Om ‘n nuwe (nuut vir my) kar te koop


Is nogals ‘n ondervinding en ‘n half!  Die opmerkings en raad partykeer snaaks en dalk seker iets waaroor jy moet dink.

Soos jul weet het ek so ‘n ruk terug my hart se punt afgeskryf en sit nou in die situasie waar ons ‘n plaasvervanger moet kry.  As jy gedink het ‘kontantkoop’ hou enige voordele in, dink weer, dit maak nie ‘n bloue duit se verskil nie – en as hulle die woorde ‘kontant and no trade-in’ hoor, dan tree hulle terug asof jy die Melaatse uit die kinderbybel is en jy word van kop tot toon betrag om vas te stel of jy vergeet het om jou hare te borsel of dat jou hare ‘stylishly deurmekaar’ is en of jy so aantrek omdat jy nie iets anders het nie of dat jy dalk besig is om ‘n ‘ek is enig in my soort’ fashion statement te maak.  Dan loer hulle so agter jou om te sien in watter kar jy huidiglik ry … en jy kan letterlik op die gesigte sien hoe hulle daai ‘checklist’ deurgaan en dan die finale besluit neem … betaal sal jy betaal, veral omdat jy nou ‘n kar wil hê met ‘n kattebak, CD speler, Lugreëlaar en kragstuur.

En moenie die kyke vergeet as jy sê jy soek nie ‘n ‘hunch back of Klerksdorpdam’ kar nie.  Jy word aangekyk asof jy so pas ingery het van genoemde dam buite die dorp met een of ander ‘tree to tree’ kar met vlerke op die boot, geklee in visplakkies en ‘n spaghetti-strap hempie.

Ek hou van ‘n mooi kar.  Vir my man mooi vertel van ‘n ‘tydlose’ ontwerp en dit so ingedril dat die eerste woorde wat hy nou sê is, ons soek ‘n kar met ‘n tydlose ontwerp, dan kyk hy vir my en smile daai smile wat my knieë oombliklik verlam, maar ons praat nou oor karkoop so ek gaan nie van die onderwerp afdwaal nie.

So beloer ek ‘n BMW 318i en sal die mannetjie vir my vertel dat ‘die kar te vinnig vir tannie is’, duidelik weet hy nie van die paar astronomiese spoedboetes wat ek al op die hals gehaal het nie en tot sy nadeel het hy ook vergeet, ek is nie sy tannie nie.  Wederhelfte het dit natuurlik baie amusant gevind en lekker gelag tot die volgende verkoopsman vir hom vertel dat die spesifieke kar nie daarvan hou om geRY te word nie maar hy is seker dit sal nie ‘n probleem wees nie ‘want dit lyk nie asof oom iemand is wat van spoed hou nie’.  That settled that!  Die verkoopsman sal ons seker ook nie weer sien nie want Lifiki het juis die Volvo gekoop oor sy Turbo en hoekom koop jy ‘n kar met ‘n Turbo?

Na ‘n uitputtende soektog, land ons toe by ‘n plekkie wat mooie karre op die vloer het.  Ons het hulle almal bekyk, maar ongelukkig is hulle bietjie bo ons vuurmaakplek.  Ek love natuurlik steeds ‘n Volvo en het verlangend gestaan en kyk na een.  Die verkoopsman het al sy goeie eienskappe besing soos ‘n kanarie op sy eerste vryheidsvlug.  Ek het ge-oe en ge-aa soos dit ‘n koper betaam.  Ek vra hom toe wat dink hy van die Peugeot 407.  Hy het so rukkie gestaan en dink en toe het die lig opgegaan ‘baie oulike karre, maar om eerlik te wees, die herverkoop waarde is maar sleg’.

Ja meneer, jy het vergeet ons het ‘n Volvo gehad.  Gekoop in 2003 vir ‘n mooi bedraggie en kon, toe ons hom wou verkoop, nie ‘n ‘plausible’ aanbod kry nie.  Ek kan nie verstaan hoekom nie want dis een van DIE veiligste karre op die pad, ‘n kanniedood wat uitasem sy laaste myl sal ry om jou by jou bestemming te kry al is daar fout met die clutch, al rook die exhaust en al het die turbo ingegee.  Daai kar sal jou nie sommer laat staan langs die pad nie.  Maar dis maar net my sentiment omdat daai kar ‘n nuwe era in my lewe aangekondig het.  Maar dis ‘n lang storie.  Ek het daardie kar sentimenteel baie lief.

