Ek wil ‘n Lorrie hê!


Soos meeste van julle weet, was ek voorheen getroud met ‘n baie lui, maar diepgelowige man.  Ons het baie swaar gekry en van die hand na die mond geleef.

Chromosoom (dis my bynaam vir hom, nadat ons geksei is) was nie baie groot op die werksoek ding nie.  Ek dink hy’t werk gesoek maar gebid hy kry nie.  Snaaks, die gebed van hom is altyd verhoor.

 Maar ek moet hom krediet ook gee.  Hy was nooit sonder ondernemingsgees nie.  Altyd aan’t dinke aan die volgende “scheme.”

Graag vertel ek vir hulle van die een wat my altyd sal bybly.

‘n Barmhartige samaritaan reël vir Chromosoom dat hy ‘n lot hout by ‘n boer kry.  Die hout kan dan verkoop word sodat ons ‘n paar rand kan maak.  Daar is egter net een klein – of eerder groot – probleem.  Chromosoom moet reël vir ‘n lorrie sodat die hout gehaal kan word.  Ek het darem gereël by ‘n persoon in Potch om die hout by ons te koop.

Dan moet ek ook vir Chromosoom nog krediet gee.  Sy geloof is groot.  Hy het geglo dat as mens bid, dan val alles sommer so vanself uit die hemel.

Hy besluit toe ook, dat ipv om pro-aktief te soek vir iemand om die lorrie vir ons te leen/huur,  hy eerder gaan bid vir die lorrie.  Mense, dit was ‘n gebid uit ‘n ander wêreld!

Op daardie stadium was ons huur ook agter.  Geen kos in die huis.  Geen krag, niks.  So as ek vir julle sê ek het al swaar gekry, dan bedoel ek dit.

 So bid chromosoom die hele middag.  Ek voel later so skuldig dat ek ook maar saam begin bid.   Want as ons die lorrie kry sal ek weer ook nie die einde van my kleingelowigheid hoor nie.

So onder die gebede deur hoor ons toe die wondergeluid.  Die gedreun van ‘n lorrie!  Ek kon nie my oë glo nie.  Daar stop ‘n lorrie reg voor ons deur!

 Chromosoom het sommer opgespring en opgewonde na die deur gehardloop.

Ja mense, daar was ‘n lorrie.  Maar nie die lorrie wat ons gedink het nie.  Nee, dit was toe al die tyd die balju wat ons goed kom opskryf vir die huur wat ons skuld.

 Die “moral of the story” – as mens bid, moet mens spesifiseer presies wat jy wil hê.  Want dit wat jy kry, is gewoonlik nie dit wat jy ingedagte gehad het nie.

Maar ek het positief gebly, chromosoom onder sy alie geskop en ‘n splinternuwe wonderlike lewe vir my en my kinders begin.  En daaroor sal ek nooit spyt wees nie.

 

Maak nie saak hoe negatief iets is nie, mens kan altyd iets positiefs daaruit leer.

Leë nes sindroom


Vir my oudste wat nou uit die huis uitgetrek het …

 

Wens ek kon jou hand vat

En jou paaie vir jou loop.

 

Wens ek kon jou drome sien

En dit alles vir jou koop.

 

Wens ek kon al die einas

Van jou lewe wegstroop.

 

 

Maar ek kan net op ‘n afstand

Met my raad jou probeer lei.

 

Met liefdevolle moederswoorde

Die angste vir jou bestry.

 

Met uitgestrekte hande

Jou optel as jy gly.

 

 

‘n Groot geskenk uit Vadershand

Om op te pas en te leen.

 

‘n Kind aan my toevertrou

Vir liefde, leiding en steun.

 

My kind, my kleinood, my hart se punt

Mag, altyd, vrede en vreugde op jou reën.

Om getrip te word


Dit is snaaks, die bekoring wat skoene van kleinsaf vir my ingehou het, en elke paar skoene in my kas, het my altyd soos ‘n ander mens laat voel.

 

Ek het al baie verskillende soorte skoene gehad.  Rooies, geles, pienkes, swartes, plattes met strikkies, hoeës met diamantjies, plakkies, klompe, sandale en stewels.  Noem ‘n soort en jy kan seker wees dat so ‘n tipe skoen al ‘n draai in my kas gemaak het.

