Eish, om vrou te wees!


Ek dink partykeer wil ek net leef. Ek wil nie elke oggend make-up aanplak en klere uitsoek met juwele, handsak en skoene wat pas nie. En al daai creams en ointments – gee my krag!

En dan moet ons skoonmaak ens – maar die naels moet altyd geverf wees en van ‘n fatsoenlike lengte. Ons moet swoeg en sweet voor die stoof, maar die hare moet altyd netjies gekap, geblaas, gestryk, gespray en getease wees.

En dan praat ek nie eens van die minares wees gedeelte nie. En verstaan my mooi – ek hou baie van daai intieme goed, maar partykeer is ek net nie lus nie! Ek wil net lê en gesels sonder dat dit uitloop in jy weet wat.

En partykeer wil ek net uitpak en my gevoelens in die lug kry sonder dat daar ‘n oplossing moet wees.

Nee, ek dink met ontdekking van beenhaarskeerdery het ons vrouens vir onsself ‘n lang lat gepluk. So groei die lys elke dag meer en meer. Dis wax, permanente grimering, sellulietroom, hakke room, elmboogroom, bobeenroom, boarmroom, buusteroom, nekroom, gesigroom, oogroom, masker vir die gesig en die hare, cuticle room, handeroom, botox, ‘n diepreinigende masker, ‘n opliggende masker, ‘n rejuvenating masker, ‘n filling masker, ‘n glowing masker, en vitamiene C vir die diep plooie, ‘n onderlaag vir jou naels om hulle sterker te maak, gevolg deur ‘n laag wat hulle vinniger laat groei, en dan ‘n laag om die kleur langer te laat hou en om nie die naels te vlek nie, en dan die kleur en dan nog ‘n laag om seker te maak die kleur hou nog langer.  En dan kry jy afskilferroom, vir die gesig, die hande, die voete, die dye en boude en sellulietroom vir die lemoenvel.  En dan kry jy ‘n fondasielaag wat jy voor jou onderlaag opsit om seker te maak die onderlaag word eweredig versprei, en dan die onderlaag, en dan die poeier om die onderlaag te laat set.  Dan die oë, die base om ‘n basis te vorm vir die verf wat jy bo-oor sit.  En dan nog ‘n lagie poeiertjie – net om seker te maak.  Lipsel wat vir 16 ure behoort te hou.  En bewaar jou siel as jy dieselfde tipe watte gebruik om die naellak van jou naels te verwyder, op jou gesig.  Daar is ‘n wattetjie vir elke plekkie.

Dan die vitamienes – vir vel, hare en naels, vir die skildklier, vir energie en nie meer as 5mg B5 nie, want dan kry jy eetlus en dan moet jy ‘n eetlusdemper drink.  En dan kan jy nie slaap nie en jy moet ‘n slaappilletjie drink.  En drink 2l water ‘n dag sodat jy vanaand wanneer jy moet rus so drie keer deur die nag nog toilet toe ook moet gaan.

Dis harde werk om ‘n vrou te wees ….

Sewentig maal Sewe


Dis Sondagoggend vroeg
Ek’t die nag deurgewroeg
En gewag vir die lui van my selfoon

Jy staan hier voor my deur
Jou hemp is geskeur
En jou skuld is geskryf in jou glimlag

Jy’t beloof jy sal probeer
Vir die honderste keer
Maar ek weet dat beloftes weer gebreek is

Sewentig maal sewe
het ek jou al vergewe
Sewentig maal sewe
sal ek dit weer belewe

Jou beloftes soos die blare
Weggewaai deur winterswinde

Jou oë sal bly soek
Na die lywe in die hoek
van die kroeg waar jy kuier in die aande

Die verskonings wat jy vra
Sal my nie langer pla
Dis verby, vat jou goed en verdwyn net

My liefde het jy versmaai
Jy sal maai wat jy saai
Ek is doof vir jou leë beloftes

Sewentig maal sewe
het ek jou al vergewe
Sewentig maal sewe
sal ek dit weer belewe

Jou beloftes soos die blare
Weggewaai deur winterswinde

(c) Maryke-Anne Janse van Rensburg

Wanneer mens by ‘n kruispad kom


Partykeer wil die lewe vir jou sê
staan stil, kyk stadig om jou rond
maak seker van wat jy regtig wil hê
want die lewe is eintlik van korte stond

Daar’s nie werklik soveel tyd
as wat ons in ons onkunde dink
doen reg en goed sonder spyt
iewers is ‘n kruispad wat wink

Die vrou op die pavement


Die kafee se neonligte
kom speel hier teen my muur
En meng met die geluide
van ‘n klok wat slaan per uur

Die groentesmous op die hoek
skree luidkeels vir die mense
in geradbraakte taal
wat breek deur my grense

Die mure druk my vas
Die geluide maak my seer
en op die pavement is sy
wat oor vergete onskuld treur

Haar hare weggesteek
onder pruik van skel plastiek
Tandelose glimlag
vir die man wat sy wil truuk