Maar terug na die ywerige Volvo verkoopsman.  Die gaan toe aan oor die Peugeot se herverkoopwaarde wat so sleg is en toe ek nou vir hom noem dat dit nou nie juis baie anders is as die Volvo se situasie nie, het hy ‘n paar keer soos ‘n vis op droeë grond na lug gehap en gesê ons moet dan ons nommers laat en hy sal by hulle ander takke hoor vir ander karre.  Ek vermoed hy sal ons nie kontak nie.  Net vir ‘final measure’ het ek seker gemaak my ‘stylishly deurmekaar’ kapsel is not ‘stylish’ in die Volvo se kantspieëltjie en toe maar aangegaan na die volgende plek.

Die ergste is natuurlik as jy by ‘n plek kom en daar is nie pryse op die karre nie!  WTF????  Dan kom daar ‘n verkoopsmannetjie aan wat jou en jou wederhelfte al klaar opgesom het terwyl julle nog, neus teen die venster, na ‘n kar gekyk het.  Die gewone vragies en dan lei hy mens eerste na ‘n kar, wat jy op ‘n afstand kan sien dit is meer as wat jy vir hom gesê het jy wil spandeer.  Hulle kry seker maar lekker as jy sê “dis bo ons vuurmaakplek” maar ek moet toegee, die manier wat hulle daai glimlag op die gesig hou terwyl hulle jou van duur na goedkoper na nog goedkoper na goedkoopste lei, is ‘something to behold!’  GIVE THAT MAN A BELLS!!!

Moet dan ook nie vergeet van die ‘aanlyn’ plekke nie.  Ek stuur toe ‘n boodskappie ‘Contact us about ‘so-and-so’ car.’  Die antwoord … ‘this car has bla-bla-bla, pictures attached’ en dan die punchline, ‘when do you want to take delivery?’.  Dit nog voor ek ‘n enkelte woord met die mannetjie gepraat het!  Duidelik het hy nie ‘n tekort aan selfvertroue nie.  Kudos vir hom.

Of een wat ek ook nogals amusant gevind het was die ou wat vir ons vertel die kar – waaroor hy ons gebel het wat, volgens hom, in ‘n uitstekende toestand is – is nou nie vandag op die vloer nie want hulle is besig om aan die clutch te werk.  Ja swaer …

Om ‘n kar te koop is ‘n avontuur so gevul met herverkoopwaarde slaggate, parte potholes, ongeluk geskiedenis landmyne, petrolverbruik vurke in die pad, salestalk grondpaaie, diensgeskiedenis spietkops wat nie omgee vir ‘n geldjie in die sak nie, dat mens op die einde van die dag by die huis kom, jou kamoefleerdrag afstroop, jou boots in die hoek gooi, jou backpack afruk, die strepe van jou gesig afwas en jou wonde versorg.  Wanneer die stemme in jou kop bedaar en die grynslagte oor die gedagte horison verdwyn, dan begin jy wonder of jy nie maar daai ou geel Datsun vir R7 000 moet koop nie.  Wat meer kan met daai kar verkeerd gaan?  Niemand sal hom weer wil koop nie – dus is herverkoopwaarde is nie ‘n probleem nie.  Petrolverbruik sal nie ‘n probleem wees nie, want mens sal nou nie so baie wil ry nie.  Diensrekord – hy is so lank op die pad, dat hy nie daar sou wees sonder ‘n backyard mechanic wat nie sy olie getap, sy plugs geprop, sy speedo verstel, sy bakwerk gepanelbeat en hom warm gemaak het vir optimale purrrrformance nie.  Tydlose ontwerp maak nie saak nie, want ek sien daar is weer ‘n terugdraai na die ‘classic box look.’  Veiligheid – wel na die laaste advertensie van die kar wat van Aluminium gemaak is, rest ek my suitcase.  Die aircon sal ek sort met ‘n waaiertjie op die dash en die musiek uit my battery aangedrewe boombox, sal my kopknik hondjie in die agterruit baie gelukkig hou.