 

My gunsteling skoene is ‘n paar swart wighakskoene, met borduursel en blinkers op die tone.  Daardie opreg ingevoerde skoene vanuit China.

 

Wanneer ek hierdie skoene aantrek is dit soos daardie Samsung advertensie.  Die een waar die man en vrou in die kamer besig is om aan te trek.  Wanneer die vrou haar skoene aantrek gooi sy haar hare so oor haar skouer en glimlag.  Julle weet mos.  Ek kan nie vir julle vertel hoe die selfoon lyk nie, maar die skoene wat sy aantrek, kan ek in die fynste detail aan jou beskryf.

 

Ja, dit is hoe ek voel as ek my swart skoene se bandjies om my enkels bind.  Dis asof daar ‘n lied van êrens begin speel.  Ek vergeet van alles en almal om my en ek verander in die mees aantreklikste vrou Suid van die Sahara.  My hare val nou weliswaar nie so golwend oor die skouers nie, maar hulle val.  My bene lyk nie so asemrowend soos hare nie, maar met ‘n paar Photoshop-sessies, behoort hulle tog deur te gaan as “nie te sleg nie.”

 

So bind ek daardie bandjies vanoggend om my enkels.  Trek die bloes ‘n bietjie afwaarts om die ou magie wat so effens wys, te verbloem, glimlag vir myself in die spieël en gee selfs so ‘n skelm oogknip gepaardgaande met ‘n skalkse glimlaggie.  Want ek het die skoene aan.

 

Hierdie skoene verander my uitkyk oor die lewe.  Hulle gee ‘n huppel in my stap, en vir een of ander onverklaarbare rede, voel ek soos ‘n koningin in hierdie skoene en die wêreld is my onderdane.  Niks kan my keer nie.  Ek is op die oorwinningspad met my getroue skoene wat my lei na paaie waar ek nie voorheen was nie.

 

As ek hierdie skoene aanhet, kan ek net nie my neus uit die lug uit kry nie.  Dit is amper asof ek iemand moet huur, om vir die skare mense om my, met ‘n wit handskoen te waai.  Ek is in die sewende hemel, my persoonlike skoen-geindusseerde “high.”

 

So stap ek, skouers agtertoe, neus in die lug die straat af.  Die musiek in my ore, die wind in my “golwende hare”, my byderwetse romp wat swiep, swiep teen my bene en KARPLAKS sloeg ek neer op die sypaadjie.

 

Jy sien net lipstick, mascara en ander meer privaatgoed trek oor die sypaadjie en met pyn wat soos messteke deur my knieë klop, skraap ek al my “belongings” bymekaar, terwyl ek onderlangs probeer loer wie my gesien het.

 

Dit is toe ek die netjies gepoleerde skoene voor my gewaar.  My ma het altyd gesê, “Jy kan ‘n man ken aan sy skoene.”

 

So vervang die warm gevoel wat om my hart sprei stadig maar seker die kloppende pyn in my knieë.

 

My oe gly stadig van die blinkswart skoene op teen die “designer” broek wat seker “gepress” is by die “drycleaners”, op na die blink gespe wat ‘n skaflike middel omgord.  Dan die syhemp, oor die adamsappel en dan oor die skerp ken en word dan vasgevang deur die diepblou oe wat my vraend aankyk.

 

“Kan ek help?” vra hy vriendelik.  “Het jy seergekry?”

 

“Ughm, nee, ja, dankie, nee . . .,”  stotter ek onsamehangend.  Al wat seergekry het is my trots natuurlik.  As my neus nie so hoog in die lug was nie, sou ek die dekselse boks raakgesien het.  O ja, en my knieë wat my nou weer sterk begin herinner aan my neervalslag.

 

Kan julle julself die prentjie indink?  ‘n Vrou wat helder oordag handeviervoet voor ‘n man op ‘n sypaadjie staan, en soos ‘n “lovesick puppy” in sy oe staar?

