerskap en een aand besluit ons, genoeg is genoeg en Poppie vertel toe vir ons dat ‘n bediende op hulle plaas vir haar vertel het dat as mens touspring dan kan dit die geboorte aanhelp.

 

Die volgende dag is ons natuurlik in dorp toe om ‘n springtou aan te skaf.  Daardie aand het ons so al om die beurt tougespring dat die sweet ons aftap.  Maar dit nie gehelp nie.  Ons was almal nog verwagtend die volgende oggend toe ons wakker word.

 

Tydens die middagete vertel Poppie toe vir ons dat sy weet van ‘n vrou wat ons kan help.  Sy het al baie meisies gehelp deur hulle water te breek sodat die geboorte vinniger afgehandel kan word.  Sy het die adres en die foonnommer vir ons gegee.  Vir die doel van die storie gaan ek ‘n fiktiewe adres gee, andersins sal die leser nie verstaan nie.  Burgerstraat 88.

 

Daardie aand is Poppie opgeneem en haar dogtertjie is gebore.

 

Die volgende oggend besluit ek, Susan en Annemarie dat ons nie langer gaan wag nie en dat ons daardie vrou gaan opsoek.  Ons was moeg gewag en het vreeslik ingehok gevoel.  Vrouens sal nou weet waarvan ek praat.  Ons was op daardie stadium wat ons moes nes skrop maar daar was nie ‘n nes om te skrop nie … of so iets.

 

Ons het gemaklike stapskoene aangetrek en gewapen met ‘n padkaart het ons soos wafferse drie musketeers begin stap.  Nie een van ons was werklik bekend met die strate van Pretoria nie.  Maar met die hulp van die kaart het ons wel die straat opgespoor.

 

Ons het daardie straat op en af gestap.  Maar nommer 88 was nêrens te vinde nie.  Normaalweg lê 88 tussen 86 en 90, maar nie in hierdie geval nie.  Nommer 88 was skoonveld!  Ons het later toe by 86 aangeklop en die tannie het aan ons verduidelik dat daar nog nooit ‘n nommer 88 was nie.  Vir een of ander rede het die munispaliteit ‘n fout gemaak toe hulle die straatnommers gemaak het.

 

Mens, maar ons was baie kwaad vir Poppie!  Daar staan ons toe in Burger straat, ons voete seer, ons moed in ons tekkies, ons humeure op ontploffingspunt en niks nader aan geboorte gee as die oggend wat ons die tehuis verlaat het nie.  En sy lê en aansterk in die hospitaal soos die Queen Mother!

 

Ons het gelukkig ‘n geleentheid terug na die tehuis gekry by nommer 90 se eienaar en ons het tot laat in die aand lê en bespiegel oor hoe sy geweet het dat Burgerstraat nie oor ‘n nr 88 beskik het nie.  En so met die gesels deur het ons agtergekom dat daar ‘n hele paar goed oor haar was wat nie gestrook het nie.  Die liggies het so een vir een aangegaan en soos hulle aangegaan het, het ons besef hoe sy ons om die bos gelei het.  Maar hoekom, kon ons nooit verstaan nie.

 

Die dag wat Poppie uit die hospitaal ontslaan is het sy haar goed by die tehuis kom haal.  Die matrone het vir ons kom vertel dat ons almal in ons kamers moes bly en nie mag uitgaan voor sy die tehuis verlaat het nie.  Maar vertel dit nou vir ‘n lot verwagtende dames wat net sit en wag vir iets opwindend om te gebeur.

 

Ek, Susan en Annemarie het agter om die huis gesluip en om die hoek geloer.  Tot ons verbasing het daar ‘n polisie motor gestaan.  Die beampte het die tassie uit haar hand geneem haar geboei en agterin die motor gehelp.

 

Julle kan julself voorstel hoe dit daardie aand gegons het.  Ek weet tot vandag toe nog nie waaroor sy in hegtenis geneem is nie, maar ons het beslis haar stories beter verstaan.

