Die waarde van ‘n tweede opinie!


Die laaste dag wat ek laas hier gepos het, was 27 Oktober 2011 en daardie pos het met groot moeite gepaard gegaan want ek was siek.  Nie naar, griep of piep nie, ek was net pleinweg siek.  Te moeg om te praat, my arms op te lig.  Ek het gesukkel om te slaap, stort en titivate was moeite, ek kon nie dink nie en ek het gevoel my lewe het tot stilstand gekom en ek het nie geweet hoe vorentoe nie.

In hierdie toestand het ek gelukkig besef iets is drasties fout en is na my dokter toe.  Hy het onmiddellik depressie gediagnoseer en vir my pille voorgeskryf.  Ek het dit dadelik begin drink.  Die ‘Antidepressant’ in die oggend en slaappil in die aand.  Maar toe begin ek koud kry.  Nie die gewone ‘run of the mill’ koud nie, nee ‘n koue wat in my binneste kom sit het.  Ek het gebewe en my tande het opmekaar geklap.  Ek het op my tande begin kners.  Nie doelbewus nie.  Ek het net elke nou en dan gevoel my kake is seer en dan besef ek kners my tande.  In die nag het ek wakker geword van die geknersery en het vreeslike hoofpyne gekry.  My gewrigte het gepyn en my voete was so seer dat ek nie in die oggende op hulle kon loop nie.

Weereens is ek terug na die dokter.  Vertel hom van al die simptome en sê “Ek voel net nie myself nie.”  Hy vra toe – ewe vermakerig – “Soos wie voel jy dan.”  Ek kon hom nie antwoord nie.  Ek was net te moeg!  Miskien het hy ‘n grappie gemaak – ek weet nie – want my humor reseptors was ook nie lekker nie.  Hy besluit toe om die pille met ander te vervang.

Toe ek by die huis kom, lees ek die biljet wat in die boksie is.  Die newe-effekte is toe sommer al my simptome.  MAAR ek dink toe, hy is die dokter en hy weet beter.  Ek begin toe die goed drink.  Ek ontwikkel toe ook ‘n eetlus wat skrik vir niks.  Die een oomblik is ek so lus vir sout – amper soos iemand wat vir dae in die woestyn geloop het sonder water en dors is – en dan eet ek sout, skaars vyf minute later kry ek ‘n lus vir suiker – so erg dat ek seker Kaap toe sou ry om daardie lus te blus!  Slaap was heeltemal buite die kwessie, ek het sommer twee slaappille gedrink – en steeds gelê en rondrol.  Ek besluit toe om die Antideprisante ook in die aand te drink – want ek reken toe hulle kan dalk help dat ek slaap saam met die slaappille.  Maar dit was ‘n fout, ek kon toe gladnie slaap nie!  Ek het erger gebewe en dit het gevoel asof ek nie deel van die omgewing is nie.  Julle ken daai liedjie “From a distance, God is watching us.” maar in my geval was dit “From a distance, Maryke is watching life”.  Dit het gevoel asof my brein tot stilstand gekom het.  Ek kon nie konsentreer nie, kon nie werk nie en kon ook nie eintlik kommunikeer nie en die ergste is dat ek myself moes dwing om ‘n basiese ding soos stort – te doen.  En dan het ek net daar gestaan en die water oor my laat spoel want ek kon nie die arms lig om enige iets anders te doen nie 😦

Een oggend toe ek opstaan, na ‘n nag van rondrol, was ek heeltemal van balans af.  Trane het geloop, maar ek het nie gehuil nie.  Ek het gebewe soos iemand wat kaal in Alaska staan, maar ek het nie koud gekry nie.  Ek kon kyk, maar ek kon nie sien nie – alles was ‘n blur.  Ek vra toe my man om my asseblief na ‘n ander dokter te vat wat ek van gehoor het want ek het letterlik gevoel ek gaan dood.

Ons is toe na die dokter toe.  Toe ek op die stoel voor haar plaasneem, vra sy wat is fout.  Ek het na my man gekyk … hy het geweet ek kan nie praat nie en het toe vir haar vertel.  Sy het my net een kyk gegee en gesê ek is totaal en al uitgebrand.  ‘n Chemiese wanbalans in my brein agv die erge stress wat ek die afgelope drie jaar ondervind het.  Die mooiste woorde wat sy gesê het was, “Dit is nie jou skuld nie!”

Sy het dadelik die ander pille gestop en ander voorgeskryf wat die wanbalans in my brein herstel en ander wat my help om te slaap.

