Die dag toe ek my lisensie gekry het + bietjie bemarking …


Ek onthou nog die tyd toe ek vir my lisensie moes gaan.  Ek het al jare bestuur en toe begin die gerugte van die K53 (gee ek nou my ‘oor die muur’ ouderdom weg), toe besluit ek om eerder my lisensie te kry met die boeremanier van bestuur want daai ‘Jack in the Box’ houding agter die stuurwiel het my nie aangestaan nie.

Daardie tyd het ons so ‘n baksteen-(lees army) rooi volla gery.  My vriendin het hom die ‘Flintstone karretjie’ genoem want sy vloer was al so deurgeroes dat ons ons voete as remme kon gebruik :-).  Dus was dit onmoontlik om met die jalopie te gaan vir my lisensie en moes ek toe een leen.

Die groot dag breek aan en ek klim soos ‘n bewende queen in die volla en ry oorversigtig na die toetsterrein.  Hier en daar die verkeerde flikker aangesit, maar dit het nie te sleg gegaan nie want ons kon toe die ooppad vat.

Intussen weet ek dat mens nou 60km/h in die dorp moet ry en ek trap daai geleende volla se petrol, maar hy sukkel so effe.  Die man vra my toe hoekom ek so jaag.

“Ek jaag nie, ek probeer net 60 ry!” antwoord ek hom toe heel verontwaardig terwyl ek so in my stilligheid wonder waar hy dan sy lisensie gekry het.

Hy leun toe so effe oor en sê toe, “Hou hom maar so tussen 20 en 30, die kar is nog myl per uur gemerk.”

Tik my om met ‘n veer!

Toe ons weer by die kantore uitkom, toe loop die maskara soos riviere teen die wange af van pure senuwees!

Ek het hom so bo-oor die volla se dak beloer en gesê, “Meneer, ek kraam eerder weer voor ek weer vir my lisensie kom.”

Shame, ek dink hy’t my jammer gekry want ek het toe my lisensie geslaag 🙂

 

Mens mag seker nie adverteer hier nie, maar as jou kind moet leer vir sy/haar leerlinglisensie, kan julle gerus by my nuwe inisiatief inloer.  Alle inligting is gratis.  Daar is net ‘n fooi betaalbaar om toegang tot die toetse te kry.

 

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Skakel 086 TJOKLIT


Gister vra ek daar op Facebook dat mense wat ‘n ou tjoklittetjie spaar het, dit sommer na bogenoemde faksnommer moet stuur.  Met groot afwagting haas ek my vanoggend na my faksmasjien net reg vir ‘n heerlike knibbelsessie, maar helaas, geen fakse nie.  Wel dit beteken net een van twee goed:

  • Mense kry so swaar dat hulle nie spaartjoklits het nie of
  • meeste mense gebruik ‘smartphones’ waar sulke tipe nommers net nie meer werk nie.

Dit bring my by ‘n belangrike punt en dit is dat besighede nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie.  Die ‘naam’ nommers is nie gratis nie en die besighede betaal ‘n sekere bedrag per maand daarvoor.  Dit was wel ‘n goeie idee in die steentydperk voor ‘smart phones’.  As jy  my nie glo nie, skakel bietjie ‘n ‘naam’ nommer van jou ‘smart phone’ af en jy sal sien dat dit net gladnie werk nie!  Myns insiens is dit ‘n mors van geld om dat elke tweede Jan Raap en sy maat al ‘n ‘smart phone’ het en as hulle nie hulle grysstof gebruik en eerder die nommer skakel nie, verloor besighede baie belangrike oproepe.  Besighede moet onthou dat mense nie graag vir hulself dink nie, en daarom moet hulle pro-aktief optree.

Mens kan wel redeneer dat die mense die nommer sal skakel, maar onthou dat die doel van die ‘naam nommer’ juis is sodat mense nie ellelange nommers moet onthou nie.  Nou, onthou die voornemende kliënt die ‘naam nommer’ maar dit werk nie, hy het dalk nie ‘n ou foon om te kyk wat die ‘naam nommer’ se werklike nommer is nie en soek dan ‘n besighed wat hy makliker mee in verbinding kan tree.

Dus, my gevolgtrekking is dat ‘naam nommers’ nou so uit is soos die Nokia 3310.

