Die Nuwejaars Voorneme Dilemma


Van my ‘verlede’ nuwejaars voornemens was goed soos, ek gaan gewig verloor, gaan baie geld maak, ophou rook, minder chocolates eet en nie meer elke Vrydag ‘n Sally Williams verorber nie.  Nodeloos om te sê, meeste van hulle het nie eers die 2de Januarie oorleef nie.  En snaaks genoeg, die feit dat ek nie die voornemens deurgevoer het nie, het nie veel aan my lewe verander nie.

Daarom het ek die jaar besluit dat ek meer na binne gaan kyk vir my voornemens.

Die eerste – en seker die belangrikste voorneme vir my – is dat ek ontslae gaan raak van mense wat nie ‘n positiewe emosionele invloed op my lewe het nie.  Ek skuld hulle niks, en hulle skuld my niks, daarom sal dit beter wees dat ons paadjies skei.

Die tweede – ek gaan werk aan my innerlike vrede.  Ek gaan harder daaraan werk om die kaf van die koring te skei.  Dinge wat nie ‘n invloed op my lewe het nie, hoort nie in my lewe nie.

Die derde – ek gaan moeite doen om uit te reik na die mense vir wie ek lief is.  Ek gaan bietjie uit my kokon breek  en meer daar wees vir hulle.

Die vierde – ek gaan meer tyd spandeer aan die dinge wat ek geniet soos musiek, skilder en skryf.

Miskien as ek die vier goed regkry sal die ander dinge net in plek val.

Ek dink dat die beste voorneme vir die nuwejaar eintlik moet wees – Ek wil skuldloos leef.

As ek die wat nie ‘n positiewe invloed in my lewe het nie, uitsny, sal ek nie meer my misnoeë, hartseer en ongelukkigheid aan hulle verskuldig wees nie.  As ek innerlike vrede het, skuld ek myself niks.  As ek uitreik na mense vir wie ek liefhet onthef ek myself van enige skuldgevoelens omdat ek nie daar is vir hulle nie.  As ek meer tyd aan die dinge spandeer wat ek liefhet en geniet, sal ek nie meer in skuld wees met myself nie.

Sodoende gaan ek 2013 skuldvry in.  Dilemma opgelos.

Hoop julle 2013 hou vir julle baie meer in as wat julle ooit kon verwag of wens voor.

Advertisements

Alles onbeskryflik groot …


So net voor Kersfees sit ek hier in die Langvlei Duine net buite Wilderness en besef hoe onbeskryflik groot God se genade hierdie jaar vir my was.  Daarom dink ek dit is net gepas om ‘n paar goeie Kersfeeswense vir al my aanlyn vriende te wens.

Genade onbeskryflik groot – weet, dat dit wat jy is – en ook nie is nie – net genade uit God se hand is.  Daarom is dit belangrik om elke dag net dankie te sê dat ons kan wik, maar God beskik.

Wees dankbaar vir wat jy het, want as jy dankbaarheid toon vir die klein dingetjies in die lewe, sal jy beslis geseën word met groter goed.

Liefde onbeskryflik groot – Ja, sonder liefde in mens se lewe, is mens maar dor en die vrugte wat ons dra is bitter.  As ons gevul is met haat, is daar ‘n pad vol klatergoud vriende wat net rondhang soos aasvoëls om aan die karkas te begin pik wanneer ons val.

Maar, as ons lewens gevul is met liefde vir ons medemens, is daar altyd familie wat onvoorwaardelik liefhet en opregte vriende wat ons ondersteun deur die donkerste tye in ons lewe.

Vrede onbeskryflik groot – ‘n lewe gevul met angstigheid, vrees, haat en onsekerheid is ‘n moeilike pad om te stap.  Daarom wens ek God se vrede vir ‘n ieder en ‘n elk  en my grootste hoop is dat elkeen soveel vrede sal ondervind dat hulle nie bang sal wees om dit vir ander uit te deel nie.

Ek hoop jy geniet Kersdag saam met mense wat jou liefhet en dat jy, elke sekonde van die dag, God se liefde en genade om jou sal voel.

xxx

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Hoe om jou ‘font size’ te verander en ander tips


Hannabi wil graag meer hieroor wil weet.