 

Dan, na seker ‘n paar dekades se oomblikke verby is, sien ek hy het sy hand na my uitgesteek.

 

“Gee my jou hand,” glimlag hy.

 

Ek sou rêrig eerder hierdie woorde iewers anders wou hoor, maar nou ja, hier is seker beter as nêrens.

 

Ai, toe ek my hand in syne sit, is dit asof daar ‘n trilling deur my lyf gaan.  Ek is totaal en al verlore.  Versigtig staan ek op.  Ek weet nie of ek nou regtig versigtig was, of was dit ek wat die oomblik langer wou uitrek nie.  Maar dit was ‘n wonderlike oomblik.  My hart het in my keel geklop.

 

Toe ek regop voor hom staan, haal hy sy ander hand agter sy rug uit met ‘n pragtige bos geel rose.  My gunsteling blomme!

 

“Ek het hierdie vir my vrou gaan koop,”  verduidelik hy.  “Sy was in die laaste tyd so anders en stil.  Ek het gedink dit sal haar opbeur.”

 

Ek het die rose uit sy hand gevat en teen my bors vasgedruk en die aroma diep ingeasem.

 

“Kom ons gaan drink ‘n koppie koffie hier by die koffiekroeg.”

 

Ek het hom woordeloos gevolg.  Hy het vir ons ‘n tafel gekry.

 

“Kan ek vir jou bestel?”

 

“Ja,”  stotter ek.  “Ek wil net gou ‘n draai gaan loop.”

 

In die badkamer haal ek my selfoon uit en skakel ‘n nommer.

 

“Erasmus en Kirstein Prokureurs,” antwoord ‘n jong stem.

 

“Dit is mevrou Klein wat praat.  Ek wil graag my afspraak met mnr Erasmus kanselleer.  Ek en my man het mekaar weer gevind.  Ek wil nie meer skei nie.”

 

“Is u seker mevrou,” vra sy.

 

“Ja, ek is seker.  Dankie.”

 

Toe keer ek terug na die tafel in die hoek waar ons altyd sit.

 

“Ons moet praat my vrou,” se hy terwyl hy my hand in syne hou.  “Ek is jammer ek het jou afgeskeep.  Jammer dat ek nie wou luister nie.  Ek besef ek was verkeerd.  Kan jy my vergewe?  Kan ons weer probeer?”

 

Met trane in my oe, pynende knieë en ‘n dankbare hart het ek natuurlik ingestem.

Ek is ‘n Ricoffy mens


Weet asseblief dat ek nie die mense wat die tipes koffies drink tipeer nie.  Maar mense volgens wat verskillende koffies vir my beteken, beskryf.  So as jy Jacobs drink – moenie dink ek sê jy is ‘n klatergoud mens nie.  Dit is nie my bedoeling nie.

Ek noem toe mos so eendag terloops dat ek Ricoffy drink.  Ai, toe moes ek hoor hoe plein en ordinêr ek is want mens moet die ware Jakob drink.
Ek is ‘n Ricoffy mens want soos Ricoffy is ek presies dit wat ek sê ek is.  Geen pretensie, of duur verpakking nie.  Nee, ek is net ek.  In die oggend, wanneer die smaakkliere nog nie optimaal funksioneer nie, moet jy my met die suiker saam vat.  Net sodat ek makliker kan afgaan.

Later deur die dag kan jy my sonder suiker vat, want dan is ek reg vir wat voorlê.  Jy kan baie van my drink.  Bekers en bekers, want ek gaan nie jou sak ruk nie.  Ek is oral beskikbaar.  Jy hoef nie na my te soek nie.  Ek is net …. daar.  “Convenient” soos die Engelse sal sê.

En dan kry jy die Jacobs mens.  En ek bedoel nou nie mense wat Jacobs drink nie, nee allermins.  Ek bedoel die mense wat my aan Jacobs laat dink.  “Klatergoud” mense.  Vol blink beloftes maar as jy die pakkie oopmaak, is dit maar net nog ‘n mens.

