Ja, mens is besig met jou alledaagse bestaan en dan kom iets uit die bloute en klap mens se voete sommer so onder jou uit. So vinnig dat jy daarna dink, “Het dit werklik gebeur?”
Gister met Vadersdag het ons ‘n familie byeenkoms in die kleine gehad, omdat al die kinders nie daar kon wees nie. Ons het so lekker gesels en grappe gemaak en ek het gedink hoe geseënd ek is om deel van hierdie wonderlike familie te wees. En glo my, hulle is wonderlik, partykeer vreemd, meestal luidrugtig maar oor die algemeen seker die spesiaalste mense op die planeet.
My ‘deelword’ van hierdie familie het gebeur toe ek agt maande oud was en deur hulle aangeneem was. Van my rebelse tienerjare het ek altyd gewik en geweeg of ek my ma moet opspoor of nie. Dan het ek sporadies voelers uitgesteek, maar altyd dit maar weer in die agterkop geskuif. So, meer as ‘n jaar gelede het ek – met die hulp van ‘n Facebook vriendin – ‘n advertensie in die ‘ek soek’ van die huisgenoot geplaas. Ek het geen terugvoer gekry nie en maar daarvan vergeet (maar altyd daar gaan loer of daar nie ‘n antwoord was of iemand wat na my soek nie).
Ek het ook op Facebook genoem dat ek my ma soek en gisteraand, na ons van die familie byeenkoms gekom het – kry ek ‘n boodskap. Ek is jou ma se suster, kontak my met haar nommer.
Ek het toe vir haar ‘n sms gestuur en kort voor lank het sy my teruggeskakel. Ek moes toe ontdek dat my ma deel was van ‘n gesin met ses kinders en dat die dame wat my gekontak het die enigste een is wat nog lewe. My biologiese ma is 14 jaar gelede oorlede! Maar ek het nog broers en susters. Voeg hulle by die wat ek reeds het, dan het ek in totaal 10 broers en susters. Kan een mens nou so geseënd wees?!
Die dame wat my gekontak het is nie seker of my biologiese broers en susters weet van my nie, so nou begin die lang wag om te hoor of hulle my wil ontmoet of nie. Ek is bang en opgewonde, alles in een!
Maryke! Mens is seker van jou voete af geskok as jy skielik so boodskap kry!
Jy vertel my Maankind! Veral as dit die laaste ding is wat jy verwag
Ek het ook na my pa se dood uitgevind van ‘n suster waarvan ek nie geweet het nie. Dit was eers ‘n groot skok, maar is vandag ‘n seën.
Ek hoop dit gaan vir my ook ‘n seën wees.
Ek het al ‘n paar keer gewik en weeg om jou te vra of jy toe ooit jou biologiese ma opgespoor het. Maar het gedink dit sou te intrusive van my wees om jou te vra. Ek weet hoe bitter lief jy vir jou grootmaak-ma was, maar hierdie nuwe inligting gaan jou voltooi op maniere wat dalk nie dadelik gaan sigbaar wees nie. Maar dit gaan doen. Ek is jammer dat jy nooit die kans sal hê om haar nou te ontmoet nie, maar aan die anderkant is ek bly al jou vrae kan nou beantwoord word.xx
Ek het so baie keer oorweeg en dan altyd gedink ek sal dit doen as my aannemma nie meer met my is nie. Dit het net nie vir my reg gevoel nie. Ja, ek sal my biologiese ma nou nooit ken nie, maar daar is seker ‘n doel daaragter, maar miskien wil die ander my wel ontmoet, dan kan ek meer leer van hulle. Ek sal vanaand meer weet. Ek hoop net ek sal kan vrede maak daarmee as hulle my nie wil ontmoet nie.
Vat dit dag vir dag. Kontak vir kontak.
Ek dink ook so. Ek het my pa gevra om haar te kontak om eers seker te maak dat sy wel legit is.
Wow Maryke! Dit is regtig ‘n ongelooflike ding wat hier aan die gebeur is.
My sussie het in 2009 besluit om haar biologiese ma te soek, en in die proses het sy my ook bygekry.
Alle aanneem stories eindig nie altyd mooi nie, en ek hoop werklik vir jou dat jy gaan kry wat jy soek uit hierdie volgende fase van jou lewe.
My sussie se ouers het haar ondersteun in haar soeke na my (ons) ma, en hulle sal altyd haar ouers wees.
My ma se die ander dag vir my “ek hoop ek en *sussie* kan ook eendag so ‘n ma dogter verhouding he soos ek en jy”… dit was vir my moeilik om die een te wees wat vir haar moet verduidelik dat dit nooit so sal wees nie, my sussie het ‘n ma, al vir haar hele lewe lank, maar, sy het nou ‘n biologiese ma, en ‘n vriendin bygekry.
Dit is ‘n baie spesiale tyd hierdie. Ek wens vir jou net die mooiste toe!
Baie dankie Jeanne! Ek is aan die een kant so bang, maar aan die anderkant doodnuuskierig en opgewonde. Net tyd sal leer of dit ‘n goeie of slegte ding gaan wees.
My beste maat, van Sub A af, is ‘n aangenome kind. Toe sy uiteindelik haar biologiese ma opspoor, moes sy uitvind dat sy die laaste paar jaar skaars 5 km van haar af gewoon het, maar dat sy toe net drie weke gelede oorlede is. Gelukkig het sy ook haar halfbroer opgespoor en dit was vir haar ook ‘n groot seën en troos.
Sterkte met dit wat voorlê.
Sjoe, dit moes ‘n vreeslike teleurstelling vir haar gewees het. Ek hoop maar dat my broers en susters my sal wil ontmoet.
Sjoe!!! 10? Ek hoop vir jou part dat hulle wel ‘n seën en nie ‘n vloek is nie.
Ongelukkig sal jy hulle eers moet leer ken om dit te kan vergewis.
Baie sterkte
Gelukkig is ek gewoond aan baie broers en susters. Het grootgeword in ‘n huis met sewe kinders – definitief ‘n seën
Ek wag maar om te hoor of hulle my wil ontmoet.
Pingback: Aanneem kinders « Zee Se Scribbles
Net tyd sal leer wat die antwoorde sal wees.
Dit is wonderlik, Maryke. Mag alles ten goede uitwerk en mag daar nog vele vreugdes voorlê.
Dankie. Ek hoop dit werk uit. Mens weet nooit!
Sterkte. Ek hoop dit sal goed gaan. Hulle sal darem jou (half) broers of susters wees. Dalk verras julle mekaar.
Solank dit net goeie verrassings is
Ek is nou skoon hoendervleis!
Ek het net so gevoel toe ek die boodskap kry. So onwerklik eintlik en heeltemal onverwags.