 

18 comments on “Om ‘n nuwe (nuut vir my) kar te koop

  1. Die ergste is wanneer dit jy, die vrou, is wat die kar koop – met jou geld en op jou naam en alles – en die verkoopsman ignoreer jou soos ‘n stopstraat en praat net met jou man. Dan word ek sommer moedswillig en loop daar uit.

    Like

  2. Nou ja, ek deel in jou sentimente. Ek was onlangs in ‘n ernstige motorongeluk en het my redelik nuwe SUV afgeskryf. En nou begin die soektog van vooraf (ek het juis maande na die vorige voertuig gesoek). Dalk moet ek byvoeg dat ek nou nie juis die motorindustrie se grootste ondersteuner is nie want ek ry gewoonlik die voertuie totdat hulle nie meer kan nie.

    My studente Volla het ek juis vir 15 jaar gery en my en Vroulief se eerste gesamentlike Jetta was 16 jaar lank in ons besit.

    Iedergeval, wat my verbaas is hoe min moeite die motorverkoopsmense eintlik doen. Veral by die gewilder modelle voel hulle seker dat hul besigheid gewaarborg is omdat die voertuie so goed verkoop.

    Herninner my tog om in my volgende lewe dalk te oorweeg om motors te verkoop!

    Like

    • Hi daar. Welkom by my blog 🙂 Jong, ons moet môre weer gaan rondry en ek sidder om te dink oor alles. Maar ja, mens kan nie sonder ‘n kar nie, so mens moet maar deurdruk. Ek is ook nogals iemand wat ‘n kar – waarvan ek hou – sal ry tot hy sy laaste asem uitblaas. Ek kan nie hierdie vreeslike nuwe kar elke tweede jaar obsessie verstaan nie. Dis soos brilkry by ‘n mediese fonds. Jy’t hom nie eintlik nodig nie, maar jy doen dit maar omdat dit die jaar twee is. Lekker naweek verder.

      Like

  3. Ek moet ook hierdie jaar ‘n nuwe kar koop – het laasjaar begin kyk, maar dit was nie goed vir my gesondheid om my moer so baie te strip nie, veral nie as die verkoopsmans my vertel van die KLEUR van die kar as ek vra oor die petrol verbruik en so aan nie.

    Like

  4. Lag ek oor Datsun …rattle sommer as hy spik-splinternuut is , wil nie dink hoe parkinsons die ou karretjie nou al aangetas het nie. Geliefde het ons s’n met so klap op paneel bygekom as die kar so begin skierie skierie skierie !! Vrek verlang ek na daai dae….
    Sterkte karkoop bly ‘n nagmerrie.

    Like

  5. Been there, got the T-shirt – laas jaar Augustus. Moes noodwendig afskaal en wil toe ook kontant kar koop. Wat ‘n mission! Die storie het ‘n goeie einde, maar ek het nie die fabrikaat gekry wat ek eintlik wou hê nie. Ek koop mos vrou-alleen kar en dan verlekker ek my so as die verkoopsmanne my wil begin belieg en bedonder. Ek het nie verniet mechanics-galore in my familie nie en het boonop 8 jaar motornavorsing gedoen. So sien ek hierdie pragtige Toyota Tazz by ‘n handelaar, Start die kar en als klink en lyk reg. Maak die enjin oop en die verkoopsman hou sy “pose”. Toe draai ek die radiator se prop af en druk my vinger in die water – kom my vinger vol water gemeng met olie uit! Ek sê: “Maar die kar het dan top gasket geblaas!?” Hy antw: “Nee, ek weet dan nie wanneer het DIT gebeur nie, die kar het vanoggend nog NIKS makeer nie!” Sal liewer nie my gedagtes hier herhaal nie! Sterkte met jou missie!

    Like

  6. Terug pieng: Blog-ontploffing « Kouevuur

  7. weet dit bietjie laat, maar het vandag so per ongeluk op jou berig “gestumble” en ongelukkig moet ek se ek is n verkoopsman, maar dit baie goed om te hoor hoe jy dit bevind het, en wil maar van ons almal af se jammer dat dit so slep is om kar te koop, maar nie almal so sleg nie, van ons probeer die kliente help. hoop jy het reg gekom met jou droom kar.

    Like

Los jou mening ...