O die nostalgie!


Dis die lekkerte van die laataande! Om op youtube rond te grawe en al die ou … ou liedjies op te diep en my ore te bederf met net die mooste en beste!

Wie onthou nog ‘Pop Shop’ op die TV? Elke Vrydagmiddag, dit was vir my ‘n hoogtepunt. Ek onthou ook die ‘vuil’ kyke wat ek van my Liewe Moeder gekry het, want hulle kon nie die nuwerwetse musiek verstaan, wat nog te praat van ‘handle’ nie. Ek onthou dat ‘Another brick in the wall’ vir my my ouers nogals ‘n doring in die vlees was omdat Pa ‘n skoolhoof was en Ma ‘n onderwyseres. Daarom het mens mos maar so half moedswillig die volume knoppie aangedraai as die liedjie op Top 20 gespeel is. ‘n Ander liedjie wat ook baie kontroversieël was, was ‘House of the rising sun’ … en vandag is dit nog ‘n baie gewilde lied.

My pa was ‘n groot ‘fan’ van Rudi Nights (spelling), Leonore Veenemans en my Ma se ‘all time favourite’, Love is a beautiful song en as ‘Amazing Grace’ iewers gesing of gespeel word, dan sien ek haar gesig voor my!

‘n Paar jaar terug het ek hierdie ‘droom’ gehad om ‘n sanger te wees, nogals ‘n CD laat maak en al, maar nie baie vêr gekom nie. Nou luister ek so nou en dan sommer na myself.  http://www.reverbnation.com/marykeanne/songs (Mississipi)

My Liefste Lifiki is weer ‘n groot Dana Winner aanhanger, veral ‘Dreams made to last forever’, en vanaand besluit ek om dit vir hom op YouTube te soek en laat hom toe luister op die foon met die oorfone. Ai, die saligheid op sy gesig … absoluut ‘Priceless’

As ‘n tiener het ek ook ‘n ‘Song to cry by’ gehad, vir wanneer die tienerliefde nie uitgewerk het nie … dan het ek ABBA se ‘The winner takes it all’ oor en oor geluister terwyl die trane geloop het!  En vandag as ek ‘Spirit in the sky’ hoor, dan jeuk die voete om ‘n dansbaan te betree. Maar die wederhelfte is mos met twee linkervoet gebore en nie een van hulle het ‘n tikkie ritme in hulle nie 😦

Ek onthou ook ek en my jongste sus het altyd gesing in die kar. Die mooiste wat ons altyd saamgesing het … Mooiste Griekeland … en ons het ge’harmonize’ soos professionele sangers! Dit was vir my baie lekker.

Ek en oudste sus het die ‘borsel as ‘n mic’ ding gedoen … ‘Hey Mickey, you’re so fine Mickey…’ ai …, as ons kamer se spieëlkas kon praat!

Maar nou het ek genoeg in gister rondgehang. Laat ek die tegnologie afskakel en slaap. Dit word laat!

Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer …


Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval armoede jou soos ‘n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ‘n inbreker.

~ Die Bybel

– Salomo, Spreuke 6:10-11

Dis mos ‘n gewilde aanhaling vir ouers as die kinders bietjie laat wil slaap.

Soos julle weet sukkel ek geweldig om te slaap, maar ek het nou ‘n besluit geneem.

Dondergaand lê ek in die bed so om en by 11:00 en dis ‘n gedraai en gerol van ‘n ander wêreld. Eers is daar ‘n knop onder die knieg, dan ‘n vou in die laken onder die sy, dan lê sekere dele van die antomie ook nie lekker as ek op die maag draai nie, en die hakskene begin brand as ek op die rug draai … dan begin die ritueel weer van vooraf met dieselfde knoppe, voue en vreemde posisies. So teen twaalfuur besluit ek, TOT HIER TOE EN NIE VERDER NIE!

Ek skakel die lig aan en trek die skootrekenaar nader. Begin werk en voor ek my oë kan uitvee is dit drie-uur en ek is vaak. Die oë traan en ek gaap soos ‘n vis op droeë grond. Skakel die skootrekenaar en bedlampie af en word die volgende oggend eers weer wakker.