Sy stal haar ware uit
in ‘n sjoe-sjoe eina rok
Wat klante van alle geure
stroperig na haar toe lok

Vir ‘n kort-kort oomblik
kan hul vergeet van sorge
En weer verdwyn in die nag
waar donker, bewyse verborge

Dan gaan staan sy weer
om vir ‘n nuwe kalant te tuur
En die kafee se neonligte
kom speel weer teen my muur

My Lifiki


Hierdie brief het ek aan my man geskryf ‘n paar jaar gelede … en ek voel steeds dieselfde oor hom …

‘n Mens kan deur jou lewe gaan en soekend bly.  Soekend na liefde, aanvaarding, menslikheid en respek – en dit nooit vind nie.  Maar ek het.  Ek het dit en nog veel meer gevind.

In jou, het ek vrede gevind.  ‘n Vreugde ontdek wat ek nooit gedink het kan bestaan nie.  Jy het my hand gevat en my gelei op ‘n pad wat ek nog nooit voorheen betree het nie.  Die pad na myself.

Soveel dinge het in my lewe gebeur en met elke seerkry en mislukking, het ek myself dieper begrawe.  Ek het vir ander, ‘n sy gewys wat nie sou seerkry nie.  Die kant wat sterk is en nie omgee wat ander aan my doen nie.  Almal het my bewonder en opgemerk hoe sterk ek is en selfs gewens dat hulle so sterk kon wees.  Maar niemand het geweet van die seer wat ek so diep wegbêre nie.

Niemand het geweet van die aande wat ek in die stilte van die nag by my venster uitgekyk het en gehuil het omdat ek so vreeslik moedeloos en seer was nie.  Niemand het geweet van wat ek in my ronddra nie.  Ek dit was goed so.  Dit was my private pyn.  Ek het toegelaat dat mense my seermaak want ek was vuisvoos en so moeg dat ek net opgegee het.  Ek was nie meer lus om te baklei vir my plekkie in die son nie.

Maar toe verskyn jy.  Jy het my in jou arms geneem en my hart het op daardie ooblik sy rusplek gevind.  Jy het in my oë gekyk en alles daarin gelees.

Treetjie vir treetjie het jy laat ek my seerkry konfronteer en uitsorteer.  Jy het dit saggies gedoen, sonder verwyte en beterweterigheid.  Jy het jou hand vêr uitgesteek en my uitgelei tot ek in die son langs jou kon staan.

Wanneer ek in jou oë kyk, sien ek liefde.  Wanneer jy my hand vat, voel ek liefde.  Wanneer jy met my praat, hoor ek liefde.  Met jou, beleef ek wat ware liefde is.

Jy het my gewys dat dit reg is om net ‘n doodgewone mens te wees.  Jy het my geleer dat ek ook waarde het.  Jy het my lewe verander.

Jy het vir my die grootste geskenk gegee nl.  die vryheid om weer in myself te glo, myself uit te leef sonder vrese.  Om weer te hoop en die mooi in die lewe raak te sien.

Voor jy in my lewe was, het ek nooit sitlgestaan om die wonders rondom my te waardeer nie.  Maar jy het my oë oopgemaak.  Jy’t my gewys dat daar mooi rondom my is.

Jy is my beste vriend.  My anker en my kompas op hierdie lewenspad.

Dankie dat jy, jy is en dat jy in my lewe is.  Dankie dat jy, toe jy iemand nodig gehad het, aan my gedink het.

Dankie vir soveel dinge, maar bowenal – dankie dat jy my liefhet.

Hoe om ‘n volmaakte vrou te herken


Vertaal uit die Susca Watts tydskrif Volume 3 *~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*

Hierdie vrou is trots.  Sy respekteer haarself en haar medemens.  Sy is bewus van wie sy is.

Sy soek nie erkenning van haar lewensmaat nie en leef ook nie haar lewe deur hom nie.   Sy verwag nie van haar lewensmaat om haar gedagtes te lees nie en weet hoe om haar wense te artikuleer.

Sy is altyd hoopvol.  Sy is sterk genoeg om haar drome te verwesenlik.  Sy ken liefde en daarom weet sy hoe om lief te hê.  Sy weet dat haar liefde nie na waarde geskat kan word nie en daarom moet dit beantwoord word.

‘n Volwaardige vrou is ‘n inspirasie en het uithouvermoë en kan dit toepas om ander te help om die hoogtes te bereik wat vir hulle bedoel is.

Sy ken haar verlede, verstaan haar hede en werk vir haar toekoms.  Sy leef nie in vrees vir die toekoms as gevolg van haar verlede nie want sy verstaan dat haar lewenservarings lesse is, om haar nader aan selfkennis en onvoorwaardelike selfliefde te bring.

~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*~*

Elke vrou is dit aan haarself verskuldig om die beste te wees as wat sy kan wees.  Elke vrou moet vir haarself blootstel aan nuwe uitdagings elke dag.

