Hoe ek jou ma ontmoet het …


Pa en Ma

Nou die dag kuier my Pa ‘n bietjie hier nadat hy by sy vriend van 66 jaar (‘n totale leeftyd) in die hospitaal gaan kuier het.  Ons het ge ‘di’tjies en da’tjies’ en skielik – so uit die bloute – vertel hy die storie van hoe hy my Ma ontmoet het en so gaan dit …

Jy weet, na die oorlog – met my Ma wat in die konsentrasiekamp was, het ons die Engelse en alles waarvoor hulle gestaan het, gehaat. As jy daardie tyd vir my sou sê dat ek met ‘n Engelse vrou sou trou, sou ek baie ontsteld en kwaad gewees het, dit was net nie gedoen nie. Maar die Here het ander planne gehad, Hy het gesê, laat ek vir Frik ‘n goeie Engelse vrou gee.

Haar pa was ‘n skool inspekteur en hy en sy familie was daar om vir jou Ma se broer te kuier. Ek en jou Ma se broer was vriende en het by dieselfde skool skoolgehou. Die dag moes ek ‘n belangrike boodskap vir haar broer vat en die hele ent pad probeer ek my ‘is’s en are’s’ bymekaar kry en ek werk uit wat ek gaan sê. Ek was ‘n stoere Afrikaner en kon amper geen Engels praat nie en ek was baie op my senuwees. Maar eindelik klop ek aan die deur en jou Ma maak oop. Ek het die boodskap na die beste van my vermoë oorgedra en weer die pad huistoe gevat.

Jou Ma vertel jare later dat sy dadelik – toe ek wegry – na haar Ma toe gegaan en vir haar gesê, “I’ve just met the man I am going to marry.”

Jy weet … ek het daardie dag gesneuwel en ek het dit nie eers geweet nie!

My Ma was ook nie werklik Afrikaans magtig nie en ek onthou so ‘n storie oor “Dankie vir die heerlike aambeie en room.” opmerking na ‘n ete by vriende Smile.   Maar sy het Afrikaans geleer en kon dit later baie goed praat.

My Pa het ook Engels magtig geraak en kon dit later soos ‘n propperse Engelsman praat.

Ek is bly hulle is my ouers!

Toe tref dit my!


363684-2e388d0a-b49a-11e3-9592-fced9bc5820e

Ja, gister was my verjaarsdag en ek is op 47 steeds soos ‘n kind oor die dag.  Dit is alles my ma skuld (bless her soul). Ek onthou dat my liewe moeder geweier het dat net die verjaarsdagmaaitjie ‘n persent kry.  Ek weet nie of dit so was met die broers nie, maar met ons sussies … wanneer een sussie verjaar het, het die die ander twee sussies ook ‘n persentjie gekry.  Weliswaar nie so groot en nice soos die verjaarsdagsussie nie, maar ‘n persent bly ‘n persent!

Ek en my oudste suster verskil ‘n skamele 7 maande (en vir die wat dink dit is onmoontlik – glo my dit is – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag) en omdat my verjaarsdag in die yskoue maand van Julie val, het ons maar gewoonlik ‘n gesamentlike partytjie gehou op ousus se verjaarsdag. Daai tyd was daar nie goed soos ‘Party Planners’ nie.  Ons het self al die goedjies gemaak. My gunsteling? Marie Beskuitjies met so sjokolade mengsel op met 3 smarties. Daai skinkbord met die Marie Beskuitjies het ek dan ook die dag met die partytjie streng onder bewaring gehou en gesorg dat elkeen net een koekie vat – te bang ek kry dalk nie een nie!

Maar terug na “Toe tref dit my!”

Gister toe ek wakker word tref dit my dat ek oor drie jaar 50 jaar oud sal wees! Die halfeu merk wink vir my! Dit het my ‘n bietjie ‘sad’ gemaak – want toe ons kinders was, het ons gedink dat 50 jaar stokoud, oor die muur en een voet op ‘n piesangskil is!

Maar gisteraand – toe my broer my bel – en ek my lot by hom bekla, toe sê hy vir my dat ek nog ‘n ‘spring chicken’ is en dat ek nie nou ‘sad’ moet wees nie.  Hy reken, mens besef eers op 50 dat mens moet begin leef en dat mens eers dan eintlik wakker skrik …

So almal wat voor die halfeu merk is … geniet dit meer want jy is nog ‘n ‘spring chicken’ en voel geseënd vir die jare voor jy die groot 50 tref!

 

 

By pienkpantoffels Posted in Die lewe