Willemiena (‘n ou Blog Pos van my op Litnet)


Oumie het altyd gesê ek is met die regte naam gebore maar het met die verkeerde van uit die bed geklim. Ek kon dit nooit verstaan nie, want ek het nie moeilikheid gesoek nie, moeilikheid het my gesoek. Eintlik uitgesnuffel want ek was nie altyd beskikbaar – as jy nou kan verstaan wat ek bedoel – vir moeilikheid nie.

Partykeer het ek werklik hard probeer om uit moeilikheid se pad te bly deur agter ‘n boek weg te kruip of dit toe te verf op ‘n skilderdoek. Maar gewoonlik het moeilikheid my daar kom uitlok en meeste van die tyd in warm water laat land.

En hier sit ek, Willemiena de Rust, vandag voor in die kerk soos dit ‘n goeie vrou betaam met ‘n stuk Wicky Wacks kougom in my mond om my kake besig te hou. Een van my talle maniere wat ek inspan om moeilikheid te fnuik. In ‘n kerk kan mens sekerlik nie moeilikheid maak nie?

Ek luister aandagtig terwyl ou Doom Labuschagne die tien gebooie voorlees en maak hier in my gedagtes ‘n regmerkie langs elke een soos hy hulle aflees. Toe hy die laaste een lees, slaak ek sommer ‘n sug van verligting toe ek besef ek is weer deur ‘n week sonder om iewers te oortree.

“Broers en susters,” dreunsang ou Doom se stem deur die Kerk. “Vandag is dit ons voorreg om dominee Barto Smits aan julle voor te stel. Die jongetjie kom van Sodom en Gomorra, maar het bo die stadsverleidinge uitgestyg en homself bekwaam as ‘n leraar om ander verlore skape weer terug te lei na die Herder.”

Hier en daar hoor ek ‘n broeder kug-kug want almal in die gemeente weet dat as ou Doom eers vlerke onder sy woorde kry, sal sy bekendstelling weliswaar langer as die preek wees. Ek onthou skielik die skaapboud in die oond, gebakte aartappels en die Malva Poeding wat Oumie al gister met haar vlytige hande begin aanmekaarslaan het en voel hoe my binneste begin kriewel.

Ek loer so onderlangs na Oumie wat langs my sit. Kordaat regop met die ligpershaartjies wat netjies onder haar hoed uitkrul. Sy was al vroeg gister haarkapper toe vir haar ‘set and tease’ en het die hele middag voor die kospotte spandeer, terwyl sy die heeltyd gepruttel het oor wat sy vandag gaan aantrek. Ek het haar ook so deur die loop van die middag gevang ‘tjie-tjie’ oor die foon, maar toe sy my sien het sy sommer hard begin praat oor die kermis wat eers oor drie maande voorlê.

Ek kan sien sy weet ek kyk vir haar want sy hou haar gesig strak voor haar. Gewoonlik glimlag sy vir my as ek vir haar kyk in die kerk, maar vandag hou sy haar vreemd. Ek kan voel dat iets nie pluis is nie.

Die geskuifel van die gemeente lei my gedagtes weer terug na die verrigtinge. “Broeder Smits,” hoor ek ou Doom se stem weer. “Dis vir my ‘n aangename voorreg om jou nou aan die gemeente voor te stel.”

Met die woorde staan Dominee Smits regop langs ou Doom en soos hy sy oë so oor die gemeente laat gly, blaas ek onwetend ‘n borrel met my kougom. Ek is so vasgevang in die oomblik en sy aantreklike gesig dat ek nie besef dat my kougom se borrel breekpunt bereik nie. Die volgende oomblik bars daai borrel met ‘n knal wat weergalm in die doodstil kerk.

Met die skrik, knyp Oumie my bobeen soos sy altyd gemaak het toe ek ‘n kind was. Die skok is so groot en die pyn so skielik dat ek verontwaardig uitroep, “Eina Oumie!”

Ja, mens kon ‘n speld hoor val. Die stilte voor die storm van proesgeluide soos die gemeente hulle lag sluk totdat ‘n dogtertjie agter in die kerk kliphard sê, “Sy was stout, nê Mammie.”

Toe is daar geen keer nie. Die hele gemeente begin lag en ek voel hoe die rooi oor my hals begin kruip, opklouter teen my nek en vasslaan teen my slape.

Ek kyk skuldig op na ou Doom wat my baie streng aankyk en dan vang my oog vir Dominee Smits. En terwyl ek probeer om die kougom slierte van my lippe af te trek, sien ek hoe hy skelmpies vir my knipoog terwyl ‘n glimlag aan sy mondhoeke pluk.

“Orde asseblief broers en susters,” probeer ou Doom die gemeente tot bedaring bring. “Suster Willemiena de Rust het nie bedoel om disrespekvol te wees nie. Kom ons gee vir broeder Smits die geleentheid om sy boodskap te bring.”