Vrydagaand weer dieselfde – die knoppe, draaie, ongemak – en toe gaan die spreekwoordelike lig vir my aan! Drie-uur is my slaaptyd! Dis die tyd wanneer ek aan die slaap raak sonder sukkel, sonder rondrol, sonder knoppe en voue wat my pla.

Dis toe ek vir myself sê … ek werk mos vir myself, ek het my eie ure, ek het nie ‘n baas wat verwag dat ek 8uur op kantoor moet wees nie, ek het nie kinders wat 7uur by die skool moet wees nie EN ek werk altyd laat so ek kry my werk in. Hoekom MOET ek 11uur gaan slaap? Daar is mos nie meer vir my ‘n MOET nie!

Saterdagaan het ons ‘n DVD dag gehad en my dierbare beste vriendin het laat eers huistoe gegaan. Maar ek het rustig nog TV gekyk tot die vaak my oorval het so teen 2:30. Het in die bed geklim en amper onmiddellik aan die slaap geraak.

Sondagaand dieselfde, eintlik het ek al 1:30 al vaak geraak en gaan slaap. Geen probleem.

So, van nou af, gaan ek slaap as die vaak my oorval, maak nie saak hoe vroeg of hoe laat nie … want ek HOEF nie ‘n sekere tyd in die bed te wees en ‘n sekere tyd weer wakker te word nie. My slaapprobleem is opgelos!

keep-calm-because-i-can-i-will-end-of-story

So van nou-af slaap ek wanneer ek wil … want ek kan. Nou moet Salomo net ophou om by my te spook!  Ek dink hy moet sy hardwerkende miere vat en iemand anders gaan pla 🙂

Ek hunker …


Het jy al opgestaan en verlang na iemand, maar jy weet nie wie dit is nie? Ek het vanoggend so gevoel maar ek het presies geweet wat (nie wie) ek mis!

Zimbabwe-Food-Recipes-Porridge-reMapfunde-578x300

My pa was in ons huishouding verantwoordelik vir die ontbyt (of ek kan onthou hy het op ‘n stadium die ontbyt gemaak), maar omdat ons 7 kinders was, het die fancy kits onbytkosse omtrent net drie dae gehou. Dus moes die ander oggende pap gemaak word. My jongste sê steeds daar is niemand wat krummelpap soos Oupa Frik kan maak nie!

Maar vanoggend het ek nie lus gehad vir die krummelpap nie, nee, vir die eerste keer in my lewe was ek lus vir die Maltabella pap wat hy gemaak het.  Glad sonder ‘n enkele knop (ek weet nou nie wat is die Afrikaanse woord hier nie) en donkerbruin. Ek onthou hoe ons dan ‘n klont(jie) regte egte botter en baie suiker ingegooi het en dan dit geroer het tot alles opgelos het en net so ‘n titseltjie melk. Dan het ons ewe langtand daaraan geëet want ons het kamtig nie van Maltabella pap gehou nie!  En vanoggend toe proe ek daai pap so in my gedagtes en wens my pa kan dit vir my vanoggend gemaak het – maar nee … hy sit mos nou lekker in Danabaai en hou vakansie!

So hunker ek ook na ander goed …

  • Fietsry sessies, skool toe en terug, sonder om bekommerd te wees oor ongure karakters wat agter die bosse skuil
  • Swem .. toe ek nie omgegee het hoe ek lyk in ‘n swembroek nie
  • My ma se aartappelslaai en haar kerrie-en-rys
  • Die stem sing Maandae oggende in die skoolsaal en voor ons verdaag ‘n gewyde liedjie. Ek onthou nog “Watter vriend het ons in Jesus” baie goed en ons as skool het dit in kanon gesing. Dit was altyd vir my mooi!
  • Sondagmiddag etes met die hele gesin om die tafel … al het dit 60% van die tyd uitgeloop op ‘n twis tussen die kinders
  • Mada, ons speelmaatjie
  • My ma se ingelegde perskes
  • Waarlemoen eet met die ALTYD daaropvolgende ‘smeer’ sessie en dan duik in die swembad
  • Slip-n-slide dag wanneer die swembad se seil na die winter afgehaal is
  • Haasdas se Nuuskas en die vlag wat 12uur in die nag gewapper het
  • My naweek kuiers by my vriendin Koekies
  • Bel vanaf ‘n telefoonhokkie
  • Paaseiers in die tuin soek

Ag daar is nog so baie!  Partykeer moet mens jouself net die tydjie gun om terug te dink en daai ‘warm fuzzy feeling’ te beleef.  Dan kyk mens weer vorentoe want … die lewe en sy realiteite gaan aan.

