Aanhaling


Ek weet nie hoe die ding werk nie … maar Lewies het my hier getag om ook my beskeie bydrae te maak.

My aanhaling is iets wat my liewe Moeder altyd vir ons gemaan het om te doen …

Always keep the other person’s crown on his head!

Hou altyd die ander persoon se kroon op sy kop!

9517-frog-princess-crown-power-0756

Dit is iets wat ek altyd onthou en altyd probeer om uit te voer … maar partykeer … net partykeer verlaat die wag voor my mond sy pos en verander my tong ‘n vlymskerp swaard. Dan vergeet ek van die ‘mens het twee ore gekry om mee te luister en NET EEN TONG om mee te praat’ en die woorde marsjeer uit my mond soos soldate op oggendparade.

Iets wat hierby aansluit is iets wat my pa altyd sê “Mens vang meer vlieë met heuning as met asyn.”

Dankie Lewies vir die tag.

Ek tag dan vir Toortsie en Murphy se wet om hulle diepe waarhede en aanhalings vir ons weer te gee.

Die slaafse neiging


esclavitud

Van jongsaf was ek mos maar so ‘n effense rebel … hier en daar teen die prikkels geskop, dan en wan ‘n lawaai gemaak en oor die algemeen, iemand anders se grimmigheid om my hals gehaal. Maar dit was maar ek.

Ek onthou die eerste slaafse navolging op skool (partykeer ook maar dankbaar dat mens – soos die jare met mens aanstap – nie altyd alles kan onthou nie) die stertjie in die hare. Jitte, elkeen van ons wou ‘n stertjie hê, vandag kan ek nie eens onthou watter pop ikoon dit mode gemaak het nie, al wat ek vandag kan onthou is, dit het maar taamlik weird gelyk (alhoewel ek nie toentertyd gedink het dit was weird nie).

In my standerd nege jaar was Michael Jackson nogals groot. Veral die handskoentjies, sonder vingers, wat hy gedra het. Ek dink elke tiener in daardie jare wou daardie handskoentjies gehad het.

Dan was daar ook daai tekkies met die polities inkorrekte naam. Sulke rooies, omtrent almal het daarvan gehad ook. Dit was DIE mode bykomstigheid van die eu.

So leef ons ons lewens en dis amper asof daar elke dag iets in die media verskyn wat, voor jy ‘n oog kan knip, ‘n fenomineem raak en elke persoon streef om so te lyk, of daardie item te besit, of daardie dieët te volg, of daardie proses te volg in die opvoeding van hulle kinders en so ploeter ons voort. Ons raak slawe van die ‘powers that be.’

Die een dag is enige kos sonder vet koning … en jip … die volgende dag word ‘lean mince’, vetvrye joghurt en melk ensovoorts in die abis van verworpenes gewerp. Want skielik moet jy vet eet, drink, droom en sover jy kan, in jou dieët voeg. Dan praat ek nie eers van die nederige blomkool, wat eens net geëet was as dit toegegooi was onder ‘n dik laag kaassous – nie. Die nederige groentesoort het nou die kroonwild van groente geword. Ek sien party mense kla op Facebook dat hulle tot R25 vir ‘n blomkool betaal … want sien, dis mos nou die bantingiaan van banting.

‘n Paar jaar terug het mense begin om daardie oulike familie stickers op hulle karre se agterruite te plak. Nou word mens oorval met ‘status updates’ oor hoe om dit te verwyder.

Ons jonges van vandag volg ook die popsterre na. Kyk, as ek sien wat party van die vrouens op die verhoog dra, dan raak ek bang! Maar met die voortvarendheid van die jeug en hulle onverskrokke houdings, trek hulle vandag net so min aan en geen haan sal daarna kraai nie (seker omdat sy kraaistem weggeskrik is oor alles wat uithang en oorpof).

Gister nog was grys uit, as die grys begin wys dan het jy begin met die doosdye (dankie Ans van Facebook vir die benaming) want “I’m gonna wash that grey right out of my hair” was die in ding. Vandag is grys weer in en omtrent almal, jonk tot oud, pronk met ‘n grys haredos.

Ek onthou my eerste selfie wat ek op Facebook geplaas het … maar in daardie dae was daar nie ‘n spesiale naam vir dit nie. Vandag is dit iets wat jy moet doen, want anders is jy nie in nie. Maar alreeds is daar gerugte wat die rondte doen wat beweer dat mense wat selfies neem, een of ander sielkundige afwyking het. Die enigste afleiding wat ek hier kan maak is dat – indien dit waar is – 99.999999% van die wêreld bevolking dan ‘n sielkundige afwyking het … die gevaarligte begin flikker en ek gaan steek my selfie stick bo in die kas agter al my vorige modeblapse weg.

Maar ek – ek volg niks na nie – ek volg my eie lewe – my eie ‘terms’. Maar verskoon my, ek moet gou die grys in die hare gaan inwas, ‘n blomkooltjie gaan koop vir vanaand se ete, ‘n cleavage displaying bloesie gaan koop, en terwyl ek daar is sommer ‘n foto’tjie neem van die mooi blomme met my tablet wat kan omswaai en my gesig in die prentjie plak terwyl ek rondsoek vir ‘n ‘magic’ middel wat sticker gom kan afwas. ‘Bye for now’

Plaas het ek maar …


Daai vier woordjies kan mos mens se dag lelik omellie! Dit besef ek toe vandag toe ek myself in die spieël beskou. Die grys groei! Plaas groei die breinselle, of selfvertroue, of kennis of enige iets anders behalwe die grys hare!

