Libido vir mans


Om ‘n vrou spesiaal en geliefd te voel is nie werklik so moeilik nie …

L – Liefde.  Die vrou is ‘n emosionele wese en liefde is bo-aan haar prioriteitslys.  Dink aan jou bronstige tienerjare.  As jy vir die meisie gesê het, “Ek is lief vir jou.”   Was sy putty in jou hande.
I – Innovasie – Dieselfde ding oor en oor en oor is nie werklik waarna ons soek nie.  Dink aan nuwe en innoverende idees om jou vrou the romantiseer.
B – Braaf – Wees daardie ridder op die wit perd vir jou vrou.  Sorg dat die krane nie lek nie.  Sorg dat ligte brand en dat haar skedonkie waarin sy elke dag die kinders skool toe vat, altyd padw(v)aardig is.  Rol klippe uit haar pad.  Wees daar as sy jou nodig het.  En onthou, ons benodig partykeer net ‘n oor wat luister.  Nog ‘n B – Bederf haar.  Mans is geneig om te dink dat die woord, bederf, sinoniem is met ‘n groot geskenk.  Maar dit is nie.  Onthou – ‘n sagte woord keer die grimmigheid af.  As jy jou vrou ken, sal jy weet wat haar groot bederf is.  Dalk ‘n borrelbad, of skottelgoed wat gewas word, of ‘n wegneemete wanneer jy weer sy’t ‘n moeilike dag agter die blad.
I – Intiem – Maak seker dat julle spesiale tye alleen kan wees.  Skep ‘n intieme oomblik met ‘n bietjie wyn, sagte musiek, ‘n blom of twee en daardie spesiale lig wat uit jou oë skyn as jy jou vrou sien.
D – Deoderant 🙂  Dit is nou nie ‘n ding wat mens kan versmaai nie.  Daar is niks so lekker soos ‘n man wat lekker ruik nie.  Maar nie so oordadig dat sy hooikoors kry van die walms nie.  En ‘n bier/brannas asem is so uit soos ‘n opblaaspop op Valentynsdag.
O – Oorrompel haar.  Nie die “sleep na die grot aan haar hare” oorrompel nie.  Nee, oorrompel haar met aandag, sagte woorde en liefde.  As jy nou ‘n spesiale aandjie met jou vroutjie wil spandeer, stuur vir haar warm sms’e, e-posse.  Verras haar met ‘n bos blomme wat by haar werk of tuis afgelewer word met ‘n mooi nota.  Bou stap-vir-stap op na ‘n aand wat julle albei na nuwe hoogtes voer.

Onthou, elke geleenthed wat jy misloop, kan jy nooit weer inhaal nie.  En ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat elke grys haar op ‘n man se hoof, ‘n teken is van ‘n verlore geleentheid.

‘n Vrou op Facebook vra hoekom …


mans nie tevrede kan wees met wat hulle het nie.  Dan gaan sy aan deur te vertel hoe onafhanklik sy is – eie besigheid, selfonderhoudend, sterk – en die wonderlike verhouding wat hulle gehad het.

Sy gaan ook aan en vertel dat sy daarvan gehou het dat hy soveel ouer was as sy en dat hulle ‘n oop en eerlike verhouding gehad het.  Hulle het nie mekaar se geld of aansien nodig gehad nie want hulle was altwee twee besigheidsmense in eie reg.

Maar toe sterf die man en sy moes toe uitvind dat hy ‘n verhouding gehad het terwyl hulle ‘n verhouding gehad het.

Ek antwoord haar toe dat mans ‘n behoefte het om te voel dat hulle benodig word.  Hulle wil die ridder op die wit perd wees.  En ek roer toe so liggies daaraan dat sy dalk TE onafhanklik was en vir hom nie die geleentheid gegee het om haar ridder te wees nie.  Dit het nie so lekker afgegaan nie.