Waaraan dink jy as jy begin hunker?

Nagmerries is nie ‘n man (vrou) se maat nie …


cartoon-pig-having-nightmare

So ‘n paar weke terug was ek heel haantjie uitnek op ‘n mede Facebooker se blad waar ek ge’brag’ het dat ek my anti depressante soos ‘n warm patat gelos het, sommer net so in September laas jaar. Was sommer moeg om elke aand pille te drink. En ek moet eerlik sê, ek het nie nagevolge gehad nie …. tot …

Ek mettertyd agtergekom het dat ek net glad nie kan slaap nie! So, toe is ek terug na die dokter en die .. trap my toe so uit omdat ek die pille net so gelos het. Weer vertel van die brein wat nie Serotonien vervaardig nie, en dat ek mos nou weet ek het die probleem en dat ‘net slaappille’ nie my probleem gaan oplos nie.

So moes ek toe nou ‘hoed in die hand’ gaan omverskoning vra vir die Facebooker en ewe gedwee weer die pille begin drink. Ek slaap darem nou.

Maar jong, as ek nou die aand besluit om ‘n nagmerrie te hê, dan hê ek hom behoorlik! So droom ek dat daar ‘n massamoordenaar in die dorp is. En oral waar ek gaan is mense met elektriese saaglemme in hulle koppe, hulle sit net daar met die lemme wat so stadig woer-woer … en toe op die einde spoor ek die moordenaar op en die probeer toe ook die saagding in my kop plant, maar vir een of ander rede het ek so ‘n laaaaang mes in die hande en ek oorwin hom met ‘n netjiese ooghou. Maar dis toe ek wakker skrik met die alleraaklikgste hoofpyn! Dit klop teen my slape en ek kan skaars deur my oë sien. Strompel toe maar kombuis toe vir ‘n paar Comprals en wonder bo wonder … voor ek die pille moet sluk, is die hoofpyn net weg. Net so … sonder rede!

En hier sit ek nou, 04:30, wawyd wakker en wag vir die son om op te kom!

Gelukkig gaan dit ‘n heerlike dag wees want Lifiki se kinders kom kuier en ek gaan die kleingoed weer sien! Dit maak op vir enige nagmerrie.

Nou gaan ek maar aangaan met werk tot dit tyd is om ‘op te staan’. Hoop julle het ‘n wonderlike dag!

Partykeer is mens net geseënd … en dis dit!


indexWanneer mens vir jouself werk is dit asof mens partykeer in ‘n tipe van doolhof beland … doolhof van rekenings wat betaal moet word en kliënte wat daarenteen, nie altyd gretig is om te betaal nie … dan is dit asof mens se hart vinniger begin klop en elke keer as die foon lui, dan loer jy hom asof dit ‘n gesant uit die hel is.  Of as die selfoon begin lui … en Ray Dylan se ‘Jy’s stout’ maak jou bang in plaas van om ‘n glimlag op jou bakkies te plak … dan weet jy … dis tyd dat ‘n wonderwerk gebeur.

‘n Wonderwerk – vir my – gaan hand aan hand met ‘n gesegde van my Pa: “The best helping hand is at the end of your own arm.” ‘n Wonderwerk gebeur nie sommer net vir sommer nie, daar moet ‘n aksie wees sodat jy die verwagte teenreaksie of resultaat kan kry.  En dit is juis daarom dat ek altyd op die uitkyk is vir nuwe dinge om te leer of te ervaar binne my besigheids veld.

