Oor Aanneming:


Ek het hierdie pos laasjaar Junie op my Litnet blog gemaak:

Dit is skielik asof die hele wêreld nou behep is met aannemings (ag okay, dis net sewende laan) en toe dink ek, miskien moet ek so ‘n ietsie daaroor skryf.

Ek is aangeneem.  Ek was agt maande oud toe my aanneemouers my aangeneem het en die spesiaalste daarvan is dat ek my biologiese ma se naam, Maryke en my aanneem ma se naam, Anne het.

In my rebelse tiener stadium toe ek gedink het dat alles en almal teen my was omdat ek aangeneem was, het ek besluit dat ek my Ma wou opspoor.  Ek het gedink sy sou my met ope arms ontvang, ek sou gelukkig gewees het en blah, blah, bladiblah!

Ek het haar nooit opgespoor nie!

‘n Paar redes hoekom dit ‘n goeie ding is:

  1. Ek het wonderlike ouers gehad (hulle het hulle foute gehad, maar elke een van hulle kinders is goed aangepas en suksesvol)
  2. Ek het wonderlike broers en susters
  3. Ek is gelukkig
  4. Ek weet nie wat ek gaan kry as ek haar opspoor nie – wees gelukkig en tevrede met wat jy ken as ongelukkig en ontevrede met die wat jy nie ken nie
  5. Ek wil nie my lewe ontwrig en emosionele bagasie tot my lewe voeg nie

Een rede hoekom dit nie ‘n goeie ding is nie:

  1. Ek het geen mediese geskiedenis nie – daar skuil dalk kranksinnigheid iewers en ek sal nie weet of dit my gaan tref nie … of dalk het dit al 😀 (Net ‘n grappie)

Aanneming word vreeslik geromantiseer en gedramatiseer terwyl dit in werklikheid nie so ‘n aardskuddende gebeurtenis is nie.

Ja, die ma wat die kindjie opgee vir aanneming is hartseer.  Sy voel sy het ‘n groot deel van haarself verloor.   Sy worstel met die idee dat sy iets kosbaars ‘weggooi’.

Maar … die lewe gaan aan.

Hoekom sê ek so?

Want ek het ook ‘n dogtertjie opgegee vir aanneming jare terug.

Ek het deur al die emosies gegaan, selfverwyt, hartseer, depressie, rinkink om te vergeet, gehuil dat die trane drup op haar foto’tjies en gewens dinge kon anders wees.

Die hartseer fase het ‘n rukkie geduur.  Veral as mens mammas met babatjies sien, dan ruk jou hart en jy voel stukkend.

Maar, een oggend staan jy op en daardie gevoelens is weg en jou lewe gaan aan.  Jy werk, trou, kry kinders, skei, trou weer en voor jy jou oë uitvee, is 20 jaar verby.  Die gedagtes aan die kindjie ‘n vae skim.

Ja, ek dink aan haar op verjaarsdae, Moedersdag, Kersfees en wanneer daar iets op die TV is oor aannemings maar dis nie ‘n konstante gemis en verlange na haar nie.  (Al probeer die media die teendeel bewys)

Nou kan die leser teruggaan na die redes hoekom dit ‘n goeie ding is dat ek nie my biologiese ma opgespoor het nie, want presies dieselfde is dan op my dogter van toepassing.

  1. Sy het ‘n wonderlike familie wat vir haar omgee
  2. Sy is gelukkig
  3. Ek het geen impak op haar lewe gehad nie
  4. Sy weet nie was sy gaan kry as sy my opspoor nie
  5. Sy wil nie haar lewe ontwrig hê nie

Wil ek hê sy moet my opspoor?  Ja!

Gaan dit my hart breek as sy my nie wil opspoor nie?  Nee!

Die eenvoudige feit is dat aanneemkinders eintlik die beste ‘deal’ kry en dat almal daarmee moet vrede maak.

Die aangenome kind moet aanvaar dat hy/sy ‘n kans gegun is om ‘n beter lewe te hê.  Die aangenome kind moet afsien van die idee dat hy/sy weggegooi was, want dit is nie waar nie.  Daar is ‘n besluit geneem om die baba te bevoordeel omdat die ma a.g.v. omstandighede NIE vir die baba kon sorg NIE!  Die aangenome kind moet besef dat dit juis oor onselfsugtige liefde gedoen is en nie oor hy/sy nie liefgehad was nie.