As jy wil rondspeel met die voorkoms van jou ‘post’ kan jy bietjie loer wat onder die ‘Text’ knoppie aangaan.  Eintlik moes hulle dit maar ‘html’ gelos het, want die ‘text’ is misleidend.

text

As jy die font grootte wil verander, skakel oor na die ‘text’ weergawe deur op die ‘text’ knoppie te kliek.

Plaas die volgende voor die paragraaf wat jy wil verander:  <p style=”font-size:20px”>  en sluit jou paragraaf af met.</p>

Die resultaat:

en sluit jou paragraaf af met.


Om die ‘font size’ en ‘font color’ te verander: (Let op die spelling van color  – NIE colour NIE)

Skakel na die ‘text’ weergawe en plaas die volgende voor die paragraaf of sin wat jy wil verander: <p style=”font-size:20px; color:#400008″>  en sluit jou paragraaf af met.</p>

Die resultaat:

en sluit jou paragraaf af met.


Om ‘n ‘text shadow’ in te sit:

Skakel na die ‘text’ weergawe en plaas die volgende voor die paragraaf of sin wat jy wil verander: <p style=”font-size:20px; color:#400008; text-shadow:2px 2px #FF0000;”> en sluit jou paragraaf af met.</p>

Die resultaat: (Onthou dat Internet Explorer ongelukkig nie die ‘text shadow’ wys nie, daarom sal jy dit net in Firefox en Chrome sien.

en sluit jou paragraaf af met.


Om ‘n skaduwee om jou prentjies te sit:

text

Kliek op jou prentjie (in ‘visual’ mode)

edit_image

Kliek op die ‘prentjie button’ en dan op ‘gevorderde verstellings bo-aan’, jy sal die volgende sien:

Gervorderde_verstellings

Plak dan die volgende in die ‘styles’ area en kliek op ‘update’:

border: 1px solid #cccccc; background: none repeat scroll 0px 0px #ffffff; display: block; margin-bottom: 20px; padding: 9px; vertical-align: middle; box-shadow: 0px 8px 6px -6px black;

Die resultaat:

Gervorderde_verstellings

Liefde is nie sommer vir sommer nie …


love-is-not-boastful

Ek het vandag ‘n ‘dagboek’ ontdek wat ek geskryf het oor my ervaring van my en wederhelfte se paadjie.  Ek het hom nooit klaargeskryf nie, want met die trekkery na Klerksdorp – 6 jaar gelede – het die boek soek geraak en ek het heeltemal van hom vergeet!  En vandag, ontdek ek hom weer en toe ek so deur hom lees en my gevoelens daarin sien, toe dink ek, voel ek nog so?

Ek kan onomwonde sê JA met ‘n klein verskil … die gevoelens wat in daardie boek so ‘verlief’ klink het intussen verdiep na ‘n liefde wat ek vir niks sal verruil nie.  Ons was in hierdie tyd vir ‘n kort rukkie (toe ons ons verhouding begin het) van mekaar ‘geskei’ sodat hy sy dinge kon uitsorteer en ek het vir hom die volgende geskryf:

Voel jy my, my Engel

terwyl ek vir jou wag?

Raak jou gedagtes verstrengel

in die alleen van die nag?

Kyk jy op na die sterre

in die hemelruim?

En troos dit jou om te weet

dat hul ook oor my skyn?

Hoor jy my, my Engel

as ek fluister in die wind?

Voel jy my verlange

as ek uitroep soos ‘n kind?

Kan ek glo dat my wense

in jou hart weerklank vind?

Kan ek hoop dat ons liefde

die pad terug sal vind?

Met die lees van die ‘dagboek’ het ek weer onthou hoekom ek lief geword het vir hom en baie van die goedjies het so half verlore geraak tussen werk, kinders, geliefdes se dood en die allerdaagse lewe.  Daarom het ek nou ‘n ‘voor’ nuwejaars voorneme gemaak.  Ek gaan weer konsentreer op daardie goedjies wat hom so spesiaal en uniek maak en hom elke dag ook so laat voel.  Basta met die dorings en die klein jakkalsies want …

Soos ‘n ander digter gesê het (ek weet nie wie die woorde geskryf het nie)

Life teaches us

that love does not only revolve around staring into each other’s eyes to see what’s going on in there.

NO,

love means that you also look with your loved one to the outside –

in the same direction

to the same future!