Ek glo ‘n vrou moet aan ‘n man wys dat sy hom nodig het.  Daarmee sê ek nie, die vrou moet niks kan doen nie.  Allermins!  Maar as ‘n vrou absoluut alles vir haarself kan doen, verloor sy nie ‘n tikkie vroulikheid nie?  Moet daar nie iewers ‘n stukkie weerloosheid aan ‘n vrou wees nie?  Daai stukkie wat vir ‘n man sê, “Hier is ek, vat my, beskerm my en wees my veilige hawe.”  Is ons nie daai klein stukkie aan die manne in ons lewens verskuldig nie.  Beteken “kompromie” die aflegging van jouself, of beteken dit die bewys van jou liefde?

Is dit nie waar dat meeste buite egtelike verhoudings spruit uit die feit dat die derde party hulp nodig het nie?  Uit dit wat ek al ondervind/gelees/gesien het, is dit gewoonlik wanneer die man die “ander vrou” bystaan in tye wat vir haar moeilik is, hetsy dit ‘n egskeiding is waardeur sy gaan of as sy haar man aan die dood afgestaan het.  Dit is wanneer die man sy geleentheid kry om die ridder op die wit perd te wees.  En een ding lei tot ‘n ander en so meer ensovoorts.

Wat, per slot van rekening, is fout daarmee om jou man toe te laat om die lampie te vervang, of om die lekkende kraan reg te maak al kan jy dit self doen?  Is dit dan eerder ‘n bewys as ‘n swakheid, of is dit ‘n bewys dat jy genoeg omgee om jou man die geleentheid te gee om behulpsaam te wees?

Ek wonder maar net.

En dan wil ek sommer op die “stoute” trein klim en julle laat met die volgende.

L – Listige Delila.  Wees so listig dat jou man nie kan wag om sy krag te verruil vir ‘n stukkie van jou nie.
I – Inhibisieloos – Speel ‘n bietjie.  Wees avontuurlistig.
B – Brand met passie vir jou man.
I – Innigheid.  Hou hom styf vas en vertel hom hy is jou hero.  Vertel hom hoe sterk en aantreklik hy is.  Vertel hom dat hy ‘n wonderlike minnaar is.  (Nie die beste nie – want dan wonder hy met wie jy hom vergelyk.
D – Druk hom vas.  Op meer as een manier.  Daar is mos ‘n paar spiertjies wat ons dames het wat ons kan gebruik.
O – Oop vir geleenthede.  Onthou, elke geleentheid wat jy misloop, kan jy nooit weer inhaal nie.

Ek wonder soms


Ek wonder soms of jy deur die dag se aanhoudende geknetter,
my stem kan hoor.

Wanneer woorde soos rooi granaatstroop oor jou lippe drup,
ek jou aandag verloor.

Dit is wanneer ek jou wil roep, jou nader wil trek, jou asem
teen my wang wil voel.

Jou in my, oor my, onder my en om my soos die reën om my voete
wil laat poel.

Ek wonder soms …

Ek is


Nog vis nog vlees
So tussen die boom en die bas
En ek wonder oor die geraamte in my kas.

Waar trek ek die streep?
Koop ek maar die kat in die sak?
As jy jou liefde in my hart kom plak?

Kan jy my hart oopsluit?
Kan jy hier binne in my sielsasblik krap?
En die seer, druppel vir druppel uittap?

Sien jy my werklik raak?
In die hutspot van ons samesyn?
Of is ek besig om in die maalkolk te verdwyn?

‘n Klein bietjie hier
en ‘n klein bietjie daar
Die lewe, dit druk so swaar …

Is daar lig aan die einde van die tonnel?
Het ons donker wolk ook sy silwer rand?
Want hier in my hart, is ‘n liefde wat brand

Ek ken jou, ek ken jou goed
Ek ken die paaie, die draaie wat jou gedagtes loop
daarom is jy die een wat my pretensie kan stroop

Ek het jou lief, ek bemin jou siel.
My liefde jou kussing teen die lewe se hou
Jou liefde my lig teen die wêreld se grou

Nog vis nog vlees?
Tussen die boom en die bas?
Net liefde wat die legkaart laat pas.