Hier is ek baas …


c16a5320fa475530d9583c34fd356ef5_1426506731

Maankind het vandag op haar Facebook blad dit mooi saamgevat. Op haar Facebook is sy baas. En dit is hoe ek ook voel. Daar kan ek sê wat ek voel, ek kan dink en my gedagtes daar neerpen, grappe maak, ernstig wees en partykeer – hier en daar – ‘n klip in die bos gooi, want op daardie bladsy is net ek die baas. Dankie Maankind dat jy dit my weer laat besef het vandag.

Mens raak so opgevang in al die dinge wat om ons gebeur. Nadat ek ‘n baie onstellende video vandag raakgekyk het, het ek ook sommer myself onttrek van ‘n hele paar groepe. Dit raak net te veel! Veral as dit aan die politiek raak. So maak ek toe ook ‘n ou groepie vir die 20 munisipaliteite wat aan Gedwonge, geskeduleerde beurtkrag onderwerp gaan word omdat ons munisipaliteite diep in die skuld is by Eskom. Genugtig … toe is dit ‘n pandemonium van ‘n sekere politieke party (en nogals die een waarvoor ek gestem het) wat ons oorval met daai opbouende kritiek wat eintlik bedoel is om vir jou te sê hoe domonnosel jy nou in werklikheid is. En net daar besluit ek toe, dis mos nou my groep. En toe hulle snuf in die neus kry dat die koerant my gekontak het, toe word die kamtige helpende handjies (en ek verwys beslis nie hier na die helpende hand fonds nie) uitgesteek in daai soeter as stroop maniertjies … nee kyk, ek is ‘n ou aap … ek sleep nie die ketting nie … ek tel hom op en dra hom! Snaaks hoe mense bang is jy gaan op hulle mishopie piepie … ek het my eie dankie.

Maar dit daar gelaat. Terug na die baas storie. Ek het nou die dag ‘n lieflike aanbod gekry van een van my oorsese kliënte … maar met ‘n hele paar voorwaardes soos ek moet altyd beskikbaar wees in sy tyd, erken nie my naweek rus nie, erken nie my vakansie dae nie … maar die geld klink reg. Maar toe dink ek … ek het mos nou nie my tuisbesigheidjie begin om vir ‘n baas te werk nie? Want op hierdie erf is ek die baas. Ek werk wanneer ek wil, so laat as wat ek wil. As ek ‘n dag wil afvat, dan doen ek dit. Ek werk nie na 3 uur op ‘n Vrydagmiddag nie … ek is gemaklik met wat ek doen en wat ek vir myself geskep het. En dan moet ek ook ‘n onderneming gee dat ek nie vir ander mense sal werk nie. Maar hy kan my nie waarborg dat hy ALTYD vir my werk sal hê nie … tipies die Amerikaanse ego. Maar ek het besluit, ek sal vir hom ‘n paar ure per week gee, maar niemand sal ooit weer my baas wees nie en BASTA!

Om vir jouself te werk is uiteraard nie altyd Maanskyn en Rose nie. Jy skryf jou eie salaristjek, maar partykeer agv dinge wat gebeur, is daai tjek nie heeltemal wat jy verwag het nie, maar ander kere glimlag die heelal vir jou en jou tjek is meer as wat jy verwag het.

Nee wat, ek geniet om vir myself te werk … en so sal dit bly.

7 comments on “Hier is ek baas …

  1. Ja, die groepies-storie kan soms handuitruk. Ekself is maar nie baie aktief daarop, selfs FB. Ek dink die blog bied my ‘n verskeidenheid skrywes wat meer gevorderd is. Ek hou daarvan. Verkies om altyd iets te leer, want ander gesels-groepies nie vir my bied.

    Ja, dis hard om vir self te werk. Sterkte daarmee, en mag jy gaan van krag tot krag in jou besigheid.

    Like

  2. Ek dink mens moet kansterk staan om werklik party van hierdie groepe te oorleef of om kop uit te trek. Hul kan nogals klou aan nmens. Self werk is harde werk en dissipline ook

    Like

Los jou mening ...