‘n Vrou mag nooit ophou leer nie.  En hiermee bedoel ek nie een of ander kursus nie.  Nee, jy moet elke dag iets nuuts leer oor jouself, jou omgewing of oor die mense om jou.

‘n Vrou moet kan stil raak en tyd met haarself geniet.  ‘n Vrou moet haarself gelukkig kan hou.  Want as jy nie gelukkig is nie, kan jy tog niemand anders gelukkig maak nie.  Daarom moet jy jouself altyd eerste stel, maar nooit ten koste van iemand anders nie.

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen selfbewus wees en selfbehep wees.  As jy selfbewus is, is jy bewus van dinge binne jou en dinge buite jou.  En jy is ywerig om meer daarvan te leer, ‘n skouer aan te bied, ‘n hand uit te steek en ‘n traan af te vee.  Maar as jy selfbehep is, is jou skouer, jou hand en selfs jou sakdoek jou eie.

En aan elke vrou hier in blogland, vier die feit dat jy vrou is.  Omhels jouself, vertroetel jouself, gee jouself ‘n kans.  Want sonder jou, sal die wêreld ‘n droeë dorre woestyn wees.

Vir jou, vrou, is hier ‘n bossie blomme …

‘n Diepooi roos vir ‘n lewe vol passie
‘n Koringblom vir jou grasie

‘n leeubekkie met oranje en rooi
want ‘n vrou sal nooit kan tou opgooi.

‘n katjiepiering in ‘n diep, diep blou
want aan jouself, bly jy getrou.

‘n Kappertjie so oranje en helder
niemand sal jou trots kan kelder

‘n Gesiggie van die sagste geel
sodat niemand jou lag kan steel

‘n Namaqualandse Daisy
want jou liefde ken geen prys nie

Toegedraai in selofaan
mag jou skoonheid nooit vergaan

Besluite … besluite


Besluite, kom staan voor my elke dag
Maar ‘n warboel gedagtes laat my wag

Moet ek, of moet ek nie?
Sal ek, of sal ek nie?

Wens ek kon in die toekoms sien
Dan was elke besluit, tien uit tien!

Waar kan ek vra?  Waar kan ek hoor?
Of kan ek ‘n besliste antwoord toor?

Kon alles nie net eenvoudiger wees?
Sonder dat ek my palm moet laat lees?

Besluite, kom staan voor my elke dag
Moet ek besluit voor vandag se nag?

Neem weg jou vrae en jou versoeke!
Gaan soek ‘n antwoord in die verste hoeke!

Goed wat ek by die Paashaas geleer het …



  • Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie.
  • Die beste goed in die lewe is taai maar soet
  • Goeie goed kom in klein kleurvolle pakkies
  • Almal het ‘n vriend/vriendin nodig wat die ene ore is
  • Daar is nie so ‘n ding soos te veel soet nie!
  • Hou jou pootjies af van ander mense se eiers 🙂
  • Al’s werk en niks speel kan van jou ‘n “basket case” maak
  • Mooi agterstewe trek altyd aandag
  • Die (lekkergoed)eiers is altyd beter in iemand anders se mandjie.
  • Sekere liggaamsdele moet “floppy” wees
  • Laat positiewe gedagtes vermeerder soos hasies 🙂

So vir almal wat glo dat die “paashaas” nie bestaan nie …

Ek verwonder my …


Ek verwonder my
aan “I love you’s” wat so vals is
“Forevers” wat so kort is
en jy …

Ek verwonder my
aan sms’e wat so min raak
“e-mails” wat net opraak
en jy …

Jy was my Danie Theron wat my “battles” vir my ge”fight” het
My Rageltjie de Beer wat die koue weggejaag het

Jy was my diamant
My loslitkant
My feëverhaal
My Moedertaal

en jy, ja jy, was net altyd jy …

Ietsie ligs vir my Lifiki


Jy, jy maak my knieë lam
Jy, jy maak my spier tam
Gee my vlinders op my maag
Maak my gedagtes traag

Vir jou wil ek net myne maak

Jy, jy maak my wêreld mooi
Jy, jy maak die rose rooi
Sit huppel in my stap
en wikkel in my lyf

Vir jou wil ek my flikkers gooi

Jy’t my six-love geslaan
Vir ‘n duck uitgeboul
Jou liefdesspel het my ingehaal

Jy’t ‘n drie gedruk
‘n try gescore
my hart het jy op hol gejaag

Jy, jy laat my drome droom
Jy, jy laat my wense wens
Laat my ore suis
My are bruis

Vir jou wil ek net myne maak

Jy, jy laat my voete dans
Jy, jy gee my ‘n tweede kans
Jy gee my hoop
Sit my hart op loop
Met jou sal ek die pad kan loop

As jy aan my vat
wyl ek langs jou lê
Jou lippe teen my ore
as jy daai woorde sê

Maak my mal, mal, mal
m, m, m mal, mal, mal
Ja, jy het my hart gesteel.