 

Uiteindelik het my beurt ook aangebreek.  My dogtertjie is gebore, die pragtigste grootoog kind met swart haartjies.  Die dag wat ek haar moes groet het ek net lank na haar gestaan en staar en probeer om die prentjie in my gedagtes in te brand.

 

In my hart weet ek dat daar twee ouers op aarde is wat my kind met liefde versorg en ek hoop dat sy dit eendag in haar hart sal vind om my op te spoor sodat my hart ook vrede kan vind.

 

Gelukkige verjaarsdag!

Ek het ‘n tjip op my skouer


En hierdie tjip is nie daai klein Simba tjippie waaroor die perfekronde aartappeltjie sing nie, nee dis sommer een van daardie groot Mc Cain tjips wat per helikopter op tafelberg neergesit word.  So groot is daardie tjip op my skouer!

En hoekom het ek daardie tjip op my skouer?  Omdat ek hom kan hê.  En ek dra lekker aan hom en hy het al so deel van my geword soos die vuvuzela deel is van Suid-Afrikaanse sokker.

Hoekom dink ek vanaand aan daardie tjip?  Miskien omdat die gedagtes van die lewe my ver teruggevat het en ek my lewe so op die keper beskou het en besef het dat dinge so anders kon wees as ek tjiplose besluite kon neem.

‘n Tjip kan ‘n lekker ding wees as hy so knarserig gaargemaak is en amper toegegooi is onder die 36 tamaties in een bottel tamatiesous.

Maar as ‘n tjip so op my skouer lê en en so half sawwerig raak omdat ek hom nie wil eet nie, dan is hy nie meer lekker nie.

Partykeer raak die skouer lam van daardie groot swaar tjip dat ek sommer so skuins bedonnerd raak of hy raak so warm dat hy verander in ‘n tranetrekker.  Maar sit sal hy daar sit en my koggel.

Daai tjip sal dinge in my oor fluister en ek sal luister en ek sal hom glo.  Partykeer laat ek iemand toe om daardie tjip vir ‘n rukkie af te haal, maar dis net ‘n stonde voor ek hom weer teruggryp en terugplaas waar hy hoort.  So wissel my lewe van tjipvoos tot tjiploos en weer terug na tjipvoos.  Dag in en dag uit.  Dis soos ‘n refrein wat oor en oor homself afspeel.  Sonder ophou …

Maar miskien, net miskien vandag … gaan ek daardie tjip van my skouer afgooi en op hom trap sodat daar van hom net ‘n vetkol oorbly.

My ‘Shotgun’ troue


Ek het die spreekwoordelike “shotgun wedding” gehad.  Nie gemeet aan die gevorderdheid van verwagting nie (ek was al lankal ‘n sportsmodel), maar die spoed waarteen alles gereël is.

Dit was ‘n koue wintersoggend.  Ek weet mens begin nie ‘n gelukkige storie met ‘n “doom and gloom intro” nie, maar dit was werklik koud.   Dit was so koud dat die ysbere sekerlik nagemaakte pelsjasse sou aanskaf om die loeiende wind te trotseer.

Daar was nie ‘n gevoel van afwagting in die lug nie.  Geen dramatiese musiek in die agtergrond nie.  Nee, net ‘n normale koue wintersoggend.

Ek was by die werk besig om te verdrink onder my “piling system” toe my selfoon genadiglik begin lui.

“Wil jy nie maar met my trou nie?”  Dit was die woorde waarmee ek gegroet was.

“Jy weet ek wil met jou trou.”

“Wat van môre?”

Natuurlik dink ek dit is ‘n ou grappie.  Ek ken mos die man.  ‘n Halsoorkop tiener is hy nie.

“Ek dink dit is dalk ‘n bietjie gou.”  Lag ek dit af.

“Okay, ek bel jou nou-nou weer.”

En sonder enige verdere groet of die gewone, “ek is lief vir jou”, word ons gesprekkie kortgeknip.

Ek het maar doodnormaal, of eerder doodabnormaal aangegaan met die sortering van die “piling system.”