Maar hulle hou van aardse besittings.  Omring hulle met die duurste, mooiste en beste.  Nie dat dit verkeerd is nie.  Maar die dag dat dit al is waaroor hulle kan praat – dan is dit wanneer ek besef, dit is wanneer hulle nie wil hê dat jy moet ontdek, dat onder daardie pretensie en vertoon, skuil daar net nog ‘n mens nie.  ‘n Mens wat deur dieselfde dinge as jy gepla word.  “n Mens wat dieselfde drome en wense as jy het.  Net nog ‘n mens.

Van die Jacobs mens kan jy nie baie drink nie.  Want die mens is duur.  Duur om die vriendskap te onderhou.  Die gewone is nie goed genoeg nie.  Nee, jy moet uithaal en wys.  Jy moet luister en prys.  Die Jacobs mens is nie altyd beskikbaar nie.  Jy moet soek en ‘n afspraak maak.  Jy kan nie die mens so in die verbygaan drink nie.  Nee, jy moet sit en dit slukkie vir slukkie waardeer.

En dan kry jy die “no name brand” koffie mens.  Hulle sê dis dieselfde maar oooo wee!  Jy moet drie lepels koffie ingooi om die smaak van koffie te erken.  Dan moet jy ekstra melk ingooi om die donker ‘n bietjie te verbloem.  ‘n Mens wat net te veel moeite is om af te sluk.  Dit is die “no name brands”.  Hulle sê hulle is koffie, maar mens kan nie sommer so met die oogopslag agterkom wie en wat hulle werklik is nie.   Jy moet werk om daardie koffiesmaak uit hulle uit te kry.  Maar as jy die regte kombinasie ontdek het, dan kan jy ook ‘n lekker koppie koffie uit hulle uit kry.

Ja, ek is ‘n Ricoffy mens …

Skaakmat


Het gister ‘n skaak game op vuisboek verloor.  Ek is nie juis ‘n vreeslike speler nie.  Konsentrasie neem af so na die derde skuif.  Maar dit het my onwillekeurig laat dink daaraan dat die lewe presies soos ‘n skaakspel is.

Elke stuk het sy doel.  Van die klein pion tot die magtige koningin.  In my oë is die koning nie regtig magtig nie, want hy kan sulke klein treetjies gee en is grootliks afhanklik van al sy “onderdane” om hom te beskerm.  Die enigte groot tree wat hy kan gee, is as hy “compromise” met die kasteel.  Nee, hy is nie werklik ‘n vreeslike imposante figuur nie.  Baie soos ‘n paar leiers in ons land.  Groot naam en titel, maar geen trefkrag nie.  Skuifel, skuifel maar aan soos die winde waai.

Die koningin is vir my ‘n toonbeeld van die stil sterk mense wat ek ken.  Sonder groot ophef doen hulle wat hulle moet doen om te oorleef.  Hulle beweeg oral rond.  Geen vasgestelde paaie en voorskrifte nie.  Nee, hulle beur vorentoe, maar as hulle pad geblok word, verander hulle taktiek en vind sukses op ‘n ander roete.

Die perd.  Dis nou ‘n ander kalant.  Beweeg volgens streng reëls maar as jy nie kyk nie, spring hy bo-oor alles en almal om sy plekkie in die son te vind.  Maak nie saak of hy dit verdien of nie.  Hy sal dit gaps, come hell or high water.

Die biskop.  Dit is nou die mannetjie wat die skewe weë bewandel.  Ondersoek alles en behou die goeie.  Maar as jy hom nodig het, dan is hy daar.  Sonder vrae en verwyte.  En as hy klaar gehelp het, beweeg hy verder aan.  Onbewus van die groot dade wat hy gedoen het.

Die kasteel.  Die rots, die vesting.  Word baiekeer as vanselfsprekend aanvaar.  Word nie soveel waardeer soos die koningin nie, maar as daar ‘n klip in die pad is, rol hy dit sommer moeiteloos weg.

Die pion.  Wat kan mens sê?  Dit is eintlik die sterkstes.  Onwrikbaar, vreesloos en hulle kan die grootste van die grootstes to hul knieë dwing.  Hulle is bereid om op te offer, moeilike onbegane paaie skoonmaak sodat die res kan volg.  En soos in die werklike lewe, die ouens wat die meeste opdraende kry.

