Kwasstrepe van die Noodlot :-)


Hierdie speletjie is soos ‘touchers’ wat ons altyd as kinders gespeel het.  Kouevuur het my ge’touch’ en nou is ek aan om te vertel van die letsels wat die lewe op my gelaat het.

Letsel nr 1.  Net bokant my bolip is ‘n snymerkie wat ek in die hoërskool opgedoen het as gevolg van ‘n speletjie me ‘n baie langer seun as ek.  Ek onthou hom nog goed.  Hy was ‘n regte hemelsbesem en ek dink ek het nogals ‘n cruch op hom gehad, maar hy was horende doof en sienende blind.  Natuurlik het die bakvissie tiener in my aandag gesoek en ons het slaags geraak met ‘n stuk perspex.  Hy het dit in sy hande gehou en ek wou dit van hom afneem.  Dit het basies so verloop.

Hy: Dis myne (pluk die stuk perspex boontoe in ‘n poging om dit uit my hande te kry)

Ek: Dis myne (pluk dit af om dit in die hande te kry)

Hy: Nee, dis myne (pluk dit boontoe om dit in die hande te kry)

Ek: Gee terug. (pluk dit weer af)

Hy: O f(&(&^&*(k! (Perspex gly uit sy hande en land bo-op my lip en sny hom oop)

Ag shame, ek dink hy’t baie sleg gevoel.

Letsel nr 2.  Ek het so ‘n gawe Liewe Heksie moesie op die punt van my neus gehad.  Die ding het my geweldig geirriteer en ek besluit toe om van die ding ontslae te raak.  Sommer by die huisarts.  Ek het gedink hy sal die ordentlikheid hê om dit so te verwyder dat dit nie ‘n letsel laat nie, maar helaas, die letsel sit.

Letsel nr 3. Histerektomie letsel.  Ek dink dit was so drie jaar terug.  Hier is ‘n post wat ek op Litnet gemaak het daaroor.

Al gewonder hoekom dit ‘n historektomie genoem word?  Ek het beslis die antwoord.  Dis omdat ek histeries aan die lag gegaan het toe ek hoor ek moet een kry of is dit verloor?  Nie gelag omdat ek bly was nie, allermins, lag omdat ek nie daar voor die dokter met sy bloue oë wou begin tjank nie.

Wat ‘n voorbereiding!  Eerstens nagklerke.  En nee, nie gemaklike toppies met broeke nie, nee, daai goed wat mens nagkabaai noem.  Lang rokkerige goed wat so onder jou infrommel en wat jy niks aan kan doen nie, omdat jou lyf te seer is om op te lig sodat die goed reggetrek kan word.

Die hare kortgesny.  Was lanklaas in my lewe so kort.   Maar ek verstaan vandag want ek is nie eens lus gewees om die hand op te lig om dit te kam nie.

Voor die operasie vertel ek mooi vir my Lifiki.  Jy moet sorg dat hulle die gordyne ordentlik om my toetrek as ek terugkom.  Ek wil nie hê almal moet van hollangs tot in paraguay kan sien nie.  En as hulle klaar is met my, dan maak jy my mooi toe.  Net die gesig mag uitsteek.  Arme ding het maar ja geantwoord op elke ver(opdrag)soek.

Toe die langverwagte oomblik aanbreek loop hy saam met my na die operasiekamer.  Alles is toe nog heel okay.  Ek is braaf en glimlag liefies vir almal, maar ek weet …. ek ken myself …. daai oomblik gaan aanbreek.

En so is dit toe, die oomblik toe ek hom moet groet en hulle my so om die hoek stoot toe vloei die trane soos die dooie see begin vloei het na die Israeliete daardeur is.  En ek hik soos ek snik.  Dit het omtrent ‘n gepaai van ‘n ander wêreld gekos.  Maar gelukkig het my mooi blou-oog dokter my hand kom vashou, die trane afgevee en mooi gepraat en ek het salig weggeraak.  Na daai gevoel kan ek verstaan hoekom mense gewoond kan raak aan daai gevoel.