Ook maar net so in die “groove” gekom toe lui die sel weer.

“Wat van Sondag?”

Man, dis toe daar so ‘n gewaarwording oor my spoel.  Ek besef toe die man is ernstig!  En net soos in ‘n fliek waar mense nuus kry wat hulle nie kan glo nie, gaan sit ek so stadig.

“Dit klink half beter,” antwoord ek versigtig.  Nie heeltemal seker of ek reg is oor my gevoel van sy ernstigheid nie.

“Goed so.  Bel maar solank wie jy daar wil hê, ek sal die reëlings tref.”

Nodeloos om te sê, die wind was uit my seile, ek was stomgeslaan en het ‘n paar minute gevat om tot verhaal te kom.

Almal is haastig gebel en vertel hulle moet hulle regmaak vir die huwelik oor twee dae.  Ek sal nie nou ingaan in die op en aanmerkings nie, want dit sal nog ‘n folio volmaak.

Ek het toe sommer ook die hele “piling system” net so gelos en teen ‘n redelike stywe boete spoed huis toe gery.

Ek vra hom toe wie ons gaan trou.

Hy het so skaam, skaam geglimlag, die koerant nadergetrek en ‘n advertensie vir my uitgewys.

Dial-a-Dominee

Is u van kerk vervreem?  Ek bevestig u in die huwelik.  Enige denominasie welkom.

Skakel ….

“Ons het môre oggend met hom ‘n afspraak.”

Die volgende oggend sit ons toe af na ons afspraak met “Dial-a-Dominee”.  Daar aangekom was ek eers baie beïndruk.  Want buite die was is ‘n klein kapel.  Dadelik “picture” ek ons daar binne met die familie, geliefdes en elke ding.  Maar toe ek so verby die kapel stap pryk daar ‘n bord met die woorde  “Madam Rose.  Palm reader and spiritualist” voor op.  Daai “picture” van ons, die familie en elke ding het skielik soos mis voor die môreson verdwyn.

Ons ontmoet toe die “Dial-a-Dominee” en hy voer so ‘n ligtelike onderhoud met ons.  Deel ons mee dat ons sommer die huwelik daar in sy sitkamer voltrek.  Toe hy sien ek loer so na die kapel, toe vertel hy ons dit was sy liewe oorlede vrou se besigheid en eintlik het hulle mekaar se “callings” baie goed aangevul.  Ek krap nog ‘n bietjie kop oor daai een.

Ek sê toe, nee die ou sitkamertjie gaan te klein wees.  Ek het ‘n lang familie en dat net ek en my man en dalk een of twee ander familielede daar sal inpas.  Vra toe of hy dit by ons huis sal doen.

“Ja,” antwoord hy.  “Daar is dan net die kwessie van die travelling fee.”

Ons handel toe die geldsakies af en hy vra toe of ons ‘n podium of so iets het.  Want, vir ‘n klein ekstra fooitjie, kan hy, as ons ‘n bakkie het, sy polistireen podium saambring.  Dit was toe waar ek die streep trek.

Ai, die volgende oggend was dit omtrent ‘n geskarrel om alles reg te kry.  Dis kos regkry, stoele regpak, ‘n soort van podium aanmekaar slaan maar einde ten laaste kon ek rustig myself gaan opklits.

So tussendeur luister ek hoe almal aankom en eers toe ek die verspotte Dial-a-Dominee se stem hoor toe ontspan ek.  Ek het so ‘n ligte vrees gehad dat hy tussen die geldjie en ‘n bottel brannas weg sou raak.  Maar hy was daar en op sy pos.  En ek hoor toe ook sommer dat hy die nuwe liefde in sy lewe saam gebring het.  Hoe meer siele hoe meer vreugde!

Eindelik het die groot oomblik aangebreek.  Aan die arm van my Pa en my twee seuns agter my, het ek in die sitkamer ingestap.  Ek is seker ek het op daardie stadium een of ander koor in die agtergrond hoor sing of was dit my hart?  Ek was so opgewonde!  Al wat ek gesien het, was die dierbare gesig van my man wat voor die “podium” vir my wag.