So gebeur dit ook dat ek beland op ‘n groep op Facebook – South African Entrepreneurs (SAE) – wat laasjaar deur ‘n jongman Tebogo Serithi begin is, met ‘n eenvoudige WhatsApp groep. Ek het dadelik lid geword, want besigheid is besigheid en mens kry dit partykeer op die vreemdste plekke. Ek het begin saamgesels op die WhatsApp groep en skielik moet daar provinsiale takke gestig word en voor ek my oë kon uitvee, word ek ingestem as die Voorsitter van die Noord Wes tak. Ek kon dit nie glo nie! Maar ek sal vandag vir julle sê dit was van dag een af vir my ‘n wonderlike ondervinding en ‘n absolute seën.  Dit is net wonderlik om met mense te werk wat werklik honger is … honger vir kennis … honger om hard te werk en honger is vir sukses. Omdat ek ‘n mens is wat graag leer en ook graag my kennis met ander deel, pas dit my soos ‘n handskoen.

Ek kon eers nie verstaan hoekom ek op hierdie pad geplaas is nie, maar ek weet nou … daar het vir my deure na nuwe besigheid oopgegaan wat ek nie in my wildste drome sou kon verwag nie! En daarom voel ek uitermatig geseënd.

Ja, om vir mens self te werk is nie altyd maklik nie en daarvan kan Maankind self getuig. “Self employment” is ‘n unieke uitdaging, maar ek verruil dit vir niks ter wêreld nie.

Dis mos die klein jakkalsies wat die wingerd vreet …


05b50e1332f0a36453969139a4dceeedGelukkig vir my is ek mos nie ‘n tuinwerker (of ‘n huisvrou) se jis werd nie, so daai jakkalsies gaan maar suur rosyntjieagtige druiwe moet vreet … en om eerlik te wees, daai druiwe gaan my nie pla nie! Dis nie asof ek hulle met grasgroen vingers versorg het, of bemes het met die regte stof nie … nee, ek het hulle net so skeef van die kant beloer … want dis nie my belangstellingsveld nie. En as iemand my nou aanvat oor my tuisteskepper skills, dan weet ek, ek skiet vêr tekort en … eerlikwaar dit traak my nie ‘n snars nie!

Maar … as hulle begin vertel hulle doen hulle eie huiswerk soos dit hoort, omdat hulle ma’s hulle reg grootgemaak het, dan kan jy mos nou ‘n eier in my regteroor kom kook. Want dan sê hulle, in effek, my ma het my nie reg grootgemaak nie.  En dan is dit wanneer die spiritsdrinkende vrou haar verskyning in my maak.

My ma was ook nie ‘n huisvrou van formaat nie, maar sy’t 7 kinders grootgemaak, was die beste Engelse onderwyseres in ML Fick laerskool en ons kon nie vir beter gevra het nie. Sy het so nou en dan ‘n poging aangewend om ons ge’domesticated’ te kry en het darem op die belangrike punte geslaag. Maar, ek sal haar nooit onthou vir haar huisvrou vaardighede nie – al het sy ‘n mean Aartappelslaai en die Beste Kerrie en rys gemaak – nee – ek sal haar onthou vir haar harde werk. Sy het skoolgehou, buitemuurs afgerig, ekstra Engelse klasse gegee, swemklasse gegee, ons het altyd warm truie uit haar hand en breipenne ontvang, rokkies met valletjies, wat sy self gemaak het, gedra.  Ja, sy was nie ‘n  huisvrou indexnie, maar sy’t vaardighede gehad. En vandag kan ek onomwonde sê … DIE belangrikste ding wat sy my geleer het was ‘Hou altyd iemand anders se kroon op sy kop’, ‘Moenie agteraf skinder van mense en goed sê wat jy nie sal wil hê ander moet van jou sê nie’, en ‘As jy nie gelukkig is met jouself nie, kan jy niemand anders gelukkig maak nie.’

So, al het ek nie by haar geleer om silwer op te vryf en koper te brasso nie, al het ek nie by haar geleer om ‘n skaapboud gaar te maak of ‘n VLU pryswennende koek te bak nie, weet ek dat die waardes wat sy my geleer het, my verder deur die lewe sal bring.