Chloe-Grace-Moretz-Gray-Hair-Dye-Wallpaper

Die dametjie lyk nogals heel aanskoulik met haar grys hare en lyk nie juis ouer nie. Maar ek … op 48, sal beslis seker nader aan 60 lyk. (Hulle sê mos die met ‘n blas vel lyk goed met grys hare, maar die met ‘n ligte vel – dis nou ek – moet maar eerder wegbly).

Maar terug na ‘Plaas het ek maar’. So besef ek vanoggend dat ek die haarkleurdery ding moes gedoen het toe dit ‘n rapsie warmer was. Nou is dit koud … flippen koud … leeu koud … ritsel in die gras koud … en ek moet die koue trotseer om die grys te verdoesel. Plaas het ek maar …

Daar is heelparty ‘Plaas het ek maar’ versugtinge in my lewe. Soos, plaas het ek maar harder geleer op skool … plaas het ek maar by my gesond eet gewoontes gebly … plaas het ek maar my drome nagestreef … plaas het ek maar nog baie ander goed.

Maar op 48 besef mens dat baie van die ‘plaas het ek maar’s’ vervang is met ‘ek is bly ek het’s’. Ek kon seker ‘n nice graad gehad het en vir ‘n groot maatskappy gewerk het maar dan het ek nie vandag nie my eie besigheid gehad nie en sou ek moes werk van 8 – 5 en afhanklik gewees het van ander mense wat my lewe dikteer. Al het dit jare gevat om hier te kom, is ek bly ek het nie ‘n baas wat oor my skouer loer nie.

Ek is bly ek het nie na my ouers geluister nie, en met my kenmerkende hardegatgeit met my eerste man getrou. Want vandag het ek twee pragtige seuns waarop ek baie trots is.

Daar is baie van die goed in my lewe en ek is dankbaar dat ek die besluite geneem het, want dit maak my wat ek vandag is – warts and all.

Hoe voel jy oor jou ‘Plaas het ek maar’s’? Het van hulle intussen verander in ‘Ek is bly ek het’s’?

As die Geelperske reën veertien dae in my dorpie val ….


rain

Ek is mal oor reën. Die druppels wat val op die dak, die geplons buite, die reuk, die wind wat waai … sommer alles van reën is vir my blerrie lekker! Ja, selfs met die eerste reën van die seisoen gaan staan ek buite in die reën, en sonder enige bekommernis oor my hare, grimering, klere staan ek daar en trippel rond soos ‘n angstige perd voor ‘n derby. Toe ek jonger was … het ek dit die reëndans genoem, maar ouderdom het nogals ‘n manier om ‘n dans in iets anders te verander. Die eens grasieuse arms verander in ‘n benoude geklap van vlerke onder die arms, die seer heup laat die statige danspassies lyk soos iemand wat twee rye spore loop en die stomende ‘belly dance’ is bloot net ‘n verskuiwing van gewig van links na regs. Maar, dit bly lekker om daardie druppels te voel. Te voel hoe die hare natword, die klere swaarder … is net lekker.

Die ou cliche van ‘dit was alles skoon’ steek maar vas hier in die kop en ek glo elke keer – soos ‘n kind – dat alles na die reën sommer honky dory gaan wees. Geen ‘doom and gloom’ vir my as dit by reën kom nie. Nee, altyd ‘n blye verwagting van iets goeds of nuuts.

Reën bly vir my ‘n wonderwerk, en ek dink ek het al hierdie storie vertel. Toe ek in die laerskool was (kan nie die presiese jaar onthou nie) onthou ek dat ons gebuk gegaan het onder droogte. Ons gemeente het ‘n biduur uitgeroep. Die dag het toevallig geval op die dag dat my beste maaitjie haar verjaarsdag partytjie gehad het. As ‘n kind, was ek nie baie gelukkig hieroor nie, want, ek moes eers die biduur saam met die familie bywoon, voor ek na die partytjie kon gaan. Maar in daardie dae was die ouer se woord wet, en so sit ek toe in die kerk saam Ma, Pa en die broers en susters. Daar het baie mense gebid, jonk en oud en die uur het soos ‘n ewigheid gevoel. Einde ten laaste, toe die laaste omie sy gebed afgesluit het met ‘n driftige “Laat U wil geskied. Amen”, is ons vrygelaat – soos ons kinders dit genoem het – en kon ek die partytjie bywoon.

Ons meisiekinders het ons baaikostuums aangetrek en opgewonde swembad toe gehardloop. In daardie dae was swembaddens mos maar net iets wat beskore was vir ‘n paar uitgesoektes, en daarom was swem partytjies sommer baie gewild. Met opgewonde gilletjies het ons geduik en gebom vir ‘n vale. Maar ons opgewondenheid was van korte duur. Want skielik het daar wolke saamgepak. Nie wolkies so groot soos ‘n man se hand nie. Nee, groot, swaar en donkergrys wolke en voor ons die chloor water uit ons oë kon vee, het die eerste druppels begin val en teleurgesteld het ons maar die res van die partytjie in die huis gevier.

Maar een ding is seker, daardie dag se wonderwerk, as gevolg van gebede, sal my altyd bybly. Die dat ek altyd lief sal bly vir reën, want vir my is dit die vergestalting van die belofte … dat as mens opreg is en glo soos ‘n kind … sal Die Here voorsien.

Hoop jou dag is gevul met wonderlike reën wat skoon was, nuwe lewe gee en bowenal jou sal laat bly glo dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het.