“Het ek jou nie al honderd maal gevra om nie kougom in die kerk te kou nie?” Stoom Oumie se eerste woorde oor my toe ons die huis instap.

“Ja Oumie maar …”

“Geen gemaars nie Willemiena! Daar waar jy gaan, slaan moeilikheid soos puisies op ‘n tiener se gesig uit. Dit is tyd dat jy man kry sodat ek rus en vrede vir my siel kan kry,” praat sy voort terwyl sy kamma stoffies van haar hoed afvee.

Ek probeer nog verduidelik maar sy maak haar uit die voete na haar kamer toe.

“Gaan trek jou kerkklere uit en trek daai mooi geel sonrokkie van jou aan. En ek wil nie ‘n denim sien nie. Onthou ons kry gaste vir middagete,” laat weet sy van haar binnekamer.

Ek weet dat ek nie in hierdie gesprek gaan hond haaraf maak nie en vind my weg na my kamer. My denim met ou t-hemp lê uitlokkend oor die stoel in die hoek gedrapeer, maar ek weet as ek dit aantrek sal Oumie my nooit vergewe nie. Eintlik sal ek veel eerder my nuutste skildery, wat nog onvoltooid op sy esel onder in my spesiale hoekie in die tuin staan, wou klaarmaak as om gaste te onthaal.

Ek wonder ook so in my stilligheid wie die kuiergaste is. Gewoonlik is Oumie so opgewonde as iemand kom kuier dat sy vir dae lank nie genoeg daaroor kan praat nie. Maar van hierdie skielike kuiergaste weet ek niks.

Met ‘n sug glip ek tog maar die geel sonrokkie oor my kop, tik ‘n smeersel lipstiffie aan my lippe en sluit by Oumie in die kombuis aan.

“Ag, jy lyk darem alte fraai in daardie rokkie kind. Soos ‘n sonstraal. Jy sal ‘n goeie vrou vir enige man maak.”

“Wat bedoel Oumie? Oumie weet ek soek nie man nie. Ek stel nie belang nie. Onthou Oumie nie hoe Pa vir Ma gelos het jare terug nie? Het Oumie vergeet hoe ons gesukkel het en toe eendag toe het sy net genoeg gehad? Nee! Ek wil niks ….”

“Middag susters,” onderbreek ou Doom se stem my anti-man tirade. “Kan ons maar binnekom?”

Oumie glimlag liefies en voel-voel of haar kapsel nog reg is. Ek het nog altyd gedink sy het ‘n gevoelentheid vir ou Doom gehad van sy vrou, tante Dorah, die tydelike met die ewige verwissel het. Maar Oumie het dit altyd as kindernonsens afgemaak wanneer ek haar daaroor geterg het.

“Middag Dominee. Baie welkom hier. Kom binne, kom binne. Julle kan maar sommer …”

Oumie se stem raak heeltemal weg toe ek vir Barto Smits agter ou Doom raaksien. Ek voel hoe my hart vinniger begin klop en ek voel ook hoe daai gehate bloossessie nou sterk begin aanspraak maak op my oorwegende blank gelaat. Ek weet ek lyk soos ‘n rooi tamatie en ek vervloek dadelik my gene wat my opgesaal het met hierdie alewige gebloserey net wanneer ek dit die minste nodig het.

“Vir wat staan jy daar en hap na lug soos ‘n vis op droeë grond Willemiena?” ruk Oumie se streng stem my weer terug na die werklikheid.

“Uhm, jammer Oumie. Ja, ‘n vis op droeë grond …” brabbel ek terwyl ek een borrel na die ander blaas en breek met meegaande klapgeluide.

Tot my onsteltenis sien ek hoe ‘n glimlag oor Barto se gesig versprei en hoe hy vooroor buig en begin lag dat die kranse antwoord gee.

Ek vererg my en draai om om die tafel te gaan dek maar my oog vang hoe ou Doom vir Oumie knipoog en hoe Oumie haar kop so liggies knik asof sy die boodskap wat ou Doom so woordeloos stuur, be-aam.

Dit is toe wat ek besef wat hierdie twee mense se plan is en ek weet sonder twyfel dat die middagete in ‘n lang uitgerekte “hemel vir Willemiena op” storie gaan ontaard. Sien jy dit ook in jou geestesoog? Oumie wat my goeie punte besing en opblaas tot bomenslikheid en ou Doom wat alles bevestig. Dan sal ou Doom so na elke ses of sewe sinne vir Barto vra of hy nie dink dat dit die eienskappe van ‘n deugsame vrou is nie? En dan sal Barto – teen hierdie tyd sal ons al op “noem my op die naam” basis wees – alles be-aam terwyl hy met sy servet sy mondhoeke afvee.

So was dit ook. Oumie het my lof so besing dat ek amper verlief geraak het op myself. Ou Doom het alles be-aam en aangeblaas dat ek amper begin vergeet het dat hy op ‘n stadium my nie wou voorstel en aanneem in die gemeente nie. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Na die hoofmaal is dit mos afdektyd en Barto bied toe ewe galant aan dat Oumie sit en dat hy my sal help om af te dek.