Al bly ek dalk nie in die skoonste huis met ‘n pryswennende lowergroen tuin nie, weet ek besils dat ek daar is vir my vriendekring.  Ek sal altyd hulle krone op hulle koppe hou. Ek sal hulle nie beskinder en verkleineer nie. Ek sal my familie en geliefdes met respek behandel en altyd seker maak dat hulle gelukkig en gemaklik is. Want, op die einde van die dag is ‘n skoon huis en ‘n eksie perfeksie tuin nie ‘n toonbeeld van geluk (vir my) nie, nee … my seuns wat my liefhet en glimlag as hulle my sien, my man wat saggies aan my hand vat en sê “Angelface, ek is lief vir jou.”, my suster wat laat weet sy verlang, my pa wat bel net om te sê hy is nog bogronds, my broers wat ek weet dink darem aan my en my lieflike stiefkinders wat my so goed behandel … dit is dinge wat vir my meer saakmaak as die huis waarin ek bly of die kar wat ek ry.

So ek wens vir elkeen van julle ‘n vriend/vriendin/kollega/wederhelfte/kind wat jou kroon op jou kop sal hou, want dan weet jy daai persoon dra werklik jou geluk en welstand op sy/haar hart.

Ek op my kluit …


So sit ek die naweek en dink.  Daar is soveel dinge wat in die wêreld gebeur terwyl ek rustig – soos ‘n uitgespande donkiekar – op my bank lê en TV kyk!  Dit is eintlik verbysterend …

Iewers skenk iemand geboorte terwyl iemand anders iewers van ‘n geliefde afskeid neem. Iemand koop ‘n nuwe Laptop terwyl elders, een gesteel word (dis nou ek daai wat die vakansie twee inbrake moes beleef), mense word in Frankryk geskiet, Boko Haram maai 2 000 mense af, Durban word gekroon as die beste stad in Suid Afrika, die ANC hou partytjie en so kan ek aangaan … dit alles terwyl ek rustig in my huis sit.

Toe tref dit my … ons is elkeen maar net ‘n hoenderhaan wat koning kraai (soos Lewies Mymer se gans) op sy eie kluit. Party mense se kluite is bietjie groter met ‘n paar sub kluite – elkeen met sy eie hoenderhaan wat kraai, en dan is daar ander – soos ek – wie net die gewone allerdaagse kluit het, maar ek kraai en rumoer op hierdie kluit dat dit ‘n vreeslike affêre afgee!

So loop die gedagtes aan en aan en ek besef dat, alhoewel ek net ‘n doodgewone kluit het, dit my kluit is en ek wel my kluit kan omtower in ‘n kluit ter kluite! Hier kan ek ‘n verskil maak, ek kan vrede teweegbring en ek kan sorg dat dit ‘n sukses is. So kan ons elkeen ‘n verskil maak deur te skrop en te spartel en aanhou probeer en probeer tot ons dit regkry. Ons kan hard werk sodat ander kan sien wat ons regkry en dan ons voorbeeld volg – wel as mens nou ‘n positiewe verskil sou maak.

Maar ek dink partykeer raak ons so ingenome met onsself dat ons net aanhou kraai en op die einde van die dag nie veel regkry nie. Dis sulke tye wat ek dink die gekraaiery raak so ‘n gefuif en lawaai dat Die Here ‘earplugs’ in sy ore druk en wonder wat Hy gedoen het om dit te verdien!

Mag jou gekraai vandag soos musiek in Die Vader se ore wees en mag dit niemand de hoenders in maak nie!

Sommer een aan geteken toe ek nie kon slaap nie.

Sommer een aand geteken toe ek nie kon slaap nie.

 

Van een ding is ek seker en dit is …


dat die parra wragtag nie ‘n manel dra nie.

Ek het die laaste tyd baie ‘into’ die skoonmaak ding gekom … meer natuurlik soos in koeksoda, suurlemoen ens. En so in my soeke kom ek af op die eier penarie.

Mens sukkel mos om die doppe af te kry en partykeer kraak een hardedop nog voor hy gaar is.

correct-sadfrog1Toe lees ek raak, dat mens Koeksoda moet ingooi sodat mens die doppe makliker kan afskil. En iewers het ek gelees asyn help ook vir een of ander gekookte eier kwaal. Maar met die ouderdom saam en die nou en dan se geheue verlies, onthou ek nie lekker nie en neem sommer aan dit is om te keer dat die wit nie uitloop as die dop gekraak het nie.