Dis nou amper ‘n maand later en ek kan onomwonde sê, ek is besig om gesond te word.  Ek kan voel hoe my brein begin werk, ek kan voel hoe ek ‘ligter’ word en ek kan voel hoe alles weer begin sin maak.

Ek het nie die pos geskryf vir simpatie nie!  Dit is geskryf om vir julle te vertel dat ‘n tweede opinie nie te versmaai is nie!  Ek wil ook vir julle sê dat julle moet luister na julle liggame!  Moenie ‘doof’ wees as jou lyf vir jou sê daar is iets fout nie.  En as die een dokter nie kan help nie, gaan na ‘n ander.  Dit kan jou geen skade doen nie.

Hoop julle het almal ‘n geweldige lekker naweek!  En onthou om ‘n tweede opinie te kry as die eerste een nie werk nie!

Advertisements

13 comments on “Die waarde van ‘n tweede opinie!

  1. Op ‘n stadium was ek net so moeg, ek wou skaars opstaan, selfs eet was vir my te veel moeite. My omstandighede was ook so dat die dokter sommer dadelik anti-depressante voorgeskryf het al het ek hard probeer stry dat dit nie depressie is nie. Het toe maar die pille geneem maar na ‘n week was my simptome nog erger. Toe gaan kry ek ‘n tweede opinie en die dokter doen die moeite om bloedtoetse te laat doen en daar vind hulle toe ‘n onderaktiewe skildklier. Soms dink ek dokters diagnoseer te maklik depressie.

    Like

    • Ek stem oor die vinnige diagnoses. Die dokter het ook bloedtoetse laat doen. My skildklier is ook onderaktief, maar nie so erg dat die mediese fonds medikasie daarvoor sal goedkeur nie 😦 Maar ek vat elke dag soos dit kom en stappie vir stappie word ek beter.

      Like

  2. Hulle gunsteling is natuurlik stres. Ek sal mos weet as ek stres. Dan depressie, hoe sal ek nie weet as ek depro voel nie? Dan kom die skildklier, dan verseker ek ook die skildklier is in remissie, dankie. Veral wanneer ‘n dr my laat verstaan dat die skildklier my neuroties maak. Daarom bly ek maar baie ver van ‘n dr weg. Ek vertel die plaaslike gp ten minste twee keer per jaar wat hy met Eltroxin kan maak.

    Like

    • 🙂 Ek dink die dokters tas maar baie in die donker rond. Wat ek geleer het is dat jy nie ‘n GP gaan sien as jou kop raas nie. En jy gaan sien nie ‘n kopdokter as jou toon pyn nie.
      Ek is net bly ek voel beter. Bly dat die lewe weer vir my sin maak en dat daardie dooie gevoel besig is om te wyk.

      Like

  3. my vriendin Mali het presies jou simptome gehad en toe het sy nadat ek omtrent aan haar gekarring het dokter toe gegaan , ek het ook vir haar gese om vir die dokter te se dat sy soveel kopsere antidepressante en slaappille saam drink want mens kyk nie na jouself nie en weet nie dat die pille dalk newe effekte het en so as jy dit saam gebruik nie , so sy het uiteindelik en die vertigo was weg, dit is die van balans af wees , weg is die bewe en weg is al die kopsere en slaap lose nagte 🙂 my liewe vriendin ek sal vir jou bid dat jy rustigheid kry en nie die antidepressante ens hoef te gebruik nie dokter het my ook op Nuzac gesit en atarax vir die slaap maar nou doen ek maar hobby stuff en ek probeer my eie lig vind , ek dink as jy meer skryf sal jy ook beter voel want jy is briljant wat dit aanbetref , ek hou van jou blog .
    as jy hoofpyn het , probeer water drink want dit neem ook hoofpyn weg 🙂 mag jy awesome dag he en ek bid dat al die donker sal verdwyn en dat jy jou pad na beterskap sal he sommer baie gou , dink aan jou en hope drukkies xxx

    Like

    • Dis opmerkings soos joune wat my innig dankbaar maak vir die blog gemeenskap. Baie dankie vir jou mooi antwoord, dit is so mooi en ek waardeer dit opreg.
      Ek hou ook nie van pille drink nie, en ek en die dokter het mooi ooreengekom dat as ek 100% is, gaan sy my help om verder sonder hulle klaar te kom. Ongelukkig het ek die keer die pille nodig 🙂

      Like

  4. Ek drink nie sommer ‘n pil nie… ek hou liewer uit. Ek hoop jy voel sommer baie beter. Mens moet luister na jou lyf, niemand ken hom beter as jy wat binne hom leef nie. Bly jy het vir joune geluister en vir ‘n tweede opinie gegaan

    Like

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s