Maar laat ek aanbeweeg:

Dit het laasjaar winter gebeur.  Lifiki het besluit dat al die blomme so droog en mistroostig lyk, dat hy sommer alles uitgeruk het.  Wortel en tak uitgeroei.  Ek sukkel tot vandag toe om oor daardie een te kom.  MAAR hy het intussen opgemaak en my tuin beplant met ‘n kleurontploffing!  Ek kyk elke dag daarna en die kleure doen iets vir my.

Ja … ek is maar ‘n kitcherige mensie.  Hoe meer kleur hoe meer vreugde.  Dit is sommer meer ‘inviting’.  Ek is nie ‘n ‘skakerings van bruin’ mens nie.  Dit laat my koud.  Gee my geel, oranje, cherise pienk, turquoise, pers ens. ens. en ek is gelukkig.

Een van die dae kom plak ek vir julle ‘n foto’tjie 🙂

 

O ja, en onthou my tjoklit wat jy sommer nou vir my moet faks.

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Geseënd is die …


Laat ek eers afskop deur te glimlag oor my ‘top searches’ vir die afgelope tyd.  Die twee gaan amper vir my so hand aan hand, wel op ‘n manier as mens gedagtes gaan woel waar dit nie hoort nie.  Search 1 – Handjie van Rensburg en Search 2 – Sexy damesonderklere!  Dit het nogals my dag gemaak 🙂

Iederwel, laat ek die woorde – waaroor ek gedroom het gisteraand – met julle deel … hoop ek onthou dit reg!

Geseënd is die wat een oog het wat hemel toe kyk en die ander na die hel …

want hulle het ‘n breëer uitkyk oor die lewe.

Geseënd is die met bakore wat die windrigting kan verander as hulle hul koppe draai …

want hulle kan beter hoor as daar gevra word om hulp.

Geseënd is die wat gebou is soos ‘n appel en agterstewe het wat hang soos ‘n peer …

want hulle helder die wêreld op met glimlagte en vriendelikheid.

Geseënd is die wat neus in die lug rondloop …

want hulle gee ons ander die geleentheid om ‘plat op die aarde juwele’ raak te sien en te ontgin.

Geseënd is die met monde wat aanhou praat …

want hulle gee die wat stil wil wees, geleentheid om te besin.

Geseënd is die wat geld in oorvloed het …

want hulle kan help waar die nood ander druk.

Geseënd is die wat arm is …

want hulle gee die wat het, ‘n doel om na te streef.

Vir elke ‘sleg’ is daar ‘n ‘goed’

wat ons tree vir tree behoed.

 

Moenie dink aan gister – dit het reeds vergaan.

Vergeet van môre en dit wat mag ontstaan.

 

Vandag en nou is al wat tel …

maar waak en onthou dit wel.

 

Môre is die produk van vandag

wat jy eerder in die toekoms oor wil lag!

 

Sien … ek kry maar snaakse drome!

 

Ek was die naweek in Carletonville en het Vrydag ‘n bierfees bygewoon.  Lifiki het heerlik gekuier met al sy vroeëre werkskollegas en toe ek hom so gelukkig sien, toe wonder ek of elke besluit wat mens neem werklik die gevolge inhou wat met mens voorsien het?  Ek het gewonder of hy dit mis?  Of is hy verlig?  Ek het hom gevra en hy’t net sy skouers opgetrek.  Innerlik was ek dankbaar dat ek hom op geen manier gedruk het nie.

 

Dan het ek en my sus ‘n damestee bygewoon Saterdag oggend.  Ek het dit geniet.  Die eetgoed was heerlik (verwys na die sin van die appel en peer) maar bo dit alles was die vrou – Christa – wat opgetree het.  Sy het voordragte gedoen en gesing en die belangrikste boodskap wat ek huistoe geneem het was die volgende:

Voor jy dink jy’s die enigste persoon wat oor ‘n sekere saak op ‘n sekere manier dink en vir maande en jare skuldgevoelens daaroor het, slapeloos in die gange op en af dwaal daaroor, jouself verwyt en weier om jouself te vergewe … daar is duisende ander mense wat presies dieselfde oor dieselfde goed dink en reageer.  Jy het net nodig om te luister en jy sal dieselfde boodskap hoor.

Ons is nie werklik so uniek as wat ons dink nie.  Ons probleme is nie enig in sy soort nie.  Daar is ander ook en as ons na mekaar kan luister, kan mens beslis ligter deur die lewe gaan.

 

 

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Oor flieks en so …


Ek is mal oor Afrikaans. Dit is ‘n taal wat my laat dink aan ‘n vrugteslaai. Alle kleure en geure word lekker saamgemeng vir ‘n tong-tinteling-smaaksensasie!