Die konklusie … moet asseblief nie koeksoda en asyn in ‘n pot kokende water gooi nie, die resultaat is dieselfde as wanneer melk oorkook – ‘n totale gemors wat mens sukkel om skoon te maak.

Maar op ‘n meer positiewe noot … my lemoenskille is in die asyn en oor twee weke maak ek blykbaar my huis so skoon dat ek self nie sal kan glo hoe skoon hy is nie.

 

Mens is nooit te oud om te leer nie!


Ek is so verskriklik opgewonde!

As ‘n skoolleerder was ek lui … nie sommer enige lui nie, nee sommer LUI in hoofletters, LUI in bold en LUI in kursief. Ek het dit gehaat om te leer en enige denkbare verskoning uitgedink om nie te leer nie. Nodeloos om te sê dat hierdie rebellie en slapgatgeid teruggekom het en my lelik in die agterstewe gehap het later jare.

MAAR – nou’s ek oud, grys en wys en wanneer iemand aanbied om jou te help om ‘n kwalifikasie te kry … dan gryp jy dit met altwee hande vas. So op die rype ouderdom van 47 gaan ek swat. Nou nie ‘n graad nie, wel ‘n sertifikaat … maar wat my die mees opgewondste maak is dat ek na ure se gesoek die regte kursus gekry het.

So bietjie agtergrond …

So 7 of 8 jaar terug het ek besluit om web designing te doen.  Begin met Microsoft Frontpage en later ontdek ek toe Flash en toe Joomla en toe my mees favouritste CMS WordPress!

Ek het myself geleer, geGoogle, boeke gekoop en so op ‘n drafstappie vir my ‘n gemaklike tuisbesigheid op die been gebring.

Jy kan dalk nou vra, wat meer kan jy leer na soveel jaar?

Sommer baie, baie en ek kan nie wag nie.  Hierdie kursus gaan vir my meer deure oopmaak en beslis meer deure om ‘n ekstra geldjie te verdien.

Hoop die ou brein sal kan byhou!

‘n Nuwe jaar … nuwe dinge


Ek het hierdie jaar besluit om sommer al my voornemens by die agterdeur uit te vee en die jaar oopkop aan te pak!

Wat ek wel graag wil probeer is om my werk meer te orden … maar ek weet nie of die orden van my werk net nog meer werk gaan beteken nie. Maar ek moet iewers begin want iewers tussen updates, renewals ens val die pap op die grond.  Wens net daar was ‘n makliker manier. Ek is nou nie een vir ‘n dagboek nie 😦

Ek het ook begin om myself van ‘n paar groepe op Facebook te verwyder want genade … as dit nie oor rassisme gaan nie, gaan dit oor hoe sleg die land is, hoekom Steve nie die stem mag sing nie, hoekom daar steeds meer blankes op Clifton Strand is, Weskaap as die apartheid staat binne Suid-Afrika, die daling van die matriekslaagsyfer en dan praat ek nie eers oor die aanhoudende “I want to see how many people will like/poke/share/greet/reply on my status” en die “Ek gaan vandag my friendlist fynkam en almal verwyder wat nie genoeg aandag aan my gee nie!”  Nee gits … Facebook het ‘n propperse klaagmuur geword.  (Fluister … maar ek love dit)

Nie net was my vakansie nie lank genoeg nie … to top it all … breek hulle toe sommer twee keer by ons huis in en die skade is:

  • 2 x Fietse
  • 2 x Laptops
  • Lifiki se bakkie se sleutels

Ek vermoed ek het vir 2015 klaar my bydrae gemaak aan … kom ons hoop … iemand wat nou makliker by die werk gaan kom en iemand wat die laptops gaan gebruik om ‘n besigheid te begin en ‘n bydrae maak aan die land se tanende ekonomie!

Goeie nuus egter is die daling van brandstof se prys, hopelik sal ons die daling kan waarneem in die prys van kos en ander noodsaaklikhede.

Ek het beplan om my vakansie te verwyl met skilder maar al wat ek kon skilder is die volgende (geskenk vir my skoondogter):

lilies-for-christmas-present

Hopelik sal ek die jaar meer tyd kry vir die klein dingetjies in die lewe wat ek geniet.

Voorspoedige 2015 vir almal!

 

By pienkpantoffels Posted in Algemeen