So, dit maak nie werklik saak watter stuk jy op die spelbord is nie, jy het ‘n doel.  En as jy nie oë oophou nie, wag daar ‘n ywerige ander stuk om jou van die bord te verwyder en jou plek in te neem.

Ja …. die lewe is ‘n skaakspel …

Onderwerpe:

Wat die hart van vol is


Ek
wonder as die hart werklik so ‘n eenvoudige orgaan was soos in hierdie
prentjie, sou ons so geworstel het met die idee van liefde?

Sou ons wou weet watter chemiese reaksie kom tot stand as twee mense
verlief raak?  Sou ons wonder wat veroorsaak dat daardie verliefdheid
groei na liefde?  Sou liefde so vinnig soos ‘n oogwink verander het in
haat?

Die hart is nie werklik eenvoudig nie, daarom kan liefde nie eenvoudig wees nie.

Liefde is soos ‘n driehoek.  Wanneer twee mense ontmoet is hulle ver
van mekaar en soos hulle mekaar leer ken, beweeg hulle nader aan
mekaar.  Tot mens die bopunt van die driehoek bereik, waar voorkoms nie
werklik saakmaak nie.  Waar dit nie werklik saakmaak dat die ander
persoon ‘n paar foutjies het nie.  Daar waar dit nie saakmaak dat daar
stilte tussen ons is nie.  Die punt waar ons saam kan lag, saam kan
huil, saam kan jubel en saam kan bekommerd wees.  Daar waar ons mekaar
ondersteun en lei, sonder om die ander een in boeie van liefde te bind.

Baie mense dink dat die toppunt van hulle verhouding die huwelik is.

Maar is dit werklik?  Is dit nie net die onderpunt waar ons werklik
moet begin werk daaraan om iemand in ons lewens toe te laat.  Om iemand
werklik te vertrou.  Om te besef dat jy nie meer selfsugtig jou eie
gewin moet najaag nie.  Dit is ‘n proses, en as mens werklik daarmee
vrede maak en daardie punt bereik, dan het mens die hoogtepunt bereik.

Die hart het nie verniet vier kamers nie.  Elke kamer bevat iets spesiaals vir die liefde tussen ‘n man en vrou.

Die linkerkantste onderkamer is waar respek gebere word.  Seker een van
die belangrikste bestandeel tussen man en vrou.  Maar sonder die ander
drie beteken dit ook nie veel nie.

Die Regterkantste onderkamer is die kamer van vertroue.  Dit is die
fondasie waarop elke verhouding gebou moet word.  En is dit nie ironies
dat hierdie fondasie soveel keer geskud word nie.  Dit is net die
sterkte van die fondasie wat bepaal of die fondasie gaan kraak en nie
meer instaat sal wees om die res regop te hou nie.

Die linkerkantste boonste kamer is vergifnis.  Om te vergewe van die
kleinste dingetjie tot die grootste.  Om te besef dat die persoon wat
jy op ‘n “pedestal” geplaas het, kan ook partykeer voete van klei hê.
Ons is nie perfek gemaak nie.  Allermins.  Anders het ons tog nie
iemand in ons lewens nodig gehad nie.

Die regterkantste boonste kamer is humor.  Sonder humor sal die huwelik
tog ‘n vaal ding wees om te aanskou.  ‘n Grappie hier en ‘n glimlag
daar, is wat die lewe in wonderlike kleure tooi.  Humor is die ding wat
sorg dat ons oor klein foutjies kyk en kan lag vir onsself.

Dan die bloed wat deur die hart vloei, wat die hart aan die lewe hou,
is geloof.  Geloof in ons Hemelse Vader.  Geloof wat sterk vloei, hou
die hart gesond.

En die ding wat sorg dat die hart gesond en ritmies bly klop is die
seksuele.  Daardie intieme oomblikke waar dit net julle twee is.  Waar
elkeen hom/haarself kan wees.  Waar ons onsself kan uitleef met die
vaste wete dat die persoon wat dit met ons deel, ‘n besonderse mens is,
wat spesiaal op ons pad geplaas is om ons harte volmaak te maak.