Mymeringe oor nuut en oud, bekend en onbekend en oor … wat nou?


Sondag word ek ‘n hele 44 jaar oud!  Ek sien so uit want dan kan ek koek eet sonder om skuldig te voel!

Gister het ek met ‘n mede blogger gesels.  Van die eerste keer dat ek haar blog gesien het, het ek altyd die begeerte gehad om met haar te gesels en sy het gepraat soos ek gedink het sy sou met een klein afwyking van my vooropgestelde idee … ek het gedink sy sou ‘n dieper stem gehad het.  Sy het lekker gelag toe ek haar vertel dat ek ‘n classy raspy stem verwag het 😀  Ek weet self nie waar daai woorde vandaan gekom het nie.  Maar haar stem was classy sonder die raspy.  Dit was heerlik om met haar te gesels … en sy sal weet wie sy is.

My familie is tans besig om so uit te brei.  Ek het Sondag my nuutgevonde sus se man, kinders en pa ontmoet.  Dit was heerlik.  Sulke dierbare mense wat uit hulle pad gegaan het om my en Lifiki welkom te laat voel.  Ons was getrakteer op heerlike braaivleis, bykosse en lekker tert vir poeding.  Maar die lekkerste was om net daar te sit, langs my sus, en alles in te drink soos ‘n spons.

Ek het uitgevind my ma was mal oor naaldwerk, sy het gehekel, was lief vir haar kinders en was ‘n regte moeder.  So baie soos my aanneemma wat ook al ons klere gemaak het, gebrei het en altyd daar was vir al sewe van ons.

Ek het intussen ook met my oudste suster gesels en op Facebook met my niggie.  Het darem ‘n boodskap van nuutgevonde broer gekry, maar hy en jongste broer is maar nog traag vir die hele ontmoeting ding.  Ek kan dit verstaan aangesien dit vir hulle nogals ‘n skok was om te ontdek dat daar nog ‘n suster is.  Ek het ook my biologiese ma se tweede man ontmoet.  Wat ‘n dierbare mens.  Ek dink my ma en hy was gelukkig.  Hy was nogals emosioneel aangesien hy gedink het ek was doodgebore en toe staan ek lewensgroot en springlewendig voor hom.

Mense vra my hoe ek oor hierdie dinge voel en ek moet eerlik wees.  Partydae is ek so opgewonde oor al hierdie nuwe mense en ander dae is ek weer skrikkerig.  Ek kyk na myself in die spieël en wens ek was maerder.  Ek bevraagteken of ek goed genoeg is.  Ek wonder hoe hulle my sien.  Ek wonder of hulle ‘impressed’ is of is hulle dalk teleurgesteld?

Dan dink ek, wat verwag ek nou van hierdie mense?  Kan ek in hulle lewens instap en verwag dat ek onvoorwaardelik aanvaar moet word?  Verwag ek ‘n familie band wat nou opgebou moet word of sal ek met net vriendskap tevrede kan wees?  Sal ek die verwerping kan verwerk as van hulle my nooit wil ontmoet nie?

Dan is daar ook my dierbare familie waarmee ek grootgeword het.  Hoe hanteer ek dit?  Ja, ek voel diep binne my dat ek hulle op ‘n manier verraai, alhoewel dit nie so is nie.

As ek praat van ek het my jonger suster ontmoet, dan weet ek ek het reeds ‘n jonger suster wat my na aan die hart lê.  As ek praat van my ouer suster waarmee ek nog net oor die foon, via Facebook en epos gesels het, dan weet ek ook ek het reeds ‘n ouer suster wat ek ‘n leeftyd mee gedeel het.

As ek praat van die broers wat my nog nie wil onmoet nie, dan weet ek dat ek vier ouer broers het wat soveel vir my beteken, elkeen op hulle eie spesiale manier.

As ek praat van my ma, dan weet ek ek het my lewe lank ‘n ma gehad wat vir my omgegee het, versorg het en daar was wanneer ek haar nodig gehad het.  Die ma wat met my hare gespeel het as ek op die vloer voor haar gesit het.  Die ma wat my Mickey genoem het.  Die ma wat my hele wêreld was.

As ek praat van ek het ‘n pa wat ek nie ken nie, en nooit sal ken nie, dan weet ek ook ek het ‘n pa wat ‘n dak oor my kop verskaf het, wat daar was toe ek hom die nodigste gehad het en altyd gereed is met raad – al wil ek dit nie altyd hê nie.

Ek voel amper in twee geskeur want daar is iets nuuts en onbekend aan die een kant en aan die ander kant dit wat gegrond en bekend is.  Hoe bring mens die twee bymekaar en hoe werk mens dit uit dat niemand in die proses seerkry nie?  Hoe maak mens die prentjie een sodat almal aan die einde van die dag kan sê, “Ons is geseënd”

Advertisements

8 comments on “Mymeringe oor nuut en oud, bekend en onbekend en oor … wat nou?

  1. Vriendin, ek dink jy gaan nog baie baie BAIE emosies ervaar voor die reis tot ‘n punt kom. Elke keer as ek kom lees, glimlag ek, dis soos ‘n sprokie, net sonder die heks :mrgreen:

    Like

  2. Dis jou reis, wat jy moet reis, vat vas die leisels, suster, wees wakker, en skryf ASSEBLIEF soos jy aangaan. Skryf alles, die rou en die bloed en die mooi. Jy het gekom om die pad te loop, en met ander te deel.

    Like

  3. Hi Nuwe Blogger Vriendin! Altyd lekker om by jou pragtige voordeur in te stap en te kyk wat is nuut op die tafel.
    En ons verjaar albei more (as ek reg verstaan?)! Wonderlik! Ons krefies is fantasties, die beste! Al stem almal nie altyd saam!LoL!!
    Is saam met jou opgewonde oor die pad wat jy loop, maar om ‘n ander rede, wat ek graag later met jou wil deel.
    Jy moet more ‘n sterretjie dag he!!

    Like

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s