Onder die vaandel van “Ek is net eerlik” of “Ek is net reguit” …


Ek haat daardie woorde en vermy dit, om vir enige iemand te sê, soos die pes.

Mense het hierdie wanpersepsie dat, wanneer hulle iets vir jou sê wat seermaak en jou ontstel, hulle die impak kan verminder deur te sê, “Ek is net eerlik.”

Hiermee sê ek gladnie dat alles wat iemand sê ge’sugar coat’ moet wees nie.  Maar moet om Vadersnaam nie daardie woorde gebruik omdat jy bloot ongeskik is, of besig is om ‘n redenasie te verloor nie.

Daar is ‘n groot verskil.

“Jy is gans en al te dik vir daardie rok.  Ek is net eerlik.”

teenoor

“As ek eerlik moet wees, moet ek sê dat daardie rok nie by jou figuur pas nie.”

Ek, wat kort en goed aangepleister is, sal die tweede een verstaan en so aanvaar sonder dat my gevoelens seergemaak word.  Maar as jy daardie eerste sin gebruik, dan maak jy onnodiglik seer.

Die woorde “Ek is net eerlik” of  “Ek is net reguit” het al talle verhoudings (vriendskappe en familiebande) skipbreuk laat lei.

Laat ons altyd onthou dat die woorde “Ek is net eerlik/reguit” jou nie die reg gee om iemand se hart uit te ruk en dit fyn en vlenters te trap nie.  Dit gee jou nie die reg om, alles wat jy dink, hardop uit te spreek nie.  Dit gee jou nie die reg om iemand anders se drome te verkleineer en dood te druk nie.

Opregte eerlikheid is dieselfde as opbouende kritiek.  Iets wat die persoon aan die ontvangkant sal laat dink en sy optrede aan te pas of ‘n ander lewenskoers in te slaan sonder om sy persoon aan te tas.  Reguit wees is om iemand met liefde en omsigtigheid reg te help.

My pa gebruik altyd hierdie gesegde: Jy vang meer vlieë met heuning as met asyn, en as mens mooi hieroor dink, is dit waar en ook: ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af.

En die groot waarheid agter die hele ‘takt’ ding is – wanneer jy die dag daardie persoon weer in die oë moet kyk – jy nie jou kop in skaamte sal moet laat sak nie.  Nee, jy sal daardie persoon vierkantig in die oë kan kyk want op die einde van die dag … is ons almal net mense met ons eie verwysingsraamwerke, teerpuntjies en gevoelens.

 

 

Advertisements

14 comments on “Onder die vaandel van “Ek is net eerlik” of “Ek is net reguit” …

  1. Ek word oor die algemeen as ‘n taklose mens beskou. Reguit, eerlik en onbeskof ook – wat saam seker iets van my sê. Die bedoeling is allermins om iemand seer te maak. My eie nerfies is besonders dik (was ‘n renoster in ‘n vorige lewe) en dink ander mense is ook so.

    Dit is so erg dat wanneer iemand vir my kwaad is, aanvaar almal wat ek ken dat ek skuldig is en dit deur en deur verdien. Sonder om die hele storie te hoor.

    Ek dwaal af. Van my ervaring vind ek dat ek dikwels X sê en die mense verstaan Y. Dan is daar geen manier wat jy kan verduidelik wat jy eintlik bedoel het nie.

    Ek dink daar is ‘n ander kant van die argument ook. Mense is so katvoet om nie ‘n ander aanstoot te gee nie, dat die werklike kwessies nooit aangepak of uit die weg geruim word nie. Dit skep ‘n heel ander probleem.

    Ek hou van die gesegde “Sticks and bones, may break my bones, but words will never break me.” Ek wens meer mense wil dit deel van hulle lewe maak.

    Iemand het eendag iets gesê dat mense wat wegkruip agter “dis hoe ek is” of “so gemaak en so laat staan” eintlik net lui. Wat ook seker (eerlik en reguit) waar is. Maar ek dink tog dat dit ‘n kwessie is waaraan daar van twee kante gewerk moet word.

    (En nee – ek maak nooit opmerkings omtrent iemand se voorkoms nie).

    Like

  2. 😀 Die sinne wat ek gebruik het ter illustrasie, is maar net voobeelde en nie werklik nie. Dit lig net toe hoe mens op ‘n taktvolle wyse dieselfde boodskap kan oordra.
    Ek stem dat daar partykeer nie werklik ‘n ‘taktvolle’ manier is om sekere goed te sê nie en dan is dit geregverdig.
    Ek dink altyd (wanneer ek in ‘n redenasie betrokke is) aan my ma se woorde:
    “keep his/her crown on his/her head” en “keep a civil tongue in your mouth”.
    Ek glo ook dat die manier hoe mens ander mense hanteer en behandel sal die maatstaf wees hoe hulle jou sal hanteer en behandel.

    Like

  3. Ek glo my hele lewe dat ek soms baie verkeerde dinge kan sê. Ek stem heeltemal saam met jou. Soms kom woorde wat regtig sag bedoel is, hard op die ander oor, en dis juis DAN wanneer ek so sleg voel.

    Like

    • So waar Toortsie. Maar ek glo dat die ontvange makliker sal vergewe as hy besef dit was in opregtheid bedoen en nie omdat die ander een voel hy is beter, slimmer en meer geregtig op ‘n opinie as die ontvanger nie.

      Like

  4. Daar is so ‘n ware gesegde in Engels; “A truth that’s told with bad intent, is worse than any lie you can invent.” Voor mens so ‘eerlik en reguit’ is, moet mens mooi dink of dit wat jy gaan kwytraak werklik nodig is en of dit enige waarde gaan byvoeg by jou of die ander persoon se lewe. Soos mens ouer word, leer jy (meestal) om wagte voor jou mond te plaas 🙂

    Like

  5. Iewers in my laat-tiener vroeë twintigerjare het my ma die opmerking gemaak dat ek en my pa dink ons kan vir almal presies sê wat ons dink, maar ons dink vir geen oomblik aan die mens aan die anderkant nie. Dit het my wel, aan die dink gesit.

    Tydens ‘n Bybelstudie het ons ‘n boek van Max Lucado gebruik en daarin gebruik hy as voorbeeld die gesegde: Loop ‘n myl in ‘n ander se skoene. En as hy uitbrei wys hy dat ons nié in ‘n ander se skoene kan klim nie, want dis steeds ek. Ek, met my geskiedenis, my emosie, my drome. Ek het nodig om binne in die ander persoon se vel te klim, om presies te verstaan hoe hy dink en wie hy is.

    Dan eers kan ek iemand werklik “aanspreek” – maar ek kan steeds nie.

    Ek kry maklik seer en is daarom bang om seer te maak. En ja, dan doen mens wat Xena sê: Jy verswyg wat dikwels eintlik gesê moes gewees het.

    Waar is die goue middeweg?

    Like

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s