Die seremonie het goed afgeloop.  Plegtig soos dit hoort.  Die register is geteken en ek was mev Janse van Rensburg.

Die “Dial-a-Dominee” het ook heerlik gekuier, veral toe ons die sjampanje begin skink.  Hy het eintlik so lekker gekuier dat my man later vir hom moes vra om asseblief huis toe te gaan aangesien ons graag nou saam met ons familie wou kuier.  Hy is toe so slinger-slinger daar weg.  Ek sien hy adverteer nog so hy het darem sy tuiste veilig bereik.

En ek?  My soekende hart het sy rusplek gevind.

This slideshow requires JavaScript.

 

Oudword


Stadig tik, tik, tik die ure deur my
En tyd kronkel langsaam om my mondhoeke verby.

Beelde vervaag na ‘n dowwe skim
op die hosison my gedagtes die verte in.

Ek probeer roep en keer met stem
power,sag, onwillig getem

my wil, my bestaan, my menswees
‘n greintjie van eens my grote gees

wat oorwin het elke donker poel
in my weg geplaas met ‘n sekere doel

So geduldig sit ek en wag
vir die roep van die nag

wat wink met soete verleiding
na my ewige bevryding.

Libido vir mans


Om ‘n vrou spesiaal en geliefd te voel is nie werklik so moeilik nie …

L – Liefde.  Die vrou is ‘n emosionele wese en liefde is bo-aan haar prioriteitslys.  Dink aan jou bronstige tienerjare.  As jy vir die meisie gesê het, “Ek is lief vir jou.”   Was sy putty in jou hande.
I – Innovasie – Dieselfde ding oor en oor en oor is nie werklik waarna ons soek nie.  Dink aan nuwe en innoverende idees om jou vrou the romantiseer.
B – Braaf – Wees daardie ridder op die wit perd vir jou vrou.  Sorg dat die krane nie lek nie.  Sorg dat ligte brand en dat haar skedonkie waarin sy elke dag die kinders skool toe vat, altyd padw(v)aardig is.  Rol klippe uit haar pad.  Wees daar as sy jou nodig het.  En onthou, ons benodig partykeer net ‘n oor wat luister.  Nog ‘n B – Bederf haar.  Mans is geneig om te dink dat die woord, bederf, sinoniem is met ‘n groot geskenk.  Maar dit is nie.  Onthou – ‘n sagte woord keer die grimmigheid af.  As jy jou vrou ken, sal jy weet wat haar groot bederf is.  Dalk ‘n borrelbad, of skottelgoed wat gewas word, of ‘n wegneemete wanneer jy weer sy’t ‘n moeilike dag agter die blad.
I – Intiem – Maak seker dat julle spesiale tye alleen kan wees.  Skep ‘n intieme oomblik met ‘n bietjie wyn, sagte musiek, ‘n blom of twee en daardie spesiale lig wat uit jou oë skyn as jy jou vrou sien.
D – Deoderant 🙂  Dit is nou nie ‘n ding wat mens kan versmaai nie.  Daar is niks so lekker soos ‘n man wat lekker ruik nie.  Maar nie so oordadig dat sy hooikoors kry van die walms nie.  En ‘n bier/brannas asem is so uit soos ‘n opblaaspop op Valentynsdag.
O – Oorrompel haar.  Nie die “sleep na die grot aan haar hare” oorrompel nie.  Nee, oorrompel haar met aandag, sagte woorde en liefde.  As jy nou ‘n spesiale aandjie met jou vroutjie wil spandeer, stuur vir haar warm sms’e, e-posse.  Verras haar met ‘n bos blomme wat by haar werk of tuis afgelewer word met ‘n mooi nota.  Bou stap-vir-stap op na ‘n aand wat julle albei na nuwe hoogtes voer.

Onthou, elke geleenthed wat jy misloop, kan jy nooit weer inhaal nie.  En ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat elke grys haar op ‘n man se hoof, ‘n teken is van ‘n verlore geleentheid.