Die aanneemouers moet besef dat hulle ‘n geskenk gekry het wat met geen ander geskenk op aarde vergelyk kan word nie.  Maak die kindjie groot soos wat jy jou eie kind sou grootmaak.  Sorg dat die kind van vroeg in sy lewe weet dat hy aangeneem is.  Hou sy biologiese ma se kroon op haar kop.  Moet haar onder geen omstandighede sleg maak nie, want eendag, gaan daardie kind sy ma wil opspoor en die kanse is groot dat jy met eier op jou gesig gaan staan.  Onthou dat wanneer ‘n kind sy biologiese ouers wil opspoor, dit nie uit ondankbaarheid is nie.  Dit is meer ‘n gevoel van ‘ek wil weet’.

Die ma wat die baba opgee vir aanneming moet vrede maak met haar besluit.  Jy hoef nie jouself te vergewe nie, want jy het niks verkeerd gedoen nie, inteendeel!  Jy het iets goed gedoen.  Leef jou lewe sodat, as jou seun/dogter jou eendag wil opsoek, jy met trots voor hom/haar kan staan en nie jou kop in skaamte hoef te laat sak nie.

Advertisements

16 comments on “Oor Aanneming:

  1. Ek onthou ek het daardie tyd gevra jy moet asb hierdie storie vir ‘n tydskrif stuur, en nou vra ek nie, ek dring aan. Jy kan soveel mense help! Hierdie is so mooi uiteengesit.
    XXX

    Like

  2. Dit is ‘n baie interessante skrywe. Ek het al met baie mense te doen gehad wat aangeneem is. Ek het ook al met baie mense te doen gehad wat babas vir aanneming opgegee het. Dit is egter die eerste keer wat ek iemand aan altwee kante sien. Dit spreek nogal boekdele dat iemand wat self daardeur was, kans gesien het om ‘n baba op te gee.

    Like

  3. Mens moet met jou hart gaan. As jy voel om iets te doen, doen dit so gou af moontlik. Snaaks hoe dikwels mens later spyt kry as jy iets wou doen en te lank uitgestel het.

    Like

  4. Maryke, baie dingetjies wat jy genoem het is baie waar. Tog dink ek dat jy aaneeming vanaf die biologiese ma se kant af laat klink soos n beursie wat mens verloor, n rukkie oor tob en dan daarvan vergeet. Ek hoop regtig nie dat my biologiese ma dieselfde as jy voel nie. Ek sou haar baie graag wou ontmoet, nie om haar tye verwyt nie maar om vir haar dankie te se. sy was onselfsugtig genoeg om my n beter lewe te gun. Tog dink en hoop ek dat ek dikwels in haar gedagtes is soos sy in myne. – Jvonne

    Like

    • Jvonne, mens wil graag glo dat die biologiese mamma elke dag en elke oomblik dink aan die babatjie wat sy moes weggee, maar helaas is daardie pyn te erg om elke dag oor en oor te beleef. Ek het nooit my dogter vergeet nie, en elke keer wat ek wel aan haar gedink het, was die pyn so intens dat ek gewens het dat ek dit wel kan vergeet. Die lewe het ‘n wrede manier om aan te gaan, al wil mens partykeer net stilstaan op een oomblik om net ‘n rukkie langer te vertoef by jou geliefde baba, maar daar is geen wag, simpatie of empatie nie. Elke biologiese mamma verwerk die pyn op haar eie unike manier, ek het probeer vergeet ander vrouens weer dink daagliks daaraan – hulle is beslis sterker as ek. My lewensdoel was om te probeer om ‘n sukses van my lewe te maak sodat sy haar nie hoef te skaam vir my nie en eendag trots op my kan wees. Ek het intussen vir haar ontmoet en elke keer as ek haar sien, krap dit elke keer die ou wonde oop, maar gelukkig nou, is die pyn sagter en die tyd wat sy vir my gun gevul met geluk en vreugde. Sy het haar ma, pa en familie en ek kan nooit haar ma wees nie. Ek kan net dankbaar wees vir elke tydtjie wat sy vir my gee, niks meer nie en niks minder nie. Ek bid dat jy jou biologiese ma eendag sal ontmoet en dat dit jou mooiste drome sal oortref, en ek glo dat sy, net soos ek, eindelik vrede kan kry oor haar besluit wat sy moes neem. Baie sterkte.

      Like

Los jou mening ...

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s