Sondag en al sy dinge …


Ek het ‘n heerlike rustige naweek gehad.  Gister het ek en Lifiki gaan DVD’s uitneem.  Moet sê van die drie wat ons uitgeneem het was net een werklik oulik.  Ek dink mense wat films maak moet ander tipe stories uitdink?  Of dalk moet ek my keuses eerder in heroorweging bring?

Maar vandag het ek ‘n dubbeldosis van lekkerte beleef met Platteland wat ek vir die tweede keer gekyk het en natuurlik “Phantom of the Opera”.  Is en sal altyd my gunsteling bly.  Doen jouself die guns en gaan neem hom uit.  ‘n Spesiale ‘treat’ is Sarah Brightman wat aan die einde sing en ook van die vorige ‘Phantoms’ maak hulle buigings.  My tone krul nou nog!

Een ding wat my egter vandag dwars in die krop gesteek het was die Sondag Rapport.  Vir ‘n hele R13 van my Wit Afrikaanse geld word my taal, my kultuur, my erfenis en sommer alles wat Wit is verneder en in die grond ingetrap.  Dit is beslis die 2de laaste keer (volgende week is daar ‘n DVD van ‘n Ge Korsten fliek in) wat ek die Rapport gaan koop.  Al wat ek verder van hulle sal ondersteun is die Onderwysfonds.  Daarmee doen hulle ten minste goed.

Ek sit nou hier met Frank Duval in my ore.  Wie van julle onthou hom nog?  Ek verbeel my sy musiek was op ‘n stadium verban.  Maar ek het ‘n tape van hom gehad wat ek oor en oor gespeel het.  Watter wonderlike herhinneringe roep dit nie op nie!

Hierdie een van hom bly my absolute gunsteling.

Partykeer voel ek ek wil ook net wegvlieg van alles.  Mense se woorde, dinge wat my pla en partykeer as ek verby my ma se foto loop, dan wil ek vlerke hê sodat ek net vir ‘n oomblik weer haar arms om my kan voel.

Ek sit en verlang vanaand.  Nie na iemand wie ek  nie ken nie, maar wel iemand wie ek ken en so baie mis.  Ek droom in die nagte van hom, ek sien sy glimlag, die glinster in sy oë, sy lang vingers wat oor die kitaar se snare streel en hier binne my pyn my moederhart van verlange.

Ek kyk terug oor my lewe en al wat ek kan sê is, ek wens ek het baie dinge anders gedoen.  Wens ek het ander besluite geneem, maar dan dink ek weer …  Ek het die beste gedoen wat ek onder baie moeilike omstandighede kon doen maar as die nag se donker sak, dan troos die verskonings nie.  Dan lê die aanklagtes jou siel bloot en die seer kasty jou gedagtes en daar is geen ontsnappingsroete nie.  Maar gelukkig, as mens weer opstaan, dan skyn die son weer.  Dan hou die dag se dinge jou gedagtes besig en jy kan bietjie rus …. tot vannag.

Maar ek wil nie almal nou ‘down in the dumps’ kry nie want op die einde van die dag, voel ek nie elke dag so nie.  Party gaan dit heel goed dis net wanneer daar goedjies gebeur wat ek onthou en verlang.  Dankie Here vir daardie genade.

Hoop julle het almal ‘n heerlike week en mag Die Here vir julle glimlag en mag sy hand van seëning wyd oor jou uitgestrek lê!

Advertisements

3 comments on “Sondag en al sy dinge …

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s