In die kombuis glimlag hy so skeefweg vir my. “Lyk my jy is ‘n voorslag vrou. Smaak my die manne in die kontrei kan hulle vrot skoene agterna gooi. Laat my tog wonder hoekom een van die hubare mans jou nog nie die strop om die nek gegooi het nie.”

“Ag moet jou tog nie laf hou nie. Elke Jan Raap en sy maat kan sien wat die twee ou mense beplan. Hulle wil my afsmeer aan jou. ‘n Dominee kan mos nie die amp ingaan sonder ‘n voorslag koeksister koker suster aan sy sy nie.”

Hy bars uit van die lag. “In die eerste plek Willemiena, word koeksisters nie gekook nie en in die tweede plek, sal ek my eie vrou soek. So tussen jou en my, ek het klaar my oog op ‘n meisie.”

Ek voel hoe my hart tot in my skoene sak. “Nou hoekom help jy hulle nie reg nie?” vra ek verontwaardig.

“Ag, ek gun tog elke diertjie sy plesiertjie.” Met die vat hy die bak poeding en stap eetkamer se kant toe. “Bring jy maar die vla.”

Na die nagereg se laaste krummeltjie uit die bak geskep en ingesluk is probeer ek myself van die tafel verskoon.

“Ai tante, maar die kos was nou werklik voorslag gewees! Tante is ‘n uithaler kok,” komplimenteer Barto vir Oumie. “Kan Willemiena ook so lekker kook soos tante?”

Oumie skuifel ongemaklik in haar stoel rond. ‘n Leuen kom mos nie maklik oor haar lippe nie. “Domineetjie,” begin sy onseker. “Die kind trek darem so nou en dan die Kook en Geniet nader en dan verbaas sy my met haar interessante geregte.”

Ek kry sommer lekker tot in my kleintoontjie toe ek die gewraakte familie vloek van bloos so op haar wange sien posvat. Laat dit nou vir haar ‘n les wees om te kom probeer Kupido speel.

“Dankie Oumie. Ek het lekker geëet. Ek gaan bietjie buitentoe en sal later kom afdek en was,” benut ek dadelik my kans. Ek weet dat ek hierdie keer my lui kan wegsteek en daarmee sal wegkom aangesien sy ‘n witleuentjie oor haar lippe laat glip het. “Dominee moet ‘n lekker middag verder hê en Barto, jy moet versigtig terugry na Sodom en Gomorra.”

Ek sien hoe Oumie se mond pruil en ou Doom se verbasing op sy gesig maar ek maak of ek niks raaksien nie en verlaat die eetkamer met ‘n vreemde gevoel van hartseer.

En hier sit ek nou, vrou alleen voor ‘n halfklaar doek en wonder hoekom ek hartseer voel. Ek staar na die skildery asof al die antwoorde daarin opgesluit lê. Ek begin lusteloos die verf meng en trek argeloos ‘n paar strepe. Ek het skielik my lus vir die skildery verloor en begin wens dat die kuiergaste hulle ry kan kry sodat ek in vrede my lewe verder kan leef.

“Verbeel ek my of pas daardie laaste streep wat jy gemaak het nie regtig daar nie?” klink Barto se stem skielik agter my op.

“Goeie uhm…uhm genugtig! Hoe laat jy my nou skrik. Wat weet jy in elk geval van skilderye af?” vra ek onhuts.

“Seker so min as wat jy van die binnekant van die Kook en Geniet weet.”

Ek begin giggel. “Het jy haar gesig gesien? Dit was …”

“Komieklik,” maak hy my sin vir my klaar.

Ons altwee begin skaterlag.

Skielik raak ons altwee stil. Barto plaas sy hand op my wang en kyk diep in my oë.

“Willemiena, van die eerste keer wat ek jou gesien het, vanoggend in die kerk, het iets hier binne met my gebeur. Jou glimlag ken geen gelyke en jou lewenslus is soos ‘n borrelende fontein.”

Ek voel hoe ek van skone senuwees ‘n borrel gaan begin blaas maar keer myself betyds. “Nou wat van die een waarop jy jou oog het?”

“Kan jy nie raai nie Willemiena? Jy is die een op wie ek my oog het.”

Ek voel hoe my hart vinniger begin klop en staan ‘n bietjie nader. Ek wil nie een woord mis wat uit sy mooi mond kom nie. “Maar dominees se vrouens moet kan kook en bak en …”

“Daarom sal ons ‘n ‘Kook en Geniet’ koop en saam leer kook en Willemiena …”

“Ja?”

“Die koeksisters kan ons altyd by die tuisnywerheid koop.”

Verbeel ek my of sien ek ou Doom en Oumie styf teen mekaar staan terwyl hulle ons vanuit die sitkamervenster afloer?

Advertisements

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s