Maar die wakkerword slag.  Ek het gedroom daarvan.  Ek’t gedroom my Lifiki hou my handjie vas – net soos op die tv – en ek knipper my ogies so een, twee, drie keer en dan maak hulle stadig oop en kyk vas in die glimlaggende gesig van my lifikie ….. SCREEECH …. CUT …. dit voel asof ‘n swetterjoel mense om my bed staan en almal ruk en pluk aan my.  Ek soek sy gesig maar dit swem alles.  Ek skree “My Engel!!!” en probeer regop kom.  Hulle druk my af.  “Mevrou jy moet kalm raak”  maar ek beur en skree “Help my, hulle verdrink my!!!”  maar hulle hoor nie, hulle druk my vas  “Mevrou raak nou rustig” …. en dis al wat ek onthou tot ek wakker word met Lifiki wat my hand vashou en ek my ogies so drie keer knip en vir hom terugglimlag en hy my hare (stoppels) saggies vryf.

Die eerste ding wat ek wil hê – natuurlik – is ‘n sigaret.  Die nursie sê “dis nie ‘n probleem nie” (verbasend) en sy skakel ‘n portier en ek word bed-en-al buitentoe gestoot en lê daar onder die sterrehemel en rook.  Heerlik.

Daarna lekker geslaap maar ooooo weeeee!  Half flippen vyf word die ligte aangeslaan.  “Mevrou, u kan maar opstaan en gaan was terwyl ons jou bed regkry.”

Fokkit – hulle is seker nie ernstig nie.  Maar ek gaan nie wys ek is eintlik ‘n pissie nie, en beur myself orent en van die bed af.  Loop met al die parafanalia toilet toe en gaan sit daar.  Die pyn is iets wat ek nie hier kan beskryf nie.  Nodeloos om te sê, ek het net die tande geborsel en toe dankbaar weer teruggeklim in die bed.

Daar gelê soos ‘n vrotvel.  Elke keer as hulle vra of ek iets vir pyn wil hê, ja gesê en so myself gedose gehou solank ek kon.

Gelukkig kon ek vinnig huistoe.  Gepantser met ‘n sakvol setpille ( van alle dinge!!!!)  Het jy al probeer om vir jouself ‘n setpil in te sit?  Geen verdere opmerkings daaroor nie.

Maar vandag voel ek weer mens.  Die pyn is nou meer aanvaarbaar.  Kan gemakliker beweeg, maar rus, rus ek.  Ek dank die vader ek het gelukkig net een baarmoeder!  gehad 🙂

Letsel 4:  Nie sigbaar nie.

Lank gelede – toe ek nog nie lisensie gehad het nie – ontvang ek ‘n uitnodiging van ‘n vriendin na haar troue.  Die manne was natuurlik nie lus nie, maar ek was.  En ‘after all’ trou mens mos net een keer in jou lewe!  Ek en ‘n vriendin klim toe in die kar en ry Mooinooi toe.

Langs die pad wil ek vir my ‘n sigaret aansteek met die kar se aansteker.  Na ‘n bietjie gesukkel, kry ek dit reg, maar toe ek weer fokus op die pad, toe is die vragmotor voor ons.  Ek het die stuurwiel gegryp en my arm styf gemaak – want natuurlik het ek nie die veiligheidsgordel aangehad nie – en ek het so probeer om nie deur die voorruit te vlieg nie.  En gevlieg, die het ons wel.  Bo-oor ‘n betonsloot, ‘n groot rots klip wat die onderstel van die kar verwoes het en na ‘n ruk in die mielielande tot stilstand gekom.

My vriendin – wat veiligheidsgordel aangehad het – het hortend na haar asem gesnak.  Ek was vreesbevange!

Later by die hospitaal vra die polisieman vir my vir my ID.  Ek het geweet my akkies is in die pos.  Hy het die ID deurgeblaai, en toe weer, en toe vra hy die gewraakte vraag, “Waar is mevrou se lisensie?”

Ek moes toe maar met die sak patats vorendag kom.

Hy was egter gaaf genoeg om in sy verslag te skryf dat my man die bestuurder was.

Ek was baie lank in die dog box oor daai een.

O ja, met die dat ek die stuurwiel so vasgehou het met ‘n styfgemaakte arm, het ek met die grond land slag, my gewrig netjies afgebreek.  My arm was in gips van die skouer tot die vingerpunte.

Letsel 5 – Om die naeltjie van ‘n ‘Government issued’ sterilisasie.

Die lewe het ook maar sy letsels gelaat, maar dis nie veel anders as die gewone mens op straat sin nie.  So ek gaan nie daaroor uitbrei nie.

Advertisements

7 comments on “Kwasstrepe van die Noodlot :-)

  1. Oeg, jong. Ek het ‘n love-hate verhouding met setpille. Die goed is wonderlik, maar druk jy jou vinger in 15 pasiente se agterwereld kort voor brekfis…g’n wonder ek het so gewig verloor nie. 😆

    Like

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s