Daarom luister ek graag na heuning stemme soos Theuns Jordaan en Matthys Roets. Ek verkneukel my gedurig aan die sexy rasper van Ray Dylan en Steve Hofmeyer en verluister my aan Laurika Rauch, hier en daar ‘n Lianie en Juanita en, as ek regtig my huis se fondasie wil laat tril van lekkerkry, die Lieflinge.

Ek kyk ook graag Afrikaanse films. Kon nie wag vir Roepman nie en het natuurlik eerste in die ry gestaan vir ‘n kaartjie. Alhoewel die storie ietwat stadig beweeg het, het ek hom baie geniet. Dan vergeet ek ook nie van die een waarin Bobby gespeel het en die een waar Karen Zoid in gespeel het nie – ek het mos Heimers, het nog nie als vergeet nie – so ek kan nie die films se name onthou nie.

Ek is nie ‘n puritein en voorstaander van als wat eg Afrikaans is nie, so dit pla my nie as Nicolis nie begelei word deur ‘n volwaardige orkes nie, dit traak my nie as Eden saamsing met hulle eie back tracks nie, solank die liedjie mooi woorde het (ook nie altyd nie) en ‘n lekker ritme, dan is ek gelukkig. Partykeer as ek dieperig voel dan soek ek die substansie van Theuns, Matthys en die in hulle klas. Maar in Afrikaans kan ek altyd iets kry wat my gemoed kan weerspieël – of as ek af is – my bui weer kan lig.

Daarom was ek vreeslik opgewonde om Saterdag te sien Kurt se fliek – Ek lief jou – is op die video winkel se rak. Ek het heel eerste my poffer handjie na hom uitgesteek en amper gebewe van opgewondenheid. Dis mos ideaal om so ‘n DVD uit te neem. Sien sommer die sangers en as jy gelukkig is, hoor jy van jou gunsteling liedjies.

By die huis gekom word hy sommer eerste in die speler gedruk en ek skuif dadelik onder my duvet in, Tab en snacks byderhand, net reg om die storie te geniet.

Maar tot my groot teleurstelling begin dit met ‘n Vlaamse deurmekaarspul! Ek het mos die DVD uitgeneem om ‘n storie in my eie taal te kyk! Die akteurs se spel was ook maar so-so. Aan die begin beweeg die storie so stadig dat die hele romantiese – ek raak verlief op die Belgiese meisie – gedeelte iewers ingeprop word dat dit heeltemal ongeloofwaardig is.

Gelukkig het ek ander DVD’s ook uitgeneem om die pyn van teleurstelling bietjie te versag en het sommer “Blink Stefaans” wat een Sondag saam met Rapport verskyn het, weer gekyk.

Toe dink ek, ek wens ek kan weer “Plekkie in die Son” in die hande kry. Dit was nou ‘n Afrikaanse fliek van formaat!

By pienkpantoffels Posted in Algemeen

Die lewe gee nie sonder om te neem nie …


Ek was maar stil die maand alhoewel ek nou en dan ingeloer het.

Ja, met al die opwinding van biologiese familie ontdek, ontmoet, leer ken en bande smee – moet ek terselwertyd ook ‘n groot hartseer verwerk.

‘n Hartseer so groot dat dit my vir ‘n wyle van al my menswees en iets wat vir my belangrik is, wreed beroof het.

Maar mens moet jou glimlag opplak en instemmend knik vir al die cliche’s terwyl jy stemloos skree, “Los my in Vadersnaam net uit!”

Jy vrees vrae, die buitewereld en mense wat goedbedoeld probeer paai en troos.

Jy kry boodskappe op FB en BB en SMS’e wat wonder hoekom jy so stil is en noem dat hulle jou kwinkslae mis. Jy sit en kyk daarna en wonder self waarheen jou ware glimlag en innerlike geluk verdwyn het – en die grootste een is – jy wonder of jy dit ooit weer sal terugvind.

Die nag word jou vriend, die stilte jou vertroueling en die donker jou skans wat jou hart beskeerm.

Maar die lewe het nie genade nie! Jy moet aangaan, deurswoeg en op die pad op jou kniee bly, terwyl jy naarstigtelik aan elke cliche se halmpie van hoop klou soos ‘n drenkeling, want eendag sal die son weer skyn en die donkerwolk sal weer sy silwerrandjie he!

Want nadat die wonde se rowe afgeval het en net die letsels oorbly, is daar nog geloof, hoop en liefde en hiervan – vir my – is hoop nou die grootste!